[Foto’s] Liefde blom in die herfsjare

Die getroude paartjie. Foto: Christine LR Photography

Die getroude paartjie. Foto: Christine LR Photography

Toe die 84-jarige Ouma Toerien op ʼn winderige Augustusdag in 2015 ʼn ouer man ophelp nadat hy geval het by die ouetehuis waar hulle albei woon, het sy nooit besef sy sou byna ʼn jaar later voor die kansel staan met dié man se broer nie.

Janita Toerien, die kleindogter van Ouma Toerien, het aan Maroela Media vertel die twee het laat verlede jaar omtrent begin kloek. “Oom John, die broer van die oom wat geval het, was nie in die ouetehuis nie. Nadat hulle ontmoet het toe sy hom bygestaan het, het Oom John knaend verskonings gesoek om my ouma te sien,” het sy vertel.

Sy sê selfs die snoepie-tannie het ingespring en ontmoetings vir die twee in die geheim gereël. “Sy wou my ouma gereeld bel en vra sy moet tog met iets by die snoepie kom help, alles sodat die oom haar net kon sien.”

Janita het vinnig agter die kap van die byl gekom, maar Ouma Toerien wou dit nie erken nie. “Ek het haar gevra is hulle nou ʼn paartjie, maar dan sê sy, nee. Teen Kersfees verlede jaar het sy ons almal eers vertel hulle is nou ʼn paartjie.”

Die twee het op 24 April besluit om af te haak. Oom John het egter eers Ouma Toerien se kinders vir ete uitgeneem voordat hy haar om haar hand gevra het. “Hy wou eers by hulle hoor of dit oukei is, en hulle het toe ingestem. Sy wou sommer ʼn gewone ou pakkie dra, maar omdat ek trourokke ontwerp, het ek besluit dit sal nie deug nie. Ons het toe die trourok en die hele troue vir haar in ʼn week en ʼn half gereël.”

Janita sê die egpaar koester nog “outydse waardes” en wou eers trou voordat hulle saam intrek. “Sy wou nie eens alleen saam met hom kuier nie; sy wou die regte ding doen en met hom trou voordat hulle saam kon intrek.”

Janita en haar suster was strooimeisies op die troue. Ouma Toerien vier Dinsdag haar 85ste verjaardag.

“Hy is al vir 17 jaar ʼn wewenaar, en sy amper vyf jaar. Sy en my oupa was 58 jaar getroud toe hy oorlede is.”

Die egpaar beoog om eersdaags saam in te trek. Foto’s geneem deur Christine LR Fotografie.

Besoek ook Janita Toerien se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Antoinette ·

Liefde bly mooi, maak nie saak hoe oud mens is nie. Baie geluk en baie voorspoed!

Gesiggie ·

Ag n moeder… wat n sweet storie… ja dit wys n mens… al is jy oud, maar nog nie koud”’is als moontlik… ag en Ouma Toerien en Oupa John lyk te oulik saam, so gelukkig… sulke mooi foto’s te pragtig, mag daar vir jul nog n lang lewe vol vreugde en geluk wag…En aan Ouma Toerien baie geluk met jou 85” ste verjaarsdag, jy dra jou ouderdom baie goed…Mag God aan jou net die mooiste in die lewe gee… Well Done…

charlene ·

Dis nou `n pragtige storie. So mooi. Maar iets aan ou-mensies wat so “koer”is vir my te mooi.
Hulle albei lyk so gelukkig saam.

Idalet ·

Wat n pragtige storie!!! Baie geluk oom John en tannie Toerien!!!

Sêmaarnet ·

Dit is te pragtig, baie geluk met die huwelik en met tannie se verjaardag. Wys jou nou net weer, liefde is altyd daar maaknie hoe oud jy is nie.

Annette ·

Mag ek so voel …op 33 jaar…soos hulle voel in hulle 80s !! Wow wat n mooi storie !

Irma ·

Die mooiste rok!!!! En haar hare…pragtig. Geseën is julle twee.

Simone ·

My hele dag is nou sommer gemaak……dis nou ‘n mooi liefdesverhaal!

Charene ·

Dis so ‘n pragtige verhaal en foto’s! Baie seënwense!

Hesta ·

Dit is so spesiaal … liefde tussen 2 mense wat mekaar opreg liefhet en respekteer, is ‘n seëning uit God se Hand. Hope vreugde,voorspoed en mooi jare saam, vir oom en tannie!

Familie van pragtige tannie Hannie ·

Dit is voorwaar ‘n sprokiesverhaal. Tannie Hannie is so n pragtige warm; liefdevolle omgee mens; en is geweldig aktief; sy bak en bedien en bederf met die mees ongelooflikste koeke en lekkernye. Sy het n gawe ontvang om te bak en ‘n Godgewe talent om te versorg. Ek kan net droom om soveel energie soos Tannie Hannie te hê. Tannie Hannie sal beslis vir die oom met baie liefde; warmte; geduld; omgee; respek en n vol magie versorg; netso glo ek die Omie sal baie mooi na haar kyk. Mag julle liefde net groei en mag julle die mooiste jare saam met mekaar ervaar. Julle is albei pragtig.

Desmond En Linda ·

Young man , Lin and I want to wish you and Ouma “Honey” all the best . May you be with us for many more years and I want to say that you are an inspiration to many.
Will be seeing you shortly and once it gets warmer , will get you guys up in JHB for a visit
GOD BLESS

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.