‘FroueVonds’: Daar is geen keer aan vroue wat inspireer

leandie-brasler-racheltjie-de-beer

‘n Skermskoot uit die Leandie Lombaard Brasler se eerste musiekvideo.

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om meisies en vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Leandie Lombaard Bräsler is AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap. Sy is ook ’n sangeres, liedjieskrywer en medestigter van die bediening Bid is Braaf. Sy vertel in dié rubriek oor vroue wat inspireer nadat sy vanjaar die liedjie Racheltjie de Beer bekendgestel het om vrouwees te vier. Dié liedjie vereer vrouehelde wat ’n kenmerkende rol in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel het soos, onder meer, Susanna Smit, Emily Hobhouse en Nonnie de la Rey.

Rolmodelle sterf nooit uit nie

As ek aan ’n wyse vrou moet dink, is daar beslis ’n hele klomp van hulle. Een van daardie vroue in my lewe is beslis my ma. Sy is vir my ’n perfekte voorbeeld van ’n Spreuke 31-vrou. Sy sou in die oggende ekstra vroeg opstaan om vir my en my boetie ontbyt en warm sjokolade in die bed te bring – praat van lekker bederf! Maar niks was ooit vir haar te veel nie, ons het altyd eerste gekom, selfs al het sy nie lekker gevoel nie. Dit is die liefde van ’n ma en ’n sterk vrou wat ander se belange bo haar eie stel. Sy het my beslis geleer van dissipline, nederigheid, om diensbaar te wees en baie harde werk (soos om te gaan swot ná skool, want haar raad aan my was dat niemand ooit jou geleerdheid van jou sal kan wegneem nie). Sy het my ook geleer om Godvresend te wees – dit is nie aardse wysheid nie, maar geestelike wysheid.

Dankie, Mamma!

Sterk en wyse vroue oor die wêreld heen het my nog altyd bekoor. Dit was vir my altyd lekker om goeie rolmodelle uit te soek wat min of meer dieselfde belangstellings as ek het, of dit nou gaan oor studierigtings, stokperdjies, passies of geloof — hulle kon werklik bestaan of selfs fiktief wees, uit boeke of films waarvan ek baie hou. Ek kan klaar dink aan Wonder Woman, Sandra Bullock in Miss Congeniality, Susanna Smit, Racheltjie de Beer, Emily Hobhouse of Nonnie de la Rey. Selfs Ester in die Bybel! Om met my vriendin en Natasha Gouws, medestigter van ons bediening Bid is Braaf, te gesels en gesprekke oor die waarheid en God se Woord met jonger vroue en meisies te deel, gee my altyd nuwe inspirasie! Dit het ook die volgende vrae by my laat opkom: Wat maak ’n vrou dapper en sterk? Wat sê die Bybel van vrouwees en vroue wat geseënd is met wysheid? Die Bybel prys vroue wat sterk, wys en bekwaam is in Spreuke 31. ’n Wyse vrou is iemand met:

  1. ’n Goddelike karakter

Spreuke 31:10-12: “Wie ’n goeie vrou het, het iemand wat baie kosbaar is. Sy is baie meer werd as die duurste juwele. Haar man reken op haar en sy beteken baie vir hom. Haar hele lewe lank is sy goed vir hom. Wat nodig is vir die huis, dit kry sy.”

Die Spreuke 31-vrou is eerstens ’n vrou wat Godvresend is (vers 30), want iemand wat Godvresend is, het ons Vader werklik lief en haat dus wat verkeerd is (Spreuke 8:13). Sy hou daarvan om die Here te loof en prys en sy stel haar verhouding met Hom eerste. Mense kan haar vertrou, want sy hou by haar woord. Mense wat haar goed ken, het volle vertroue in haar. Hierdie vrou se innerlike skoonheid staan uit vêr bo haar uiterlike skoonheid, want sy reflekteer die skoonheid van die Here.

  1. Kennis om nie haar tyd, lewe, hulpbronne en vermoëns te vermors nie

Spreuke 31:13-27: “Sy verrig haar dagtaak met vreugde. Sy sal selfs ook buite die huis gaan werk om nog beter vir haar gesin te sorg. Vroegoggend staan sy op om haar gesin te versorg. Vir elkeen het sy ’n taak vir die dag… Sy sal tot laat in die nag werk om haar drome waar te maak. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy doen wat sy moet doen. Vir die armes gee sy kos en die behoeftiges help sy… Omdat sy so bekwaam is, word haar man ook geëer. Almal ken hom. As hy by belangrike mense is, weet hulle wie hy is… Sy is geestelik sterk en tree altyd waardig op. Vir die toekoms is sy nie bang nie. Haar wyse woorde help ander om reg te leef. Sy het goeie raad vir ’n gelukkige lewe. Sy is in volle beheer van haar huishouding. Luiheid ken sy nie.”

Sy is bekwaam (verse 13, 19 en 22), sy is gewillig om te werk (vers 13), sy is vindingryk (verse 14, 16 en 21), ywerig (verse 15, 17, 18 en 27), sy voorsien vir haar gesin (vers 15), is finansieel pligsgetrou (verse 16 en 18), sterk (verse 17 en 25), barmhartig en vrygewig (vers 20), voorbereid vir die toekoms (vers 21 en 25), haar woordkeuses is wys en behulpsaam, dus kies sy haar woorde goed (vers 26).

  1. ’n Vrou waardig om te prys

’n Wyse vrou het nie ’n man of kinders nodig om geprys te word nie. Sy word geprys en vereer vir haar edele karakter en dade. Mense wat bevoorreg genoeg is om so vrou te ken, sal haar navolg omdat hulle na haar opkyk vir die manier hoe sy lewe en omdat sy God vrees. Sy sal niks vermors wat deur God aan haar gegee word nie. Haar standaarde en doelwitte stel sy vir haarself hoog en sy leef daarvolgens. Haar verhouding met God is vir haar die heel belangrikste.

  1. Wyse vroue tree as mentors vir jonger vroue op

Vroue wat werklik wys is, is skaars en van groot waarde en hul wysheid moet dus gedeel word. Om iemand te mentor beteken nie noodwendig ekstra tyd nie, maar dit beteken om iemand in jou daaglikse lewe in te nooi en om hulle toe te laat om te sien, te leer en te groei. Miskien is jy daardie wyse en sterk vrou wat iemand nodig het, of dalk het jy ’n wyse mentor nodig? Die Bybel gee dus raad:

“As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt” (Jakobus 1:5)

“Wie met wyse mense omgaan, kry self wysheid; wie hom met dwase ophou, word self sleg” (Spreuke 13:20)

Ons moet eerste tot God bid en vir wysheid vra. Hy beloof daarom om vir ons te gee as ons Hom vra. Tweedens moet ons ’n wyse persoon identifiseer en tyd saam met hulle spandeer sodat dit op ons kan afvryf. Laastens moet ons deur Spreuke 31 lees en God vra om ons harte te verander! Mag wysheid ons daaglikse gebed word.

My lied, “Racheltjie de Beer” in samewerking met Dapper Media, Forum Films en AfriForum dra ek graag op aan elke brawe vrou wat honger is vir wysheid wat net van God af kan kom.

Kyk dit hier:

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Attie. ·

Hoe lyk ‘n Frou in Frouefonds. Sal ‘n fonds vir manne dalk genoem word Manefonds.

humor ·

Attie sekerlik nie manefonds nie. Die beter of meer paslike naam sou wees mannefonds. Die vroue kan ons dalk benede ag want ons is dan deur die maan gepla. Baie van hulle huldig reeds die opvatting dat ons nie altyd by is nie.

Jerry ·

Solidariteit word met fondse aanmekaar gesit. Ons hoop maar dat alle Afrikanervroue by hierdie fonds sal baat en nie net die fondsskeppers, lede en Afrikanernasionaliste nie. Dit moet asseblief tog vir “Frik bel die polisie” se dogter insluit, ook vir die Helen Zilles se dogters, want hulle is ook Afrikanervroue, al is daar van hulle wat nie bydra om watter rede ookal. Die fonds moet wyer uitreik as bymotiewe van dogma, ideologie en politiek ten einde ons eie hindernisse en tekortkominge te oorkom. Die Frouefonds moet inklusief uitreik, brue bou en grense oorsteek om mensgemaakte mure van vooroordele af te breek. Die fonds moet nie dieselfde fout maak wat die ANC maak en sekere Afrikanervroue uitsluit nie, sluit alle Afrikanervroue in!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.