Foto’s: Wêreldwye foto-uitdaging spoel oor op eie bodem

Melinda Bam. (Foto: Instagram)

Miljoene vroue wêreldwyd het onlangs aan die #WomenSupportingWomen-veldtog op sosiale media deelgeneem deur swart-en-wit foto’s van hulself te plaas om vrouebemagtiging aan te moedig en ondersteuning teenoor mekaar te beklemtoon.

Sommige meen egter dat dié veldtog ʼn afgewaterde weergawe is van ʼn veldtog wat in Turkye ontstaan het om die wêreld se oë te vestig op die geslagsgebaseerde geweld teenoor vroue in Turkye.

Dié land is onlangs geskud nadat Pinar Gültekin, ʼn 27-jarige Turkse vrou, deur ʼn jaloerse ekskêrel vermoor is. The Guardian berig sy is een van altesaam 120 vroue wat vanjaar aan die hand van ʼn lewensmaat of familielid in dié land gesterf het. In 2019 is altesaam 474 vroue in Turkye vermoor.

Dié syfer sal na verwagting vanjaar styg weens die inperkingsmaatreëls wat ingestel is om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.

Die Istanboel-konvensie, ʼn menseregteverdrag van die Raad van Europa teen geweld teen vroue en huishoudelike geweld, is op 11 Mei 2011 vir ondertekening geopen. Ondanks die hoë persentasie van vrouemoord in dié land, dring konserwatiewe politieke elemente daarop aan om die land te onttrek aan die konvensie op grond daarvan dat dit egskeiding en “immorele lewenstyle” aanmoedig.

Jennifer Aniston. (Foto: Instagram)

CNN berig egter die oorsprong van die fotoveldtog was in Brasilië en dat dit soos ʼn veldbrand op sosiale media begin versprei het nadat Ana Paula Padrão, ʼn Brasiliaanse joernalis, ʼn wit-en-swart foto met die onderskrif #WomenSupportingWomen met haar 1 miljoen volgelinge gedeel het.

Hollywood-sterre soos Jennifer Aniston, Eva Longoria, Jennifer Lopez, Reese Witherspoon, Lily Collins en Michelle Pfeiffer het ook hulle wit-en-swart foto’s geplaas en mekaar aangemoedig om aan die veldtog deel te neem.

Feministe in Turkye het egter die res van die wêreld daarop gewys om nie die oorspronklike konteks van die veldtog, voordat dit deur Westerse bekendes versprei is, agterweë te laat nie.

Op eie bodem het die veldtog ook posgevat en bekendes soos Simoné Pretorius, Amalia Uys, Mej. Wêreld Zozibini Tunzi, Christel van den Bergh, Leandie du Randt, Gina Meyers van The Bachelor-faam en voormalige Mej. Suid-Afrika Melinda Bam het wit-en-swart foto’s op sosiale media gedeel.

“Ons staan in solidariteit saam met elke vrou wat baklei om asem te haal sonder om verniel te word, wat veg om te leef wanneer ʼn regering se stilte en tekort aan aksie soos ʼn greep om ons nekke is,” het Bam op Instagram geskryf.

“Ons rou saam met elke familie wat ʼn geliefde, ʼn ma, ʼn vrou of ʼn vriendin weens vrouemoord aan die dood moes afstaan. Ons sien jou, ons hoor jou en ons verhef ons stemme omdat jy nie meer een het nie.”

Simoné Pretorius. (Foto: Instagram)

Simoné Pretorius het haar 162 000 volgelinge op Instagram aangemoedig om organisasies wat ondersteuning en bewusmaking nodig het, te ondersteun.

“Die ware betekenis agter hierdie uitdaging was om bewusmaking te skep vir geslagsgebaseerde geweld in Turkye. Dit is ʼn beweging wat ons in Suid-Afrika ook na aan die hart lê,” het sy gesê.

Amalia Uys het ʼn foto gedeel waarin haar ouma, Minnie, en ma, Celia, ook pryk. “Daar is baie wat in die wêreld aangaan en hierdie foto het my herinner aan hoe alles aan mekaar verbind is. Vrouebemagtiging gaan nie net daaroor om vir mekaar te vertel hoe spesiaal en mooi ons is nie, maar ook om bewus te wees van die patrone, die inherente genetiese geheue van die generasies voor ons; om vas te hou aan die dinge wat ons sterk maak en wat ons liefhet van mekaar, maar ook om te werk aan die ongesonde gewoontes, uitkyke en perspektiewe wat in ons DNS verberg is. Doen die werk en verbreek die siklus,” het Uys geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.