[Foto’s] Akteur pak 12 000 km met fiets aan vir liefdadigheid

Foto: Facebook/ Ivan Zimmerman

Foto: Facebook/ Ivan Zimmerman

Die akteur Ivan Zimmermann is tans besig om ʼn ekspedisie van Beijing tot Istanbul op sy fiets te voltooi om studiegeld vir studente in te samel.

Die roete staan bekend as die Syroete en strek oor ongeveer 12 280 km. Zimmermann is van voornemens om die roete saam met 14 ander fietsryers in 145 dae te voltooi. Hy het op 15 Mei begin trap en hoop om dié lang tog op 5 Oktober voltooi. Die roete loop deur China, Mongolië, Rusland en Kazakstan.

Maroela Media het die afgelope week met Zimmermann gesels en dié kranige fietsryer was toe in Almaty, Kazakstan, en het toe reeds 5 400 km afgelê.

Foto: Facebook/ Ivan Zimmerman

Foto: Facebook/ Ivan Zimmerman

“Die terrein is wild – cowboy-wild. Sommige mense dink ek is op ʼn lekker lang vakansie – dit is beslis nie die geval nie. My tent is verwoes deur ʼn storm en my fiets het ook gebreek. Jy moet vir jouself sorg, jou eie tent opslaan en self jou fiets regmaak.”

Hy staan elke oggend 04:00 op om weer 05:00 op die pad te wees, en hy ry tot die son gaan sak. Hoewel hy rusdae kry, is dit steeds straf op sy lyf. Hy vertel ook van die weer wat onvoorspelbaar is. “Die een oomblik skyn die son, en die volgende oomblik is dit stormweer. Die berge lê nog dik van die sneeu. Ek het nog nooit in my lewe so koud gekry nie – ons ken nie sulke koue nie.”

Hy vertel van ʼn dag waarop hy 190 km gery het téén die wind. Dit het hom ongeveer 11 uur geneem om dié afstand te voltooi. “Om 11 uur op ʼn fiets te sit is nie grappies nie – dan moet jy nog jou tent opslaan en regmaak vir die volgende dag. Zimmermann het ook beserings opgedoen, maar hy is steeds gemotiveerd om die roete te voltooi en meen niks gaan hom keer om sy doelwit te bereik nie.

Foto: Facebook/ Ivan Zimmerman

Foto: Facebook/ Ivan Zimmerman

Behalwe vir die weer en die rowwe terrein is kommunikasie een van die groot uitdagings wat hy beleef. “ʼn Mens gebruik maak handgebare en leer om in die taal te groet.”

Hy sê daar is ʼn paar redes waarom hy so ʼn groot avontuur aanpak, maar dat dit hoofsaaklik gaan om jong mense te help om tersiêre opleiding te ontvang.

“Ons wil graag studente universiteit toe stuur. Op die lang duur is dit iets wat regtig ʼn verskil maak en ons land ten beste verander.”

Blikkieskos word ook ingesamel en volgens Zimmermann is heelwat reeds bymekaargemaak. Afgesien van die feit dat hy graag mense wil help met dié ekspedisie, gaan dit ook om mense te wys dat jou drome verwesenlik kan word en dat ʼn mens moet aanhou en deurdruk – al gaan dit soms moeilik.

Foto: Facebook/ Ivan Zimmerman

Foto: Facebook/ Ivan Zimmerman

“Ek hou daarvan om ekspedisies aan te pak en ek is op ʼn punt in my lewe waar ek nie meer my drome wil droom nie, maar dit wil uitleef. Ek doen dit om mense te motiveer om nooit tou op te gooi nie.”

En as jy hom vra of hy dit gaan maak, is hy beslis: “Sonder twyfel!”

Besoek Ivan Zimmermann se Facebook-blad of webwerf om te kyk waar hy in die wêreld is, en as jy graag van die projekte wil ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Denise ·

Ek wil net graag weet vir wie samel hy geld en blikkieskos in vra maar net!!!!

Marietjie ·

Denise gaan kyk gerus op sy FB blad. Ek gaan defnitief vanaand bietjie loer.

MCS ·

Was saam met hom en sy boet opskool! Sterkte Ivan! Weet jy kan dit doen! Om so iets tedoen is niks nuuts vir jou!

Wilsie ·

Sekerlik nie vir die student wat staak en die geboue op kampusse afbrand en vernietig nie. Of wat praat ek?

Mike ·

Ek stem saam met Denise en Wilsie……………………….

Oosthuizen ·

Sterkte met wat nog voorlê Ivan, mag die Vader jou krag gee om dit te voltooi. Waar ‘n wil is, is ‘n weg en jy het definitief die wil. Ek hou vir jou duim vas dat jy nie nog beserings of breke opdoen nie. Vasbyt!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.