Fisieke, geestelike stimulering vir troeteldiere belangrik tydens afsondering

(Foto: Verskaf)

Jou troeteldier is moontlik tans die gelukkigste lid van die gesin met dié dat almal nou elke dag van sonop tot sononder saam onder een dak is. Tog is dit belangrik om te onthou dat jou troeteldiere se roetine ook heeltemal verander het en dat hulle ekstra stimulering nodig het tydens die landwye afsondering.

“Ons troeteldiere se lewe het ook verander,” sê Marycke Ackhurst, dieregedragskenner van Hill’s Pet Nutrition.

“Die afsondering beteken beperkte stappies in die buurt en geen uitstappies na die park vir jou hond, en hoewel jy nie jou kat uitgeneem het vir stappies voor die maatreëls nie, voel hulle definitief die stres en angstigheid gedurende hierdie tydperk aan,” sê sy.

Om onnodige stres vir jou diere te vermy, stel Ackhurst voor dat eienaars so na moontlik aan troeteldiere se normale roetine probeer bly, asook ʼn paar breinstimulering-aktiwiteite doen om die afname in fisieke aktiwiteit uit te balanseer.

Ackhurst deel ʼn paar wenke oor hoe om jou troeteldier te stimuleer terwyl die afsonderingsmaatreëls nog geld:

Lekkernye – Maak vir jou troeteldier heerlike tuisgemaakte lekkernye met behulp van Hill’s se resepvideo’s. Dit is pret om te maak en die hele gesin kan saam bak en brou. Jou troeteldier sal mal wees oor die verskeidenheid geure. Hou jou troeteldier se huidige kosinname versus die hoeveelheid oefening wat hy kry in gedagte en pas porsiegroottes daarvolgens aan.

Skattejag – Maak voedingstye ʼn speletjie. In plaas daarvan om net ʼn bak met kos neer te sit, versteek jou kat se blokkies in ʼn paar verskillende plekke in die huis. Dié stimulerende uitdaging sal hulle natuurlike jaginstink laat intree en help om daardie instink skerp en aktief te hou. Vir jou hond kan jy ʼn speletjie speel wat hulle snuffel- en soekvaardighede sal verskerp. Neem byvoorbeeld ʼn paar korrels en versteek dit in ʼn opgefrommelde kombers sodat jou hond daarna moet soek.

Oefening – Maak seker jou hond hardloop ʼn paar keer om die huis en in die tuin en speel met sy speelgoed tydens jou werksbreuke. Gebruik ook die trappe soveel jy kan. Vir katte kan jy huishoudelike items gebruik wat in ʼn speletjie omskep kan word. Maak ʼn stuk tou aan ʼn leë toiletrol vas of trek jou kat se aandag met ʼn opgefrommelde stuk papier. Geveerde speelgoed, krappale en selfs ou bokse sal ook jou kat stimuleer.

Nuwe toertjies – Om nuwe toertjies te leer is ʼn goeie manier om jou troeteldier se brein te stimuleer. Dit verg ʼn bietjie moeite en aanmoediging van jou kant af en sal ook grootliks staatmaak op jou kat se gemoedstoestand, maar dit sal ʼn vlak van verstandelike stimulering bied waaraan jou kat nie gewoond is nie en boonop julle band versterk. Gebruik ʼn paar blokkies of van die tuisgemaakte lekkernye om jou kat te leer om om te rol. Vir jou hond is dit ʼn groot inspuiting vir sy selfvertroue as hy ʼn nuwe vaardigheid kan aanleer. Daar is altyd ʼn nuwe truuk wat jy jou hond, jonk of oud, kan leer.

Gee hulle ruimte – Neem in ag dat jou troeteldier nie gewoond is daaraan om jou heeldag tuis te hê nie en die volgehoue aandag mag dalk net te veel raak vir hulle, net soos met mense. Gee vir hulle ruimte om te slaap, veral katte, en om onafhanklik te speel. Dit sal ook help as hulle in hulle normale roetine kan bly.

  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.