Om hare af te skeer is dalk vir die manlike geslag so maklik soos een, twee, drie, maar vir die skoner geslag is hare half heilig en word dit gebruik om ʼn vrou se voorkoms te voltooi.
Wanneer kanker inbreuk maak op ʼn mens se lewe, moet baie vroue hul haredos prysgee in die stryd en die hoop om gesond te word. Dikwels is hierdie ook ʼn eensame pad wat vroue moet stap, omdat familie en vriende nie altyd verstaan waarmee hulle worstel nie.
Dit was egter nie die geval vir Elsa Smith, ʼn boervrou van Upington, nie. Toe Smith in September met borskanker gediagnoseer is, het sy onmiddellik met behandeling begin. Ná haar tweede chemoterapie-behandeling het haar lang, vloeiende grys hare plek-plek begin uitval. Sy het dit kort daarna korter gesny. Met die volgende behandeling chemoterapie het haar hare nog verder begin uitval en het sy besluit om al haar hare af te skeer.
Op 14 Oktober om 15:30 sit Smith in ʼn haarkapper se stoel, gereed vir die knipper wat binnekort die laaste van haar lang hare gaan afsny, maar sy is nie alleen nie. Smith se susters en hulle dogters sit saam, half opgewonde, half benoud om hul hare laat waai.
“Ek het hartseer gevoel oor die hoop los hare op die vloer, maar bitter min daarvan was myne. Die klomp wat daar was, het dit so maklik gemaak, van die haarkapster en haar familie tot die susters en die niggies. Dit was so ʼn lag met ʼn traan,” sê Smith.
Die haarkapper het die sny-sessie verniet gedoen.
Verder sê Smith dat hare wat uitval ʼn gegewe is vir elke chemoterapiepasiënt. “Die ondersteuning maak dit makliker. Elke mens ondersteun op sy besondere manier. Elke manier sien ek raak en waardeer dit. Die hand van ons Vader is oral sigbaar op die pad wat ek moet loop. Dis ongelooflik hoe Hy die pad vir ʼn mens makliker maak,” sê Smith.
Elana Barker, Smith se dogter wat self nou met ʼn borselkop spog, maar nie daar kon wees vir die groot afskeer-sessie nie, omdat sy in Pretoria woon, vertel aan Maroela Media dat sy eers nie verwag het dat enigiemand saam met haar ma dié stap sou neem nie. “Dit is lekker om haar te kan ondersteun. Nou, as ek in die spieël kyk, weet ek hoe sy moet voel. Sy is so sterk en ek wil nie hê sy moet nog alleen voel ook nie. Dis ʼn klein gebaar om vir haar te sê: “Ek is hier vir ma en stap saam met ma, al woon ek ver.”
Wilanie du Toit, Smith se susterskind, sê ook dit was ʼn goeie ervaring. “Die afskeer self was lekker, my kop het dadelik gevoel of dit weer kan asem haal en die grappies tydens die sessie was so lekker.”
“Vir my was dit niks om af te skeer nie. Dis nou verby en groei alweer. Die siek mense moet vir baie langer daarmee saamleef. Hulle het ʼn veel langer pad om te stap,” sê Wilna Louw, Smith se suster wat in Springs woon.
Die gebaar, meen kenners, kan vir sekere kankerlyers baie beteken en ondersteuning wys, maar maan hulle, ʼn mens moet egter eers by die pasiënt uitvind of hulle gemaklik met die besluit sal wees.
Hoe kan jy kankerlyers ondersteun?
Kansa hou jaarliks hul “shavathons” in winkelsentrums, waar mense of hulle hare kan afskeer en skenk om pruike van te maak, of ʼn fooi betaal om hulle hare in allerhande kleure te spuitverf. Die geld word weer aangewend om pruike te maak, of aan kankernavorsing te skenk. Die “shavathon” geskied in Februarie, maar mense wat hulle hare wil skenk hoef egter nie tot dan te wag nie.
Skenkers kan ook hul afgeknipte haredos by Kansa se hofkantoor, in Bedfordview, of by enige van die organisasie se landswye sorgsentrums inhandig.
Skenkers gaan egter aan sekere vereistes moet voldoen. Kansa lys die vereistes as volg:
- Jou poniestert moet langer as 25 cm wees.
- Jou hare moet skoon en droog wees.
- Alle hare, of dit gekleur of behandel is, word aanvaar. Kansa kan egter nie rastalokke aanvaar nie.
- Wanneer die hare gesny word, moet albei punte met ʼn rekkie vasgebind word. Die hare moet dan in ʼn plastieksakkie wat kan toerits geplaas word.
Liefde kan nie gekoop word nie, dit word so sterk bewys deur hierdie sterk sterk familie. Dis so mooi om verhale soos dit te lees waar mens werklik waar mekaar bystaan in moeilike tye. Elsa Smith sterkte met jou behandeling, jy sal in my gebede wees vir volle herstel. Daar is klaar bewys deur hierdie mooi verhaal dat liefde sterk in julle familie loop. Mag ons Vader jou handvas hou deur elke liewe tree.
Stunning familie hierdie!! Mag alles goed verloop vir tannie Elsa.
sjoe julle almal dierbaar om as familie saam te staan. Dankie julle dapperheid. My ma is ook oorlede kanker was so lief vir haar eie bos hare dank Vader sy oorlede voordat sy al hare verloor het nie dit was nie nodig om te hare te skeer nie.
Hier sit ek met traan in my oë. My tannie 4jaar terug oorlede aan borskanker…My broer 3 jaar terug oorlede…kanker….en nou het my ma ook kanker stages 4. Dit is vir ons hele familie n baie hartseer storie. Tannie Elsa ek bid vir u en die hele gesin….cancer have no face..
until it is someone you love.!!
Pragtig met kort hare. Het ook my moeder aan bors kanker verloor 11 jaar gelede. Sterkte aan almal wat met kanker saam leef of iemand verloor her. Julle bly altyd in my gebede.
Nie alle soorte chemoterapiebehandelings laat hare uitval soos in die berig genoem word nie.
Dis ‘n baie mooi gebaar om iemand te ondersteun. Kankerpasiënte wat ondersteun word, herstel ook dikwels gouer.
26 Junie 2018 – die dag toe ek n dubbele mastektomie ondergaan het. Kliere ook verwyder. 2 dae later ontslaan uit hosp. Shuttle het my sommer by hospitaal opgetel, nog met dreins en al, en 384km verder veilig voor my huis afgelaai. Manlief was by die werk, meeste familie ver en kans vir Sannie Jammerhart maar min. 1 Julie weer aan die werk gewees.
Ek moes daardeur en is daardeur. Drink vir nog 9 jaar daagliks pille, maar kan diegene wat daai pad loop se alleen, twyfel en seer goed verstaan.
Baie voorspoed vir Elsa en baie dankie aan haar familielede wat haar so ondersteun. Die Vader sien dit raak.