‘FroueVonds’: Daar is niks wat vroue nie kan bereik nie

Ronel Jooste (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om meisies en vroue deur verskeie projekte te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Ronel Jooste is ʼn geoktrooieerde rekenmeester, finansiële welstandafrigter, spreker en outeur. Ronel is ’n bekende gesig op Maroela Media en deel in dié rubriek inspirasie om die Supervrou wat jy is, uit te leef.

Wees die Supervrou wat jy is

Ek sit bietjie en nadink oor al die rolle wat ek vertolk, onder meer, kind van die Here, dogter, sussie, vriendin, sakevrou, gastehuiseienaar, hardloper, fiksheidsfanatikus, gholfspeler en so gaan die lysie aan… sjoe, dit is omtrent ’n mondvol. Dit laat mens wonder hoe kry vroue dit reg om nie permanent oorweldig, oorwerk en moedeloos te voel nie? Skielik kry die denkbeeldige Supervrou-karakter op die silwerskerm lewe. Elke vrou is inderdaad ’n Supervrou in eie reg ongeag haar unieke omstandighede.

Ek het vroeg-vroeg die korporatiewe leer in die finansiële wêreld geklim ten spyte daarvan dat ek omring was deur mans. Nooit het ek minderwaardig gevoel of dat die mans my nie respekteer nie. Ek het gou besef: as vrou het ek ’n ander tipe benadering tot die sakewêreld en ek moet dit tot my voordeel gebruik. Ek hoef nie soos ’n man op te tree om suksesvol te wees of ’n leier te wees nie. Ek kan net myself wees.

Ek geniet dit werklik om vrou te wees, ongeag of ek optof vir ’n aandjie uit, hard werk in die sakewêreld, ontspan saam met vriendinne en familie of gaan hardloop om fiks en gesond te bly. As vrou kan ek suksesvol wees in my eie reg, maar ek kan ook ’n verskil maak daar buite. Ek kan my talente en vaardighede gebruik om van die land ’n beter plek te maak. Ek het ’n omgeehart en ’n sakebrein en ek dank God daarvoor.

Ek sou dit nie anders wou gehad het nie.

Wat ek wel besef het belangrik is vir elkeen van ons as vroue: Ons moet kyk na ons gesondheid en tyd maak in ons besige roosters om te ontspan en pret te hê. Ons moet gemaklik wees met wie ons is en hoe ons lyk. Elke vrou is uniek en ons moet net streef om ons beste self te wees. Ons moet finansieel onafhanklik wees en genoeg kennis hê om self goeie besluite te kan neem. Ons moet ons eie drome ook kan uitleef en nie altyd terugstaan vir alles en almal nie.

Daar is niks wat ons as vroue nie kan bereik nie.

Ons moet glo in onsself en ons potensiaal. Ons moet lief wees vir onsself en vir God. Ons moet kies om gelukkig te wees. Geluk kom van binne en geen eksterne persoon, plek of besitting kan vir ons blywende geluk besorg nie. Ons moet leer om saam te staan en ander vroue te ondersteun. Wees bly vir ander vroue wanneer hulle sukses behaal of gelukkig is. Jaloesie is ’n lelike groenoogmonster en die son is groot genoeg om oor ons almal te skyn.

Om vrou te wees, is baie meer as net die rolle wat ons vertolk. Om geskape te wees as vrou is spesiaal, uniek en merkwaardig. Dit is ’n voorreg om vrou te wees. Dis ’n voorreg om te lewe en om gesond te wees. Ons moet dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons het Supervrou-kragte en gawes gekry en dit is ons verantwoordelikheid om daardie kragte en gawes wat diep binne-in ons gesetel is, te ontgin en uit te leef. Dis hoekom God ons as vrou geskape het.

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Vroulief ·

Moet asb nie van ons mans vergeet nie – daar is hoeveel vroue wat so vrou verskrik is dat hulle die mans vergeet.
Miskien het sulke vroue is swak selfbeeld en wil iets bewys – ek weet nie – maar dankie tog ek is nie een van hulle nie.
Dit is mos nou mode om die wit man uit te kryt vir alles wat sleg is en hulle plek in die samelewing te wil verwyder.
Ek is dankbaar vir my man en my seun en sal vir hulle teen hierdie sogenaamde super vroue opstaan en dit sal van my ‘n supervrou maak.
My gesin kom eerste – nie my werk nie.

Ronel ·

Vroulief ek is net so lief vir die man in my lewe en hy kom na God ook eerste in my lewe. Die artikel gaan egter nie oor vrouens vs mans nie.

Johan Grobler ·

Hi Ronel: ek sien nie in jou lang lys van rolle dat jy ‘n “getroude vrou” of “ma” daar lys nie? Jy mis dus uit op sekerlik die 2 vernaamste rolle wat ‘n “supervrou” defenieer. Daar is steeds geen wonderliker rol wat ‘n vrou kan speel nie as om in ‘n liefdevolle huwelik te wees en haar kinders te versorg en grootmaak in die wee van die Here. Hoed af vir al daardie dames!

Greta ·

Ai… so negatief, en dan, en dag gaan so positiewe boodskap tot gronde

Ronel ·

Hi Johan. Ek is in ‘n pragtige, liefdevolle verhouding met ‘n wonderlike man. Dis my persoonlike keuse om nie kinders te he nie en ek mis dus op niks uit nie. Gelukkig het elke vrou daardie keuse en dit maak haar beslis nie meer of minder vrou nie.

Berdéhan Brand ·

Die lewe bied baie uitdagings, tuis, korporatief, oral. Die grootste hiervan (wat in baie gevalle ontbreek) vir die vrou, dink ek, is om balans te vind en ma en versorger te wees (as prioroteit).

TJ ·

Ek stem saam met van die lesers (en die skrywer wat soveel wonderlike werk doen), vrouens moet hulle self bemagtig en gebalanseerd probeer lewe… MAAR net so mans en kinders ook.
Ek wil ook die piep kry as so baie – nie net mense in ons land nie- so ‘n groot ophef maak van vrouens. Ek is self ‘n vrou, ‘n gelukkige een daarby, en ‘n eggenoot en ‘n ma vir ons kinders, wat ook 110 balle het om gelyk in die lug te hou. Ons moet sterk genoeg in ons self wees om nie te voel dat ons “spesiaal” hanteer moet word nie. Ons kry mos ons eer en erkenning by ons Hemelse Vader en by mense wat vir ons lief is. Het nie nogdig om byvoorbeeld Vrouedag te vier om te voel ons geld of is iets werd nie. Ons ken mos ons identiteit. Wanneer word Mannedag gevier? (Mans wat swoeg en sweet, hard werk en vir ons soveel liefde en sekuriteit bied). Ons is almal ewe belangrik! Mag ons almal mekaar opbou en nie net een geslag probeer ophef nie. Net my opinie :-)

Therese van Schalkwyk ·

Puik stuk!
En goed om vir ‘n verandering te lees van ‘n vrou wat haar ‘man’ kan staan in die werksomgewing en nie vol klagtes is oor haar manlike kollegas nie.
Die vroulike geslag is dikwels hul eie grootste vyand wanneer hul aandring op spesiale behandeling. Kan nie jou brood aan albei kante gebotter wil hê nie.
Doen so voort, Ronel Jooste!

gatiep ·

Ek weet nou nie want ek hoor binnekort gaan jy nie meer mans en vroue kry nie.
Blykbaar is daar geen verskil tussen man en vrou?Ek weet net ek sien vroue gaan baie swaar kry in toekoms.Met die nuwe jeug meisiekinders wat jy nou kry gaan mans hulle respek vir vroue verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.