Fotokompetisie: Maroela Media soek die mooiste Jakaranda‑foto’s

jakarandas-deur-morne-prinsloo-2018-10-01

Foto: Morné Prinsloo.

Die digter C. Louis Leipoldt het nie verniet gesê Oktober is die mooiste, mooiste maand nie.

Elke jaar van einde September tot in November trek die Jakarandastad sy pragtige pers baadjie aan, terwyl Johannesburg ook met heelwat van die bloeisels in dié stad se strate spog.

Ons by Maroela Media is op soek na ons lesers se mooiste selfgeneemde kiekies van dié bome en hulle bloeisels. Die mooiste Jakaranda-foto sal met ʼn geskenkpakkie van Maroela Media beloon word.

Hier is ʼn paar interessante feite oor Jakarandabome:

Die Jacaranda mimosifiolia is ʼn subtropiese boom wat inheems aan die suid-sentrale dele van Suid-Amerika is.

Daar is verskillende stories oor hoe die eerste Jakarandas in die hoofstad aangekom het en waar die bome geplant is, maar dit lyk of ʼn mnr. Templeman, ʼn Kaapse botanis, die eerste twee Jakarandaboompies in 1888 van Rio de Janeiro, Brasilië, ingevoer het.

Dié twee bome is in die tuin van die Myrtle Lodge geplant wat aan JD Celliers behoort het. Vandag is dié tuin deel van die Sunnyside‑laerskool se skoolterrein by Cellierstraat 146.

Volgens Adriaan Louw, argitek en blogger, se webwerf TheLouwkels.com het die bome se bekende skouspel eers daadwerklik in 1906 begin toe die munisipaliteit amptelik die eerste Jakarandabome in Bosman- en Arcadiastraat geplant het. Daar is teen 2003 gereken dat sowat 17% van Pretoria se stedelike bome Jakarandas was.

Daar is ook een besonderse straat in Pretoria wat wit word wanneer die ander strate in pers getooi is. Herbert Baker-straat in Groenkloof het ʼn 100 Jakarandabome wat met wit bloeisels spog.

Foto: Amanda en Morné Prinsloo.

Volgens TheLouwkels.com is die bome glo steriel en deur H. Bruinslich in 1962 uit Peru ingevoer.

Alhoewel Pretoria as die Jakarandastad bekend staan, word dit beweer dat Johannesburg eintlik meer van dié bome het.

ʼn Artikel in die The Star, wat in 1945 geplaas is, het beweer die Goudstad se eerste Jakarandabome is in Doornfontein geplant. William Nelson, die eienaar van die Nelsonia-kwekerye het in 1896 gesê hy het ʼn 100 km van die bome langs die strate van die Johannesburgse voorstad, Kensington, geplant.

Een van die bekende bygelowe oor die Jakaranda is dat as ʼn student onder een van die bome in eksamentyd verby stap en ʼn bloeisel op sy of haar val, hulle die vak sal slaag wat hulle geskryf het.

Dié bome is in 2001 tot ʼn indringerplant verklaar, wat beteken die bome kan nie vervang word as hulle siek is of gevrek het nie.

In 2013 het die Universiteit van Pretoria gewaarsku dat ʼn fungus besig is om die kenmerkende bome te teiken. Navorsers van die UP het aanbeveel dat inwoners nie tuine direk om die bome maak nie omdat die fungus in vogtige toestande groei.

Die Jakarandas het wel ʼn lewensduur van 200 jaar en dit beteken as daar mooi na die bome omgesien word, kan die twee grootste stede in Gauteng vir minstens 90 jaar nog na ʼn see van pers elke Oktober uitsien.

Foto: Amanda en Morné Prinsloo.

Op soek na inspirasie vir jou foto’s:

Amanda Prinsloo, kommunikasiepraktisyn van Maroela Media en haar man, Morné, het die foto’s van Jakarandas vir hierdie artikel geneem.

Die foto’s is op 20 Oktober om 10:00 met ʼn Nikon Coolpix P900‑kamera en ʼn Huawei P9 Lite‑selfoonkamera in Day- en Maraisstraat in Brooklyn, Pretoria, geneem.

“Jakarandatyd is my gunstelingtyd van die jaar in Pretoria. Elke jaar hierdie tyd raak ek kinderlik opgewonde as die eerste bloeisels begin blom. Ons maak ʼn punt daarvan om elke jaar foto’s te gaan neem en dit is heerlik om die stokperdjie ook so in die weelderige natuur in die stad te kan beoefen,” het Amanda gesê.

The Louwkels.com beveel aan dat ʼn mens by die volgende strate in Pretoria ʼn draai gaan maak om die mooiste pers bloeisels te sien:

  • Struben-, Visagie- en Minnaarstraat in die middestad
  • Troystraat, Muckleneuk
  • Nuffieldstraat, Rietondale
  • Rosestraat, Riviera
  • Pierneefstraat, Villieria

Wen

Drie lesers staan ʼn kans om ʼn Maroela Media geskenkpakkie te wen. Stuur net vir ons jou Jakaranda-foto wat jy self geneem het om in aanmerking vir die kompetisie te kom. Die mooiste foto’s sal ook op Maroela Media geplaas word. Die kompetisie sluit op Donderdag 8 November om 10:00.

  • ʼn Groot dankie vir elke leser wat vir hierdie kompetisie met hulle pragtige foto’s ingeskryf het. Lees hier om meer oor die wenfoto’s van hierdie kompetisie uit te vind.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.