Foto’s: ’n Besoek aan die hart van die stad

Die toergroep voor die Paleis van Justisie op Kerkplein in Pretoria. Foto: Verskaf.

Op ʼn helder Saterdagoggend in November is ʼn bus vol plaaslike erfenisentoesiaste op pad na die historiese spilpunt van ʼn hoofstad – Pretoria se Kerkplein.

Die Erfenisstigting het toegang tot die Ou Raadsaal en die Paleis van Justisie bewerkstellig – twee statige ou staatsgeboue wat nie elke dag vir Jan Alleman toeganklik is nie. Ons is opgewonde oor dié rare geleentheid en dankbaar dat die Tshwane-metroraad se busse ons daarheen karwei en op die Plein se drumpel aflaai.

Dis ʼn besonderse gesig wat ons begroet, maar op ʼn manier ook vreemd. ʼn Mengsel van oud en nuut omring jou as jy na Paul Kruger se standbeeld aanstap. Die duiwe wat oom Paul al sedert 1954 geselskap hou, kom en gaan, ten spyte van die moderne heining wat die standbeeld vandag omring. Maar die oudpresident en sy wagte sal nou altyd van bewonderaars en boosdoeners geskei wees deur dié beskermende heining. Die omliggende geboue vertel ʼn ou verhaal, maar die strate, motors en mense herinner jou gou weer aan die hede.

Vandag is Kerkplein eklekties, maar ook steeds enigmaties – elke gebou ʼn magneet wat jou aantrek en prikkel om meer te wete te kom oor dié simboliese middelpunt van Pretoria. Dit is die kern waaruit die dorpie gegroei het wat uiteindelik die hoofstad van Suid-Afrika sou word.

Die Ou Raadsaal, oorspronklik bekend as Staatsgebouwen, aan die suidekant van Kerkplein is tans die oudste gebou op die plein, met Paul Kruger wat die hoeksteen in 1889 gelê het. Dit was die setel van die ZAR-regering en die eerste gebou waarmee die staatsargitek, Wierda, ʼn teenvoeter opgestel het teen die destyds oorheersende Victoriaanse styl. Ons praat van ʼn “ZAR-styl”, wat invloed op die boustyl van die hele Transvaal uitgeoefen het.

Die bouwerk is deur John Kirkness onderneem. Geskikte boumateriaal was skaars en hout vir meubels en versiering is uit Noorweë bestel en by Kirkness se skoonpa op die Orkney-eilande verwerk. Die sandsteen is naby Onderstepoort ontgin en leiklip vir fondamente is van die omgewing van Hammanskraal afkomstig. Die bakstene het Kirkness in Groenkloof gemaak. Metaaldakteëls is uit Skotland ingevoer en die horlosie en klokke uit Duitsland.

Die gebou se binnekant is werklik iets uit ʼn ander wêreld. Kruger en Leyds se kantore spog met swaarhoutmeubels, leerbedekte stoele en kunswerke. ʼn Klomp van Kruger se toesprake, in Nederlands, word op sy lessenaar uitgestal. Die fyn afwerkings en pragtige besonderhede wat die res van die gebou versien, slaan die asem weg – van die mooiste houtsneewerk en koper- of bronsafwerkings tot duursame muurpapier en bekleedsels, om van die kunswerke wat die mure versier nie eens te praat nie.

Hierdie einste mure is, volgens Wierda se instruksie, in “aardkleure” uitgevoer, in kontras met die Victoriaanse en Britse kleurgebruik. Ná 1900 het die Britte alles toegeverf, maar met die restourasie in 1990 is al die oorspronklike kleure en versierings gelukkig ontdek en herstel.

Die ou Raadsaal was die eerste gebou op Kerkplein wat van beeldhouwerk voorsien is – die begin van ʼn tradisie – maar vir die destydse publiek aanvanklik ʼn vreemde verskynsel. Dit word vertel dat Paul Kruger baie spot moes verduur omdat die vrou op die gebou se toring glo koningin Victoria voorstel, totdat Wierda tussenbeide getree het met die stelling dat sy vryheid simboliseer – ʼn gesogte ideaal! Verder word beweer dat sy aanvanklik sonder ʼn hoofbedekking was en dat die president beswaar gemaak het dat ʼn vrou nie so in die openbaar mag verskyn nie. Vandag het sy ʼn helm op.

Die Paleis van Justisie aan die noordekant van Kerkplein kom ook uit die laaste jare van die 19de eeu, met sy hoeksteen wat in 1897 deur president Kruger gelê is. Die groot vestibule of voorportaal oorrompel jou met die intrapslag met sy uitsonderlike kleurglasplafon, inlegvloer en sandsteensuile. Die drie hofsale is vroeër vir verskillende groepe geoormerk – blanke beskuldigdes moes in die regterkantste saal verskyn, kleurlinge kon hul lot in die middelste vertrek aanhoor en die linkerkantste saal was vir swart beskuldigdes bestem. Hoewel ʼn mens jou maklik kan voorstel dat so ʼn hofsaal ʼn morbiede plek moes gewees het, kan ʼn onskuldige besoeker hom met ʼn geruste hart aan die pragtige argitektoniese en estetiese elemente daarbinne verwonder.

Nog ʼn noemenswaardigheid in dié merkwaardige gebou is die ondergrondse selle, waar beskuldigdes gevange gehou is en na die hofsale geneem is om verhoor te word. Die bekendste sel is die een waarin Nelson Mandela aangehou is en waar hy die Vryheidsmanifes teen die muur geskryf het – om op daardie einste plek te staan stuur rillings langs die ruggraat af.

Tydens die Anglo-Boereoorlog is die halfvoltooide Paleis van Justisie as hospitaal vir Britse troepe gebruik. Die gebou is dus nie deur die ZAR en onder Wierda se toesig voltooi nie. In 1902 is die gebou as Transvaalse Hooggeregshof in gebruik geneem en in die jare daarna het menige opspraakwekkende hofsake hier plaasgevind. Baie prominente persone het in dié gange en sale gewandel of is in die ondergrondse selle aangehou. So is Jopie Fourie in die binnehof tereggestel en Daisy de Melker hier veroordeel.

In die 1970’s het talle geboue op Kerkplein die gevaar geloop om gesloop te word. Die rede daarvoor is dat die kommersiële en sosiale middelpunt van die stad ooswaarts geskuif het. Die ontvolking van die Plein het tot stedelike verval gelei, soveel so dat sloping ʼn werklike moontlikheid geword het. Die ommekeer het in 1975 gekom toe die Beweging Red Kerkplein (BRK) saam met die burgery hier saamgetrek het in ʼn landwye veldtog teen die voorgenome sloping. Die geboue is daarna bewaar en selfs gerestoureer.

Terwyl ons toergroep terugbondel in die bus – moeg maar vergenoegd ná ʼn propvol oggend op Kerkplein – besef ons weer die belangrikheid van erfenisbewaring en bewusmaking. Dat dit ook elkeen van ons se taak is om die wonder van ʼn plek soos Kerkplein te laat voortleef.

Kerkplein spog immers met verskeie eerstes en belangrike gebeurtenisse. Pretoria se eerste kerk is in 1856 hier gebou. Paul Kruger lê in 1883 die eed as staatshoof hier af, en in dieselfde jaar stel Izak Prinsloo hier die eerste Suid-Afrikaanse wêreldrekord op – in verspring. Koningin Victoria se ampsjubileum word in 1898 op die Plein gevier en in 1899 kondig kommandant-generaal Piet Joubert van die staatsgebou se balkon die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog aan. Uniewording word ook op 31 Mei 1910 hier geproklameer en op dieselfde dag in 1961 word die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika, CR Swart, hier ingehuldig.

Mag dié historiese hart van Pretoria vir ons nageslag aanhou klop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

3 Kommentare

Nico K ·

‘n Baie groot skande is dat die ou koffiewinkel, Cafe le Riche, deur die munisipaliteit toegemaak is. Die winkel bestaan al dekades en het die mooiste ou fotos van kerkplein gehad. En baie toeriste busse het nog op Kerkplein gestop en daar iets gaan drink. So hy is nie toegemaak omdat hy nie geld gemaak het nie. Die munisipaliteit het hulle uit die bloute ‘n maand kennis gegee. Iemand moet die stadsraad bietjie vra hoekom.

NET EK ·

Ek stem saam. Daai jare was dit n plesier om buitelanders te wys hoe lyk ons stad. Kyk vandag hoe erg lyk dit nou daar op kerkplein. Ek kry skaam as ek n toer bus sien verby ry.

Reynette ·

Ek wonder ook hieroor ????. Ook die lieflike koffie winkel by die Sammy Marks museum is toegemaam, waarom kan niemand sê nie ????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.