Fossielbrandstof se doppie eersdaags geklink

Argieffoto

Argieffoto

Wind- en sonkragenergie sal in 2030 die goedkoopste manier wees om elektrisiteit op te wek wanneer dit fossielbrandstof as markleier sal verbysteek.

Só blyk dit volgens ʼn verslag van navorsers van Bloomberg New Energy Finance (BNEF), wat pas bekend gestel is.

Dié navorsing het ook gewys dit gaan teen 2027 goedkoper wees om ʼn nuwe windpark of sonkragaanleg op te rig as om ʼn bestaande steenkoolkragsentrale aan die gang te hou.

“Die tempo waarmee tegnologie en uitbreiding van son- en windkrag vorder, gaan veroorsaak dat die volop, goedkoop Amerikaanse skaliegas nie meer die ‘oorbruggingsrol’ tussen steenkool en hernubare energie vervul nie, soos tot dusver verwag is,” lui die verslag.

“Die koste van wind- en sonkrag-energie daal só veel dat fossielbrandstof nie meer dominant kan bly nie. Die pryse van sonpanele daal met 26% en die koste windkrag met 19%,” het navorsers gesê.

Die proses van vraag en aanbod werk ook anders met hernubare energie, aldus die verslag. “Toenemende vraag na nie-hernubare fossielbrandstof lei tot hoër pryse. Vir energie-tegnologie geld die omgekeerde: ʼn groter vraag beteken hoër produksie en laer pryse.”

Teen 2040 sal ʼn totaal van $7,8 miljard na verwagting in hernubare energie belê word, veel meer as die verwagte $2,1 miljard vir fossielbrandstof. Die grootste belegging, $3,4 miljard, sal in sonenergie wees, terwyl $3,1 miljard in windenergie belê gaan word. Altesaam $911 miljard sal in hidro-kragopwekking belê word.

Dit blyk ook dat die ontwikkeling van elektriese motors en batterye om elektrisiteit te stoor, vinniger gaan vorder as wat verwag is.

Volgens die verslag sal 35% van alle motors in 2040 met elektrisiteit aangedryf word – 90 keer meer as die persentasie elektriese motors in 2015.

China, wat altyd die hoogste produksie van koolstofuitlaatgasse ter wêreld gehad het, is nou een van die leiers in hernubare energie en is vervang deur Indië, wat tans die grootste sondaar is.

“China was vir dekades die grootste oorsaak van koolstofuitlaatgasse. Omdat die land gestimuleer is deur hernubare ontwikkeling, het hulle ʼn skuif gemaak van steenkool na ander hernubare energiebronne. Die gevolg is dat hul produksie van koolstofdioksied die meeste van alle lande afgeneem het. Nou is Indië die grootste sondaar en moet die land begin kyk na hernubare en volhoubare bronne.”

Bron: Trouw

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Frederik ·

Vir solank as wat die Guptas en Nammawan Jnr steenkool lewer aan Eskom, sal SA seker maar by steenkool hou.

Vissie ·

Dis wonderlike nuus. Dink net hoeveel skoner gaan ons wêreld wees. Al wat nou nog moet gebeur, is dat bouers van nuwe huise aangemoedig word om sonkrag in hul huise te gebruik. Ek weet van een plaashuis diep in die Boesmanland, baie ver van ‘n kraglyn af, waar net ‘n paar sonpanele elektriese lig deur die hele huis verskaf. Die ou Lister staan heeltemal in onbruik in die waenhuis. Die boer kan selfs ‘n satelliet-foon daar gebruik, en oor ‘n kort rukkie sal dit alles hom niks kos nie.

Oom Ekonoom ·

Laat skoolkinders, studente en almal wat loopbaan wil verander in hierdie en ander tegnologie beweeg. Vergeet van rugby, dit skep nie rykdom nie.

Pieta ·

Daal met 26% en 19%… Vergeleke met wanneer sepryse? Reële pryse of nominale pryse? Oor Watter tydperk? Moet ek dus wag om sonpanele aan te skaf – het die pryse reeds gedaal, is dit besige om te daal (of net nie saam met inflasie te styg nie), of moet ons vasbyt tot dit goed koper is voor ons aankope om van die “grid” af te klim? Sjoe, ek wonder maar net…

Rupert Ashford ·

Jy is die enigste een wat die regte vrae vra …:-)

Edward ·

Yip. Nou hou almal op met koop en wag vir goedkoper sonpanele. Hernubare verskaffers klim uit want daar is geen wins. Bedryf sterf. Amper soos wat die Arabiere nou met6die Amerikaanse skalie olie bedryf doen deur pryse so laag moontlik te druk……..

Jcwf ·

Suid-Afrika, veral die Noord-Kaap, en ook Namibië het groot sonkraghulpbronne en dit is seker ‘n ekonomiese kans vir die land.

Ek wonder net of dit ook beteken dat mens met sonkrag drinkwater uit die oseaan kan haal. In beginsel is dit seker moontlik, maar of dit ook prakties is? Indien dit wel so is is dit belangrik vir die weskus.

ig ·

Ek het so pas van die grit afgeklim was gelukkig om self die sonstelsel in te voer.My besparing was 55% in vergelyking met plaaslikke kwotasies.Dit is net jammer dat ek nie my surplus krag nie aan Eskom kan verkoop nie soos in ander lande nie.

Carel ·

Voordat jare aanbreek soos 2027 en 2030 soos hierbo het baie meer effektiewe maniere van elektrisiteit opwekking lankal te voorskyn gekom. Merk my woorde . . .

Johan ·

My bekommernis is die leeftyd van batterye. Elke vyfjaar moet jy daardie koste bysit vir n battery bank. En waar gaan ons met al die afval batterye heen is dit werklik groen energie?

Rene' ·

Ons het ‘n jaar terug R40 000 spandeer op ons sonkragstelsel en het al reeds ongeveer R10 000 op elektrisiteit gespaar. Ons werk NIE met batterye nie , ons het ‘n grid tie sisteem – dan dien die munisipaliteit as ons stoor pleks van batterye wat na elke 5 jaar vervang moet word en dan is dit nog so duur! Skakel : http://www.omnikportal.com/Terminal/TerminalMain.aspx?come=Public&pid=37672 ; kyk maar self hoe ekonomies slim dit is!

Hennie ·

2030 is vir seker nie “eersdaags” nie. Dis nog 14 jaar van nou af!

Ww ·

Gebruik nuwe fosfaat batterye dit kos dieselfde as lood batterye en het twee keer die leeftyd

Ww ·

Maak gebruik van fosfaat batterye selfde prys as lood batterye maar hou twee keer langer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.