[Foto’s] Dis net melktert waar jy kyk

Die tafels was toegepak in melkterte. Foto: Verskaf

Die tafels was toegepak in melkterte. Foto: Verskaf

Leerders van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria het behoorlik aan melktert gesmul op Nasionale Melktertdag met meer as 600 melkterte wat die skool se leerders en ouers gebring het.

Nasionale Melktertdag is jaarliks ʼn jolige affêre wat ʼn goeie verskoning bied om weg te lê aan een van Suid-Afrika se gewildste vorms van soetgebak. Dié dag word op 27 Februarie gevier.

Dié skool, wat die dag op 29 Februarie gevier het, het aan elkeen van die sowat 1 300 leerders ʼn skyf melktert gegee.

Dirk Taljard, woordvoerder van Affies, sê die besluit om Melktertdag te vier, het gevloei uit die inisiatief wat een ouer verlede jaar geneem het. “Ons het verlede jaar die dag gevier met melkterte vir omtrent 80 koshuisinwoners. Vanjaar het ons besluit om dit bietjie groter te doen,” vertel hy.

Taljard sê ʼn beheerliggaamlid van die skool, Cecelia Joubert, het voorgestel elke seun kry ʼn skyf melktert tydens pouse. “Ons het die ouers gevra om die dag saam met ons te vier en twee resepte vir hulle gestuur. Ons is so oorval met aanbiedinge van ouers wat melktert wil maak, dat ons ophou tel het ná 600 melkterte.”

Joubert sê daar was soveel melktert, dat hulle ook melktert aangestuur het vir Pretoria Hoër Meisieskool se matriekleerders en die voedingslaerskole se personeel. “Elkeen het hulle harte, hande en beursies oopgemaak. In moeilike tye soos dié was dit lekker om te sien hoe mense steeds kan goed doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.