FAK se teenvoeter vir wanvoorstellings van Afrikanergeskiedenis

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Dawie du Plessis het ʼn verslag vir die FAK se NP van Wyk Louw-sentrum opgestel oor die “leuens, foute en wanvoorstellings” wat in die gr. 4 tot 12-kurrikulum oor die Afrikanergeskiedenis vervat is. Du Plessis het ʼn opsomming van die verslag aan Maroela Media verskaf en ook verduidelik wat lesers en die FAK tans doen om dit reg te stel.

Inleiding

Die verslag handel oor die geskiedenis wat Afrikanerkinders van graad 4 tot 12 in Suid-Afrikaanse skole geleer word. In die tydperk van graad 4 tot 9 voltooi leerlinge die vak sosiale wetenskappe,wat uit twee komponente bestaan, te wete geografie (aardrykskunde) en geskiedenis. Hierdie twee komponente verdien eweveel aandag en ruimte in die handboeke. Vir leerlinge in graad 10 tot 12 is geskiedenis ’n keusevak. Twee opmerkings moet hier gemaak word. Die eerste is dat vir ’n senior leerling wat geskiedenis as keusevak neem, hy of sy slegs te make sal hê met dit wat in die kurrikulum voorkom. Wanneer na die aard en inhoud van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in hierdie kurrikulum gekyk word, wek dit rede tot kommer. Die tweede is dat elke leerling van graad 4 tot 9 nie (soos ’n senior leerling) slegs aan ’n sekere soort geskiedenis blootgestel word nie, maar dat sodanige blootstelling vir die junior kinders verpligtend is. In graad 9 het die leerling dan geen ander keuse as om ’n beknopte weergawe van die graad 11- en 12-leerplan te moet voltooi nie.

Hoewel die skool of onderwyser ’n keuse het oor welke handboeke deur ’n bepaalde jaargroep gebruik gaan word, is die verskeidenheid tot hul beskikking ’n karige een – ten spyte van die relatiewe lang lys titels. Elke handboek is altyd deur meer as twee outeurs geskryf, in sommige gevalle soveel as sewe. Soms het een outeur meegewerk aan meer as een handboek in dieselfde graad. Die mate waarin die onderskeie handboeke vir dieselfde graad verskil, is egter weglaatbaar klein. Te verstane is die kurrikulum vooraf vasgestel en die temas daarin gedek ooreenstemmend, al is die volgorde in die inhoud soms wisselend. In al die onderskeie handboeke word selfs inligtingsblokkies oor bepaalde persone en gevallestudies van handboek tot handboek herhaal. Dit is onmoontlik om ’n spesifieke handboek (of handboekreeks) te identifiseer as uitstaande bo die res, en terselfdertyd ook onmoontlik om een summier af te skryf. Die mate waarin die onderskeie boeke ooreenstem sal die waarnemer opreg laat wonder waarom daar inderdaad dan soveel verskillende handboeke beskikbaar is. Die enigste gevolgtrekking is dat dit ’n poging is om die skyn van objektiwiteit en die veelheid van standpunte te verwek.

’n Bepaalde narratief

Wat duidelik uit die bestudering van die kurrikulum blyk is dat ’n bepaalde narratief geskets word. Die verhaal is dié van ’n Afrika met talle “beskawings” waar ingewikkelde samelewings oor “gevorderde tegnologie” beskik het. Vrede en harmonie het aan die suidpunt van die vasteland geheers, maar dit is met die koms van Nederlanders onder leiding van Jan van Riebeeck onomwonde vernietig. Hierdie Nederlandse koloniste het die San- en Khoi-volkere (wat egter telkens as nomade beskryf word) se grond en vee met geweld afgeneem, en later dan ook hierdie mense gedwing om hul (die Nederlanders se) werkers te word. Klaarblyklik het die Nederlandse grondbesetting ook daartoe gelei dat die ganse Khoi-bevolking amper uitgewis is. Op talle plekke in die handboeke word daar vertel dat betroubare bronne wat bewaar gebly het (geskrifte, skilderye en tekeninge) bloot subjektief is, dat dit slegs die Europese “beskouing” van gebeure uitbeeld, of doelbewus geskakeerd is. Soos die VOC-amptenare het die latere nomadiese trekboere en hul opvolgers, die Voortrekkers van die Groot Trek, as’t ware net geroof en geplunder. Hoewel die Voortrekkers die Britse juk wou afgooi, het hulle volgens die skoolhandboeke slegs reeds besette grond met geweld afgeneem, en boonop slawerny in die binneland voortgesit. Ook ná die vestiging van die Boererepublieke is die Afrikaners se sug na grond nie versadig nie, soos te sien in die relaas oor hul aanval op Sekhukhune ten einde die Pedi’s se goudvelde te neem.

Die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902) is in die volksmond ook bekend as die Engelse Oorlog of die Driejarige Oorlog – ’n meer objektiewe beskrywing daarvan is die alombekende benaming Anglo-Boereoorlog, deurdat die strydende partye sodoende op neutrale wyse in die benaming betrek word. In die geskiedenishandboeke word hierdie oorlog voortdurend beskryf as die Suid-Afrikaanse Oorlog. Die ironie is dat “Suid-Afrika” ten tyde van die oorlog nog nie eens as entiteit bestaan het nie. Hierdie benaming water die Afrikaner se grootste vryheidstryd af tot ’n blote deel in ’n groter geheel – ’n rol in ’n stuk wat deur almal en alles in “Suid-Afrika” vertolk is. Aansluitend hierby is dat die opdrag wat die leerling aan die einde van die afdeling oor die oorlog moet voltooi, uitsluitlik fokus op die rol van swartmense in die oorlog. Die enigste (terloopse) verwysing na die Rebellie van 1914 word gevind in ’n bespreking van eerste minister Louis Botha se beleid ter steun van die Britse oorlogspoging, waar hy net “weerstand deur die Boere by die huis” gekry het. Dit verteenwoordig die ganse dekking van die Rebellie in ’n kind se hele skoolloopbaan.

Die Afrikanernasionalisme wat in die twintigste eeu begin bloei het, word gekoppel aan “die begrip van ’n denkbeeldige gemeenskap”, en die insinuasie is dat die Afrikanervolk se identiteit geskep en gemanipuleer is. Die Afrikaner se herrysing uit die asse ná afloop van rampe soos die Tweede Vryheidsoorlog, die Rebellie en die Groot Depressie word in die skoolhandboeke toegeskryf aan “regstellende aksie” wat deur Afrikaner-bewindhebbers toegepas is. Selfdoen-aksies en -dade deur Afrikaners (soos die Helpmekaar, die Reddingsdaadbond, en instansies soos Sanlam, Santam en Volkskas) word summier verswyg. Hierdie “denkbeeldige gemeenskap” sou dus by wyse van “regstellende aksie” volkome beheer oor die staat verkry.

Vanaf graad 11 word leerlinge in die gedeeltes oor plaaslike geskiedenis slegs gekonfronteer met die protes-, burgerregte- en swartmagbewegings wat sou lei tot die totstandkoming van die hedendaagse Suid-Afrikaanse staat. In hierdie afdelings leer die skolier van etlike belangrike figure, “martelare” en “helde” gekoppel aan hierdie stryd. Reeds in graad 4-handboeke word Nelson Mandela uitgebeeld as ’n vreedsame, vredeliewende en beginselvaste persoon wat bloot vanweë sy droom vir ’n idilliese Suid-Afrika tronk toe gestuur is. Daar word benadruk dat Mandela en Kie. nie kriminele was nie, maar in die gevangenis was “vanweë dit wat hulle geglo het reg was”. Sou ’n onpartydige en objektiewe handboek nie ook melding maak van sy geweldpleging en terreurdade (ook op burgerlikes) nie? Veral in graad 6 word aan die leerlinge voorgehou dat baie onskuldige mense lukraak in hegtenis geneem, en dan maklik “gemartel” of “selfs doodgemaak” is. Daar word ook reguit vertel dat diegene met ’n gewetensbeswaar teen die beleid nie die geleentheid gegun is om hulself in ’n hof te verdedig nie. As aangeklaagdes nie hulself in die hof kon verdedig nie, soos die handboek betoog, hoe het Nelson Mandela dan daarin geslaag om ’n toespraak van drie ure in die beskuldigdebank te lewer? Voorts, hoe het dit dan enkele jare tevore gebeur het dat die aangeklaagdes in die hoogverraadverhoor van 1961 onskuldig bevind en vrygelaat is?

Deur die loop van die verslag word dosyne growwe leuens, foute, wanvoorstellings, en verwronge wyses van aanbieding uitgelig, wat wissel van die onegtheid van die traktaat tussen Piet Retief en Dingane, tot gewapende swartes wat aan Boerekant in die Tweede Vryheidsoorlog geveg het. Uiteraard kan selfs ’n beperkte aantal van sulke foute nie in ’n samevatting soos hierdie gelys word nie.

Hoe kan ons dit regstel?

Die wyse waarop Afrikanergeskiedenis in Suid-Afrikaanse skoolhandboeke uitgebeeld word staan by uitstek in die teken van kulturele imperialisme, en die doel hiervan is duidelik – Afrikaners se historiese selfbeeld, kulturele selfvertroue en trots moet vernietig word. Dit kom in wese neer op kulturele moord. Juis daarom moet elke leerling, ouers en die breë gemeenskap kennis dra van die feitelike onjuisthede en die wanvertolking van ons Afrikanergeskiedenis.  Want die gebrek aan historiese kennis ontmagtig Afrikaners om deel te neem aan die ideële debatte van ons tyd. Boonop noop die kennismaking met sodanige soort propaganda ons om eietydse antwoorde daarop te ontwikkel.

Maar moet daar gepoog word om die leerplanne van die staat reg te stel? Is so ’n doelwit enigsins haalbaar? In die vorige bedeling is Afrikanergeskiedenis vanuit die perspektief van die staat aangebied. Afrikanergeskiedenis het toe gefokus op groot volksgebeure, veldslae, militêre en nasionale volksleiers – alles goed wat fokus op die staat as uitgangspunt. In dié proses het die fokus van die geskiedskrywing nie op die gemeenskap self, soos die verhale van gemeenskapsleiers, kerkleiers, ekonomiese leiers, onderwysleiers, kultuurleiers, skrywers, digters, ensovoorts, geval nie. In ’n era waar die Afrikaners juis die slagoffers van ’n staatsgesentreerde benadering tot geskiedenisonderrig is, is dit des te meer belangrik dat ’n gemeenskapsbenadering gevolg word. Vandag rus die verantwoordelikheid op die skouers van oupas en oumas, pa’s en ma’s om geskiedenis vir hulle kinders te laat leef. Die verantwoordelikheid om die geskiedenis oor te dra, rus vandag op die Afrikanergemeenskap self.

Die FAK is voorstanders van só ’n hermeneutiese skuif weg van staatsgesentreerde geskiedskrywing na gemeenskapsgeskiedskrywing. Kultuurgemeenskappe moet eienaarskap vir hulle eie geskiedenis neem. Vanuit hierdie invalshoek word geskiedenis persoonlik vertolk aan die hand van die gesin, familie, die taal-, kultuur- en gemeenskapsleier, en die organisasie se verhouding tot groot historiese gebeure. Deur ’n persoonlike benadering word die menslike kant van Afrikanergeskiedenis bevestig, teenoor die ontmensliking daarvan deur die staatsideologie. Dit skep ’n geleentheid vir historiese regstellings en die neem van eienaarskap.

Die FAK is reeds besig met ’n verskeidenheid aksies vir die bevordering van Afrikanergeskiedenis:

  • Die FAK het die heel eerste Internetmuseum vir Afrikanergeskiedenis ontwikkel om gesinne en families by te staan met hulle verantwoordelikheid van geskiedenisoordrag. Afrikanergeskiedenis is nou toeganklik in elke huishouding en klaskamer en op elke tablet en slimfoon.
  • Afrikanerorganisasies kan ook hulle trotse geskiedenis op die internetmuseum vertel.
  • Kultuurhistoriese bydraes vir “Kultuurkroniek” word ontwikkel deur die erfenisjoernalis Marthinus van Bart.
  • Die FAK ontwikkel met behulp van ’n vakadviseur lesplanne vir Afrikanergeskiedenis wat aanvullend tot skoolkurrikulums gebruik kan word. Dit word gratis op die internetmuseum gepubliseer.
  • Die FAK is besig om ’n omvattende databasis met biografiese profiele te ontwikkel van Afrikaners wat op vele lewensterreine presteer het en steeds presteer.
  • Die FAK gee ook erkenning aan jongmense se bydrae tot geskiedenisontwikkeling deur top-geskiedenistake op die webwerf te publiseer.
  • Die Afrikaanse Skole-Ekspo bied jaarliks ’n geskiedeniskompetisie aan om geskiedenis te bevorder.
  • Die FAK bied in samewerking met ’n reisagentskap ’n Westerse geskiedenistoer aan na Nederland, Duitsland, Frankryk en Switserland vir skoolgroepe en ’n Oorsprong na Afrikaanstoer na Nederland, België en Frankryk.
  • Die FAK bied vanaf 2016 binnelandse toere vir skoolgroepe aan na Groot Trek- en Anglo-Boereoorlog- historiese terreine.
  • Vakspesifieke seminare deur verskeie historici word van 2016 landwyd vir geskiedenisonderwysers aangebied.
  • Die FAK ontwikkel ’n historiese plakkaatreeks oor Afrikanergeskiedenis wat onderwysers in hulle klaskamer kan opsit.
  • Die FAK ontsluit sy reuse fotoversameling van Afrikanergeskiedenis om dit toeganklik te maak op sosiale media en in die internetmuseum.
  • Die FAK is besig met ’n omvattende projek om die FAK-argief toeganklik te maak vir navorsers. Die FAK-argiewe bevat ’n omvattende versameling van meer as 80 jaar se Afrikanergeskiedenis.
  • Die FAK werk reeds saam met verskeie Afrikanergemeenskappe wat self verantwoordelikheid vir die bewaring van kultuurbakens in hulle omgewing neem.
  • Die FAK ontwikkel met behulp van kundiges ’n Praktiese handleiding vir erfenisbewaring in gemeenskappe.
  • Die FAK bied later vanjaar ’n beraad vir Geloftekomitees en gemeenskapsorganisasies aan om samewerking beter te koördineer ten einde Afrikanergeskiedenis op elke dorp te bevorder.
  • Die FAK neem die historiese Afrikaanse lied in beskerming deur binnekort in samewerking met die gewilde groep Beeskraal ’n Volk-en-vaderland CD te laat verskyn.
  • Die FAK is in samewerking met verskeie kunstenaars besig om Anglo-Boereoorlog-gedigte en -liedere te verwerk in ’n kunstefeesproduksie en later ’n CD.
  • Deur middel van die NP van Wyk Louw-sentrum hou die FAK Afrikaners se historiese dagboek en kultuuralmanak op datum.
  • Die NP van Wyk Louw-sentrum publiseer jaarliks verskeie publikasies wat verband hou met historiese en kulturele herdenkingsgeleenthede.

Klik hier om die volledige verslag en die FAK se doenplan te lees. Lees ‘n vorige berig oor die verslag hier op Maroela Media.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Karmenaadjies, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Mary Sadler ·

Dit is sonder twyfel ‘n goeie ding wat die FAK beoog, solank dit net nie weer tot polarisasie lei nie. Waarvoor ek my sou beywer as ek in enige posisie was om dit te doen, sou wees om geskiedenis as skoolvak af te skaf. Dan kan die verskillende kultuurorganisasies en dié wat daarin belangstel, saamspan om ‘n gebalanseerde geheelbeeld van die land se geskiedenis te skep. Ons moet immers hoofsaaklik eerder na die toekoms as na die verlede kyk?

Sharon Anderson ·

En so sal al die kinders gebrein spoel word. Ouers staan nou op doen NOU iets daar omtrent Dawie Du Plessis publiseer ‘n boek met die korrekte feite en versprei dit onder die Afrikaanse skole want meeste van die ouers weet nie meer wat is ns geskiedenis nie. Die kinders wat na 1994 gebore is is al reedes verkeerd geleer in meeste staats en privaat skole hulle word nie meer reg geleer ons moet ons self weer opskerp met die regte stories en ons kinders reg leer. Die is propoganda op sy beste!

Behoed ons kinders! As ons nie na hulle gaan omsien nie gaan ons niks oorhê nie!

Martin ·

Ek stem saam dat ons moet aksie neem. ‘n Volk wat nie sy geskiedenis ken nie, kan nie leer uit hul voorvaders se foute nie en kan nie voortbestaan nie. Ons moet ons kinders leer waar die Afrikaner vandaan kom. Ons moet hulle leer dat ons ook moes veg (en soms verloor) om die grond te kry wat ons op gewerk het om ‘n land te voed en ‘n volk te bou. Ek sê glad nie dat die Afrikaners is engeltjies nie want ons het ook maar foute gemaak. Ek dink egter net dat om te sê iemand soos Mandela was “onskuldig” toe hy tronk toe gestuur is, is absoluut snert! Hy het ook maar baie onskuldige mense na hul grafte gestuur in aanvalle en vandag maak die wêreld van hom ‘n afgod (om een voorbeeld te noem). As ons net stil bly gaan ons Afrikaners verdwyn en ons gaan ‘n volk wees wat nie weet waar hulle vandaan kom nie. Ons het so ‘n pragtige geskiedenis, ons moet dit vir nie net laat vergaan nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.