Finansiële raad vir niewinsgewende organisasies

Foto: Josh Appel/Unsplash.com

Januarie bly maar ʼn uitdagende maand vir die meeste mense, veral as dit by finansiële sake kom.

Volgens Annelise de Jager van Charity Support Services, wat opleiding aan welsynsorganisasies verskaf, is hierdie egter ʼn stryd wat die meeste niewinsgewende organisasies vir 12 maande lank elke jaar moet stry.

“Geldinsameling is ʼn integrale deel van welsynsorganisasies en dit is dikwels ʼn probleem waarmee skole en kerke ook sit. Ek dink hierdie organisasies begin dikwels verkeerd omdat hulle nie dadelik dink aan hoe om hulle dienste befonds nie.

“Verder verwag hulle ook dat hulle befondsing van die staat of ander instansies sal ontvang, maar dit kan inderwaarheid nie meer as ʼn derde van hulle uitgawes subsidieer nie. Die ander twee derdes van hulle inkomste sal hulle op ʼn ander manier moet genereer en dit is waarom dit nie verbasend is dat die soort organisasies altyd bakhand moet staan nie,” sê De Jager wat jare lank verantwoordelik was by geldinsamelingsprojekte soos Loslitdag en Tekkie Tax.

Sy praat graag van geldinsamelingsmandjies en benadruk dat ʼn mens nie al jou spreekwoordelike eiers in een so ʼn mandjie kan belê nie.

“ʼn Organisasie sal byvoorbeeld daarvan hou om funksies aan te bied soos gholf- of vrouedae, maar dit kan nie jou enigste manier van fondsinsameling wees nie. ʼn Ander manier is om ʼn welsynswinkel te bedryf, wat ʼn uitstekende manier is om ʼn konstante inkomste reg deur die jaar vir jou te verseker.”

De Jager meen ʼn goeie strategie is om ʼn meer gebalanseerde manier van befondsing te vind en so jou inkomstestrome aan te vul.

Sy benadruk ook dat elkeen in ʼn organisasie, skool of kerk die verantwoordelikheid vir geldinsameling moet aanvaar. “Dit beteken nie almal moet nou ʼn blikkie gaan skud nie, maar almal in die organisasie moet weet waarheen hulle strategies op pad is. Elke werknemer in jou organisasie moet byvoorbeeld weet net hoe kragtig ʼn gewone inskrywing op sosiale media kan wees. Iets soos om te sê ‘Dit is weer lekker om terug by die werk te wees’ met ʼn mooi foto kan net so baie vir ʼn organisasie se beeld beteken en saamwerk aan sy finansiële strategie.”

De Jager glo geldinsameling en bemarking gaan eintlik veel meer oor verhoudings. “Dit is jou verhouding met ʼn mens wat jou die vrymoedigheid gee om ʼn telefoon op te tel. Dit is nie ʼn maatskappy wat geld gee nie, dit is die mense wat by ʼn maatskappy werk wat die geld gee en as jy nie van die mens hou nie, gaan jy beslis nie vir die organisasie geld gee nie.”

Sy vra ook dat mense wat wel geld vir welsynsorganisasie wil gee, dit moet doen waar hulle harte lê. “Maak jou hart oop as ʼn organisasie jou vra om ʼn skenking te doen. Kies ʼn saak wat vir jou belangrik is wanneer jy besluit vir wie jy wil befonds.

“Maak seker dit is ʼn organisasie met wie jy kan assosieer en met wie se waardes jy jou kan identifiseer. Gee dan met ʼn oop hart en gemoed en moenie te voorskriftelik wees waarvoor die organisasie jou skenking moet gebruik nie. Onthou welsynsorganisasies het ook rekeninge om te betaal,” sluit De Jager af.

  • Besoek Annelisedejager.com of Charitysupportservices.co.za vir meer inligting oor opleiding vir welsynsorganisasies. De Jager bied op 23 Januarie ʼn opleidingsoggend in Centurion aan waar sy bestuurderslede en fondsinsamelaars met inligting oor finansies en bemarking sal toerus. Stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting oor dié oggend.
  • Luister ook na die volledige onderhoud met Annelise de Jager boaan hierdie berig. De Jager het met Maroela Media gesels oor wat welsynsorganisasies kan doen betreffende bemarking en finansies sodat hulle die broodnodige dienste in hulle gemeenskap te midde van uitdagings kan lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.