Frankryk en Amerika se vryheidstryd

Lafayette

Die was egter die flambojante Franse edelman Lafayette wat onsterflike roem verwerf as kampvegter en stryder vir die Amerikaanse saak. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

 In ’n vorige artikel het ek sydelings verwys na die historiese verhouding tussen Frankryk en die VSA.

Frankryk en Engeland was die twee grootste supermoondhede van die sestiende eeu; Engeland was Frankryk en Amerika se gemeenskaplike vyand.

Toe die Amerikaanse kolonies – dertien in totaal – in 1775 teen Britse heerskappy in opstand gekom het, het Frankryk sonder om te skroom sy gewig agter die “koloniste” ingegooi.

Die eerste skote van die rewolusie klap op 19 April 1775 by ’n plekkie met die naam van Lexington, voorafgegaan deur die Bostonse teepartytjie en die kreet van “Belasting sonder verteenwoordiging is dwingelandy!”.

Die Amerikaanse onafhanklikheidsverklaring vind op 4 Julie 1776 plaas, maar Silas Dean word reeds op 2 Maart 1776 as spesiale saakgelastigde aangestel om Franse hulp te verkry. In Desember daardie jaar reis Benjamin Franklin self na Parys om verdere Franse steun vir die Amerikaners te werf.

Die jong Amerikaanse nasie was aanvanklik swak toegerus met enorme tekortkominge aan materiél en wapentuig. Toerusting en mannekrag voorsien Frankryk egter mildelik, en spoedig word die Amerikaanse vegters getransformeer van ’n verflenterde leër van kleinboere, delwers en jagters, tot ’n goed toegeruste en formidabele gevegsmag. Met Frankryk agter hulle, skiet die moreel ook die hoogte in.

Aanvanklik bied Frankryk sy steun diskreet aan deur agentemaatskappye soos Rodriques Hortalez et Compagnie. Maar hulle pluk weldra ’n sterker kaart uit die pak in die persoon van deur Pierre Beaumarchais, ’n vernuftige avonturier-sakeman. Hy laat hom omhaal deur die Franse minister van buitelandse sake, die Comte de Vergennes om meer as ’n miljoen livres (pond) se buskruit en ammunisie aan die sukkelende Amerikaners te verkoop. In 1781 plaas Frankryk egter sy kaarte op die tafel: Hy en Amerika word ingevolge die Alliansieverdrag van 6 Februarie 1778 volwaardige bondgenote en Frankryk erken Amerika se onafhanklikheid. Dié stukkie geskiedenis is in die Hôtel de Coislin in die Place de la Concorde in Parys gemaak. Op 17 Maart – vier dae nadat die Franse ambassadeur Engeland formeel meegedeel het dat sy land Amerika se onafhanklikheid erken – verklaar Engeland oorlog teen Frankryk.

Een van die eerste Franse invloedrykes wat sy gewig by Amerika ingooi, was Pierre Charles L’Enfant. Die was egter die flambojante Franse edelman Lafayette wat onsterflike roem verwerf as kampvegter en stryder vir die Amerikaanse saak. Hierdie merkwaardige man – sy volle name was Marie-Joseph Paul Yves Roch Gilbert du Motier, Marquis de Lafayette – was ’n gebore aristokraat wat reeds op die ouderdom van 13 jaar offisier word. Die Amerikaanse vryheidstryd gryp hom aan en hy gaan skaar hom by George Washington en sy manne. Op 19-jarige ouderdom maak die Amerikaners hom ’n generaal-majoor in hul rewolusionêre leër. Hy word gewond in die Slag van Brandywine en onderskei hom in die Slag van Rhode Island. Hy keer tydelik terug na Frankryk en oorreed koning Louis (Lodewyk) die Sestiende om meer Franse troepemagte na die Amerikaanse oorlog te stuur. In 1781 kry hy die Engelse troepemagte in Virginië in ’n wurggreep, sodat Amerikaanse en Franse magte Yorktown kon beleër. Dit was ’n deurslaggewende faktor in die oorlog.

Die Engelse generaal Charles Cornwallis – interessant genoeg het hy die Franse titel marquis, oftewel markies, gedra – bevind hom nou in ’n Frans-Amerikaanse knyptang. Washington voer bevel oor die Amerikaners en die Comte de Rochamboau lei die Franse magte. In Oktober 1981 dwing die gesamentlike Amerikaanse en Franse magte die Engelse leër by Yorktown tot oorgawe. Byna 8 000 Engelse soldate gee oor. Bronne dui aan dat die Franse troepmagte by die Slag van Yorktown tussen 7 800 en 8 800 magte beloop, gemaklik meer as hul Amerikaanse bondgenote. (1)

Dit was egter op see, waar Engeland gedink het hy kon baas speel, waar Frankryk ook seëvier toe dit krities belangrik was: in die Slag van Chesapeake Bay (die Seeslag van die Kape) laat admiraal Francois Joseph de Grasse op sy vlagskip, die Ville de Paris, ’n sterk Engelse vloot onder aanvoering Sir Thomas Graves, die wyk neem. Dié bloedneus waar Engeland dit die minste verwag het, klink Cornwallis se doppie – hy kon nie per see ontsnap nie, en boonop kon Engeland ook nie nog troepe aan wal sit om die doodgewurgde Engelse leër te ontset nie. Dié seeslag vind plaas op 5 September 1781. Maar reeds op 29 Augustus laai De Grasse Franse versterkings naby Jamestown af. Hierdie troepemag sluit hulle aan by Lafayette op Williamsburg, 12 myl van Yorktown. (1)

George Washington self gee só erkenning aan die rol wat die Franse vloot gespeel het:

“You will have observed that, whatever efforts are made by the land armies, the (French) navy must have the casting vote in the present contest.” Hy het ook veelbetekenend gesê “No land force can act decisively unless it is accompanied by maritime superiority.” Dit was ’n direkte verwysing na die rol van die Franse vloot.

By die Cape Henry Gedenktuin in die Gesamentlike Ekspedisie-basis by Fort Story in Virginia Beach, Virginië, word hulde gebring aan admiraal De Comte en sy dapper matrose, en die rol wat hulle in Amerika se onafhanklikheidstryd gespeel het.

Lord Cornwallis se oorgawe was op 19 Oktober 1781. Amerika kry amptelik sy onafhanklikheid met die Verdrag van Parys – ’n gepaste erkenning aan Frankryk se bydrae om Amerika te bevry van Engelse onderdrukking. Die dokument word weliswaar eers op 3 September 1883 in die Franse hoofstad onderteken, maar Engeland was reeds die nekslag op land en see toegedien. Yorktown was die laaste groot veldslag van die Amerikaanse Vryheidsoorlog.

Lafayette speel ’n sleutelrol in die vredesonderhandelings en snoer later kragte saam met Thomas Jefferson – opsteller van die onafhanklikheidsverklaring en president – om handelsooreenkomste tussen die nuwe Amerikaanse staat en Frankryk te sluit.

Daar word vertel dat Frankryk soveel troepe na Amerika gestuur dat, toe die stryd vir onafhanklikheid gewonne was, daar meer Franse soldate op die slagveld was as Amerikaners self. Historici stel dit onomwonde dat Engeland eerder Amerika sy vryheid gegun het, as om verder globaal teen Frankryk, sy sterkste imperiale mededinger, oorlog te voer.(2)

Toe George Washington in Desember 1799 sterf, hou Napoleon, toe heerser van die magtigste moondheid in Europa, ’n gedenkdiens vir die Amerikaanse leier in Parys.  Die kersie op die koek was toe Frankryk die Vryheidstandbeeld aan die mense van die nuwe Verenigde State van Amerika skenk. Daarmee was die vriendskap tussen die twee lande verseël. Amerika se Eerste Dame met haar kenmerkende vryheidsfakkel waak 305 voet hoog oor New York vanaf Liberty Island. Die standbeeld is op 28 Oktober 1886 ingehuldig – ’n gepaste geskenk van die mense van Frankryk aan hul Amerikaanse wapenbroers. Hierdie vriendskap tussen die twee lande bestaan vandag nog.

Amerika se oorwinning het die saad van rewolusie gesaai wat uiteindelik in 1789 in Europa ontkiem het met die slagspreuk van vryheid, gelykheid en broederskap. Dit was die Franse Rewolusie, wat op sy beurt die gang van die wêreldgeskiedenis verander het.

Lafayette word op 15 Julie 1789 – die dag ná die Franse Rewolusie – as kommandeur van die Garde Nationale aangestel.

Dit was die einste Lafayette wat die Verklaring van die Regte van die Mens en die Burger (Déclaration des Droites de l’Homme et du Citoyen) opgestel het. Tot vandag toe kry nuwe Franse burgers op hul inhuldigingseremonie ’n eksemplaar van hierdie historiese dokument. Myne hang geraam in Afrika se Suidelikste sportmuseum.  Frankryk het ook sy beroemde driekleur aan Lafayette te danke: die kokarde van rooi, wit en blou.

Louis die Sestiende se kop het op Maandag, 21 Januarie 1793 gerol – byna presies 20 jaar ná die Amerikaanse Rewolusie afgeskop het met die Bostonse Teepartytjie. (3).

  • Pierre Francois Massyn is ’n amateur-historikus en voormalige lid van die Oorlogsgrafte-Kommisse van Suid-Afrika. Hy is ’n skrywer en Franse burger.

 Voetnotas:

  1.  In The History of the British Navy beskryf Michael Lewis die betekenis van hierdie oorwinning so: “Before it, the creation of the United States was possible; after it, it was certain.” Die gesaghebbende Europese historikus Emil Reich bestempel dié neerlaag as die Britse vloot se Waterloo.
  2. http://www.thoughtco.com/france-american-revolutionary-war1222026
  3. 16 Desember 1773. ’n Groep van sowat 60 jong mans, vermom soos Indiane, het Griffinskaai bestorm, Britse skepe beset en teekiste in die water gesmyt uit protes teen Britse onderdrukking met belasting. Hierdie voorval word vandag nog herdenk as die vonk wat die vuur van die Rewolusie laat ontbrand het. In 1984 kon die skrywer op besoek aan Boston sy eie sak tee van ’n skip oorboord gooi om simbolies die kordaatstuk te herdenk – teen ’n geringe fooi aan die toeriste-owerhede van die stad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Rasper ·

Ek kon nie help om lyne te trek tussen die Afrikaner se stryd en dit van die Amerikaners nie. Sonder ‘n groot buitelandse bondgenoot, is ons gedoem. Terwyl Engeland/Frankryk die rolspelers was, is die VSA/Sjina/Rusland rolspelers vandag. Dit is ook duidelik dat hulle nie te lief vir mekaar is nie. Die VSA het ‘n sterk konserwatiewe basis wat die Afrikaner goedgesind is, dit moet net gebruik word. Iets wat Afriforum baie slim benader. Daar is net egter iets wat ek opgemerk het in die VSA, wat nie regtig hier by ons is nie. ‘n Groot meerderheid van die “VSA adelikes”, as ‘n mens hulle so kon noem, het hulle gewig gegooi agter die vryheidstryd. Dink maar net aan George Washington. Voel vir my die “manne wat kan” het die Afrikaner versaak ter wille van globalisering en persoonlike…. weet regtig nie wat nie. Dit maak ‘n voetsoolvlak organisasie soos Afriforum so ongelooflik. Maar, hopelik spring al die “jetsetters” met sakke vol geld ook op die wa.

MTSteyn ·

Raakvat kommentaar. Moet ook nie die rol van Brittanje is as negatiewe rolspeler in Suider-Afrika onderskat nie, in die verlede maar net so sterk ook vandag.

En oor die Afrikaner ‘adel’ wat die Afrikanersaak versaak het… dit is juis daardie groepie uitverkorenes wat ons slinks oor die afgrond gelei het (of hoor ek iemand skree onderhandel het?).

Dit lyk vir my dat daar ‘n ewige breek tussen Afrikaner behoudenes en die wat tradisoneel sy leierkorps uitgemaak het, plaasgevind het en dat dit moontlik nooit herstel sal word nie.

Ek skat dit sal ‘n vernuftige, sterk, onbuiglike Leier neem om die te versamel wat bymekaar hoort. Daardie persoon ontbreek.

INFO ·

Dankie, dit is regtig interesant-het geweet van Lady liberty, maar dat so ‘n jong Fransman so ‘n groot verskil maak. Wys net ons mors jong talent wat dieselfde verskil kan maak

Charles ·

Baie dankie Pierre,’n ongelooflike stukkie werk!

Ek kon ook nie help om soos Rasper parallele te trek tussen die Boere se stryd teen die Britte,versus die van die Amerikaners nie.

Ons was letterlik stoksielalleen,met geen hulp van enige moondheid nie;die vrywilligerskorpse van die buiteland wat die Boere te hulp gesnel het was swak opgelei(alhoewel baie entoesiasties)en lukraak opgemaak uit avontuurlustige vrywilligers met geen werklike begrip en ondervinding van die harde Suid-Afrikaanse toestande nie;en om alles te kroon was die Boere baie wantrouig teenoor die buitelandse helpers-soos wat hulle ook met die “Uitlanders”en alle vreemdelinge was.Die Afrikaners het in teenstelling met die Amerikaners geen seemag gehad of see ondersteuning gehad nie,en dus kon die Britte onverwyld hul troepe in die duisende aanwal stuur te die gevestigde hawens om die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van die Oranje-Vrystaat omver te werp.Nietemin het dit Brittanje oor die sowat twee en ‘n half jaar wat die oorlog geduur het,nagenoeg 200 miljoen pond,en 448, 435 Britse-en Rykssoldate en sowat 20 000 Britse lewens gekos om ‘n “Boererebellie” te bemeester. Sjoe!!!
Wat ook van belang is,is dat die Afrikaners van die Kaapkolonie,in teenstellling met die verenig-in-hul-stryd 13 kolonies van die VSA-geen hulp gebied het of werklik stryd gevoer het teen die Britste owerhede om hul bloedgenote te help nie,behalwe vir die klein getal Kaapse rebelle,mag hul geliefde siele in vrede rus.

JAN ·

Statue of Liberty is geskenk van Franse Masons aan VSA.
Washington is ‘n Mason stad .
Hier in SA het ‘n handjievol Engelse Masons die ABO gepleeg en hel-uit baklei teen die Hollandse Vrymesselaars.
Let op hoedat Trump ewe vriendelik, eeewe vriendelik die bokryers in hul eie septiese moeras versuip..
Veral nou met Kavanaugh is die slagordes opgestel….

Jan ·

Meeste van julle sit die pot mis.die amerikaanse konserwatiewes is meestal ouf en het bitter min mag oor. Die asiate is reeds sterk besig om hulle letterlik en figuurlik uit te wis sis net n kwessie van tyd.trump is in elk geval vriende met sjina al gee hy anders voor…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.