Ewie Cronje – Onbesonge held en mentor van vele

ewie-cronje-en-san-marie

Ewie Cronje en sy vrou San-Marie. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Die wêreld onthou hom as Hansie Cronje se pa. Onse Hansie wat gekruisig is nadat hy niksvermoedend in die kloue van ’n onderduimse Indiër-weddenskapsindikaat ingesuig is; en gedoen het wat die Mark Waughs en Shane Warnes (1) van hierdie wêreld as heeltemal alledaags sou beskou. Maar ek sal Ewie Cronje altyd onthou as die toonbeeld van toewyding aan sport, wat sy alles gegee het vir sportmanne en -vroue en wat elke individu met wie hy te doen gekry het, se lewe onherroeplik geraak het.

Ek het “oom Ewie” die eerste keer ontmoet toe ek en Sam Lubbe op die een of ander missie na sy kantoor op die kampus moes gaan. Teen die gange van daardie administratiewe heiligdom waar Ewie Cronje sy hande afgewerk het vir sport aan die Universiteit van die Vrystaat, het die foto’s van ons sporthelde gepryk. Van Shimla-spanne en Kovsies wat op alle gebiede hul Vrystaat- en Springbokkleure behaal het.

Oom Ewie se kantoor was gewoonlik toe onder die papierwerk. Dit was eenvoudig ’n reusetaak om sport in al sy fasette aan die universiteit te organiseer. En hy het dit feitlik manalleen gedoen sonder die hulp van rekenaars en selfone. Sy posbeskrywing as sportadministrateur het gestrek van eerstejaarsatletiek, swemgalas, koshuisrugby, die reël van gassprekers en toere tot die evaluering van sportbeurse.

Geen ander mens sou kon vermag het wat Nicolaas Everhardus Cronje verrig het nie. En geen ander mens sou ook ooit so ’n taak met soveel lojaliteit aan sy inrigting en totale toewyding kon aanpak soos hierdie boorling van Bethulie nie. Vra menige Vrystaatse sportster van die sewentigs wie sy of haar mentor was, en die naam Ewie Cronje word met groot ontsag genoem.

As rou eerstejaars is ons ’n boekie in die hande gestop met die naam van Every Fellow. Daarin was al ons rasieliedjies wat ons moes memoriseer. Eers later kom ek agter dit was oom Ewie, wat in sy studentejare Kovsies se rasieleier was, se geesteskind. Daar het jong mense van verskillende agtergronde en van oor die hele Suid-Afrika en Suidwes-Afrika aan die UV kom swot. Dit was geen geringe taak om hierdie bont spulletjie tot een kohesie te integreer nie. En Ewie Cronje het dit met algehele oorgawe gedoen – deur sport.

Op sportgebied was Ewie Cronje die spil waarom alles gedraai het. Cronje kon ’n talentvolle sportman of -vrou (of dit nou rugby, krieket of atletiek was), onmiddellik identifiseer. By die Primêre Skool Grey Kollege sien hy ’n jeugdige Kepler Wessels raak en vestig Johan Volsteedt (hoof van die Sekondêre Skool) se aandag op die seun se uitsonderlike talent. Wessels word later een van die heel grotes in wêreldkrieket en verteenwoordig Australië en Suid-Afrika – laasgenoemde as kaptein.

Cronje werk ook nou saam met die legendariese Kaai Preller en kanaliseer elke atleet wat hy met sy kennersoog as ’n moontlike wenner beskou, na Kaai. Onder Kaai was daar in my tyd groot name soos Handré van der Walt – Afrika-paalspring-rekordhouer – en Hennie Pretorius – nasionale verspringkampioen. Sarina Mostert, middelafstand-atletiekkoningin, en Zola Budd se name word later by die steeds groeiende lys van uitskieters gevoeg.

Ewie het ’n geheue soos ’n moderne rekenaar gehad en kon name, telefoonnommers en detail in die fynste besonderhede onthou soos Tom Ferreira, later verbonde aan die UV se skakelburo, kan getuig. Hy het ’n slag met mense gehad soos Hansie ook later bewys het. Hy kon inspireer, motiveer en wérk. Hy het maklik vyf mense se werk op die mees onbaatsugtige manier in Bloemfontein, die Vrystaat en die hele Suid-Afrika verrig. Agter die skerms het hy, byvoorbeeld, soos ‘n Trojaan gewerk om Nieu-Seeland se sterkste spanne na Suid-Afrika te laat kom (2).

Ek en ’n paar ander “seniors” het die eer gehad om te kon hand bysit met byeenkomste wat die meeste ander sterflinge logistieke nagmerries sou besorg. Ek kon toe al sien dat Ewie Cronje nie net ’n uitgeknipte leier is nie, maar dat hy die kuns bemeester het om die mees skrikwekkende organisatoriese uitdagings in ’n oogwink te snap. Hy kon delegeer en raakvat. Onder sy inspirasie speel ons krieket vir die UV en dit word later vir my duidelik van watter gene Hansie se onbetwiste leierskapvermoëns vandaan gekom het.

Frans (Ewie en San-Marie se oudste seun) speel SA Skole rugby en krieket – een van slegs elf wat met hierdie prestasie kan spog – en haak vir Vrystaat. Hy speel ook senior provinsiale krieket. As rolprentmaker maak hy ’n groot impak.

En Hansie? Tot vandag toe die held van miljoene? Hansie is gekruisig (3), maar nooit in my lewe sal ek my laat vertel dat ’n seun van Ewie Cronje óóit op ’n sportveld sou gegaan het met die doel om moedswillig ’n wedstryd te verloor nie.

Ewie Cronje word in Augustus vanjaar 80. Hy verteenwoordig sy provinsie op die tennisbaan en op die krieketveld voer Vrystaat aan teen die besoekende Aussies.

Op nasionale vlak kry hy einde ten laaste die erkenning wat hy volkome verdien, toe die gesogte Khaya Majola-prys vir Lewensbydrae in 2012 aan hom toegeken word. Só word daar hulde gebring aan Ewie Cronje vir die feit dat hy oor ’n verstommende 60 jaar krieket in die Vrystaat op alle vlakke opgebou het tot die krag wat die bond vandag is.

Hierdie merkwaardige man wat die medestigter van Vrystaatkrieket is, is nie net ’n sportreus nie, maar ’n mens uit een stuk.

  • Pierre Massyn is ’n navorser en skrywer van Springbok Rugby-Vasvra.

Voetnote:

  1. Australiese krieketspelers. Hulle is slegs in die geheim deur die Australiese Krieketraad beboet. Manoj Prabhakar van Indië is vir vyf jaar uit krieket verban en Saleem Malik van Pakistan lewenslank.
  2. Hierdie toere het in ’n groot mate die weg gebaan vir die besoek van die 1976-All Blacks aan Suid-Afrika. Andy Leslie, wat in 1974 as kaptein vir Petone teen die Shimlas op Pelliespark gespeel het, voer die All Blacks in 1976 aan – en hulle verloor teen die Vrystaat!
  3. Hansie Cronje is voor die King-kommissie van ondersoek na knoeiery in Suid-Afrikaanse krieket deur die huidige Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Shamila Batohi, verneder. Later erken medekrieketspelers Henry Williams en Herschelle Gibbs-hulle het in hul getuienis gelieg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan ·

Ek het Oom Ewie persoonlik ontmoet, en wat n wonderlike mens. En Hansie is my held.

Gerhard ·

Mark Waugh en Shane Warne was nooit betrokke by wedstrydknoeiery nie.

Johan ·

Waugh & Warne is in die middel 90’s beide beboet vir betrokkenheid met weddenskapsindikate…n blote raps op die vingers

Johan ·

Dankie vir die artikel, Pierre. Het ‘n hele paar keer saam met oom Ewie krieket oefening toe gery en kan net beaam wat jy hier bo geskryf het oor die oom!

Stephan de S ·

Was in begin sewentigs in Stadshuis en onthou goed hoe EWIE my n” lift” gegee het in sy diesel Mercedes vanaf die Piesang tot by Donald Murraylaan……n kinderbedjie het nog op agterbank gestaan. Hy het my as totaal onbekende studentjie opgelaai en vriendelik gesels. Vandag is n geleentheid om aan hom behoorlik erkenning te gee. Hy het n groot voetspoor getrap op Kovsies. Mag daar nog goeie jare voorlê.

Naas ·

Hansie is deur die kabaal geteiken. Hulle wou nie ‘n Afrikaner as nasionale krieketkaptein gehad het nie en het hom met alle mag geteiken .

pb ·

“Onse Hansie wat gekruisig is…wat niksvermoedend ingesuig is…”…wow!!! Veridealisering van n rampokker man. As hy vandag geleef het was hy gelykstaande aan enige van die Zondo kliente. Dis tyd dat ons oogklappe afkom en bedrog veroordeel vir wat dit is…van Gupta tot Cronje. EK ken nie vir Ewie nie…lyk na n goeie ou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.