Foto’s: Sol-Tech skep hoop vir jongmense

Foto: Adéle Changuion

Foto: Adéle Changuion

In Suid-Afrika is daar ʼn geweldige tekort aan mense met skaars vaardighede soos dieselwerktuigkundiges, passer en draaiers, meulmakers en sweisers. Volgens Phillip Minnaar, Hoof van Sol-Tech, kort die land ongeveer 30 000 ambagspersone per jaar. “Op hierdie stadium haal ons op nasionale vlak nie eens 11 000 per jaar nie.”

Sol-Tech is ʼn privaat instelling wat ambagsopleiding doen om hierdie leemte te help vul, maar hulle fokus ook op gehalte opleiding. Een van Sol-Tech se doelwitte is om voortreflike opleiding en produkte te bied. Minnaar sê die instelling kyk ook na nywerhede se behoeftes sodat Sol-Tech se opleiding relevant kan bly. “Ons wil nie net oplei ter wille van opleiding nie.”

Sol-Tech het twee kampusse wat ongeveer 560 studente akkommodeer. Die een kampus fokus op die teoretiese komponent en die ander op werkswinkelopleiding en byna 600 studente ontvang hul opleiding van kontrakteurs buite kampusverband. “Uiteraard sal mens dit op een kampus wil hê, maar tans is dit prakties nie haalbaar nie.” Sol-tech lewer ongeveer 300 gekwalifiseerde studente per jaar aan die bedryf. Minnaar sê dat die innametempo nie noodwendig die uitsettempo is nie, omdat party studente hul studies staak, of oorgeneem word deur ander maatskappye.

Volgens Minnaar is die voorkeurstudent iemand wat van ʼn tegniese skool af kom met die regte vakke en ʼn teoretiese grondslag nodig het voordat hy met praktiese opleiding kan begin. “Omdat hy met ʼn klomp toerusting te doen gaan kry, is die teoretiese grondslag nodig.” Maar Minnaar sê ook daar is wel plek vir ʼn student met ʼn akademiese matriek. Dié kandidaat sal net eers ʼn jaar se teoretiese opleiding ontvang wat fokus op wiskunde, wetenskap en tegniese tekeninge. “Ons kry ook aansoeke van studente wat skool met ʼn graad 9 of 10 kwalifikasie verlaat het en dan moet ons ook heropleiding vir dié vakke doen.” Minnaar sê as die student gemotiveer is, is daar ʼn plek vir hom by Sol-Tech.

Frans Barnard, ʼn student by Sol-Tech, sê hy kwalifiseer hierdie jaar as elektrisiën en dat hy vreeslik opgewonde is oor sy toekoms. “Sol-Tech het my so baie gehelp, dit was regtig ʼn ongelooflike ervaring.” Hy meen dat dié instansie ook baie gegroei en ontwikkel het in die tyd wat hy daar studeer het.

Dié instansie is een van die min opleidinginstellings wat twee dienste aan studente verskaf. Studente ontvang nie net volledige opleiding nie, maar word ook geplaas by ʼn werkgewer. ʼn Plasingsmaatskappy genaamd Ajani, wat dienste eksklusief aan Sol-Tech lewer, gaan uit na potensiële werkgewers om ʼn werksgeleentheid vir Sol-Tech se studente te kry. André Vermaak, uitvoerende hoof van Ajani, sê hulle kry positiewe terugvoer van werkgewers en dat die aanvraag na studente toeneem. “Sol-Tech se gehalte-studente is eintlik die hoofrede waarom hulle in diens geneem word. Waar ʼn maatskappy eers een van Sol-Tech se studente sou neem, sal dieselfde maatskappy  vandag agt studente vat.”

Volgens Jennie le Grange, afdelingshoof by Ajani, begin werkgewers Sol-Tech al self nader vir studente. “Die werkgewers is baie ingenome met die werk wat Sol-Tech se studente lewer en stel ook die meeste van die tyd daardie student permanent aan wanneer hy gekwalifiseer is.”

Minnaar sê Sol-Tech streef daarna om die voorkeur-instelling vir ambagsopleiding in Suid-Afrika te word en hy meen dat hulle sterk soontoe op pad is.

In ʼn land waar regstellende aksie jongmense se kans op werk verminder, skep Sol-Tech hoop en gee hulle die kans om vir hulself ʼn toekoms in Suid-Afrika te vestig.

Besoek gerus Sol-Tech se webblad vir meer besonderhede.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Loraine Hamilton ·

Net jammer dis so duur;party mense kani daai tipe geld bekostig nie.

Wian ·

Duur Loraine? Jy verwag seker nie gratis opleiding nie! Dit kos baie duur om vakmanne op te lei, mense kan mos nie verniet opleiding gee nie. Mu seun was daar, en verdien al 1/3 per maand van dit wat sy totale kostes by Soltec was!!!

thea ·

dit mag duur wees maar die studente kry goeie opleiding, en daar gaan beslis nie studente optogte wees, en geboue wat verwoes word wat ons weer moet betaal soos wat dit gebeur in die ander instellings nie Sol tech lank lewe hulle

Elana du Plessis ·

Ek sou graag meer inligting wou hê oor die verskillende ambagte en dan ook die koste daaraan verbonde. En verblyf?

Dankie
Elana

George ·

Puik werk Sol-Tech. As julle goeie werk meer en meer sigbaar begin word sal die industrie nie huiwer nie om beurse vir belowende studente te gee. Hou so aan !!!

Annemi du Randt ·

Ek sal graag asb meer inligting wil hê oor al die ambagte en kostes en verblyf

Antoinette Wiegand ·

My seun het sy ambag verlede jaar voltooi en agt maande later het hy nogsteeds nie werk nie.
Waar is al die baie werk vir opgeleide ambags mense. Laat weet my asseblief sodat hy sy CV kan stuur.

Elaine ·

Ja, weereens is dit net vir die bevoorregtes beskikbaar…ons wat finansieel swaarkry se kinders kan nie die geleentheid benut nie…. Nie asof enige iemand daarvoor omgee nie.

LIEZEL DUPPER ·

EK SOU GRAAG ‘N JONG MAN WOU STUUR WAT DALK MOONTLIK ‘N BORG KAN KRY. SY VADER WERK ALLEEN EN SY MOEDER KAN WEENS GESONDHEIDSREDE NIE WERK NIE. EN HY KRY NERENS WERK NIE. EN FINASIEEL KAN HY DIT OOK NIE BEKOSTIG NIE.

Fanie ·

Elaine asseblief! Moenie sulke uiterste stellings maak as jy so oningelig is nie! As Solidariteit nie ‘omgegee’ het nie, sou hul nie miljoene spandeer het om die enigste Kollege in die land te begin waar Afrikaner jonges welkom is nie! Dis ook nie net vir bevorregtes nie, Solidariteit gee jaarliks boonop nog miljoene rande rentevrye lenings vir studente! Hoekom mense nog ongeregverdig kritiseer wat nog iets doen- en dit op so groot skaal!

Johan ·

Sien hier’s baie navrae. Kyk op Sol-Tech se webblad vir inligting oor Ambagte, en op die Solidariteit Helpende hand se blad vir inligting oor geldelike studiehulp.

Antoinette Wiegand ·

Weereens wil ek net weet waar ons kan aansoek doen vir werk. My seun het deur Sol-Tech sy ambag voltooi as Gereedskapmaker verlede jaar. Ons het al oral aansoek gedoen vir werk vir hom maar almal soek 5 jaar ondervinding. Is die mark dalk oorvol is van ambagsmanne?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.