‘FroueVonds’: Laurika Rauch vertel van vrouwees

Die Afrikaanse ikoon, Laurika Rauch, vertel in dié rubriek wat dit vir haar beteken om ’n vrou te wees. Argieffoto.

Solidariteit Helpende Hand het onlangs ʼn baanbrekerinisiatief die FroueVonds bekendgestel waardeur die organisasie meisies en vroue deur verskeie projekte wil bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word.

Die Afrikaanse ikoon, Laurika Rauch, vertel in dié rubriek wat dit vir haar beteken om ’n vrou te wees.

’n Ode aan vriendinne

Ek was agt jaar oud toe Anna (nie haar werklike naam nie) en haar familie in Pinelands ingetrek het en sy die dag in ons graad 3-klaskamer ingestap het. Sy was ’n sprankelende mens en almal het dadelik van haar gehou. In Engels sou sy beskryf kon word as ’n jolly hockey sticks-mens.

Daar was geen struikelblok – groot of klein – wat vir haar soos een gelyk het nie. Haar entoesiasme vir die lewe was aansteeklik, en ons, ten spyte van die feit dat ons sulke teenoorgestelde persoonlikhede gehad het, het van daardie eerste dag af geweet: ons gaan vriendinne wees vir die res van ons lewens. En so was dit ook. Anna is in 1994 oorlede toe ons albei in ons 40’s was en saam met haar is ’n deel van my ook weg. Ons het mekaar aangevul as mense en dis net in ’n vriendskap met so ’n vriendin dat ’n vrou iets beleef wat sy in geen ander verhouding ervaar nie.

Vrouwees beteken dat ek toegang het tot daardie magiese konneksie wat ’n vriendskap met ’n vriendin is. Elke vriendskap het sy eie dinamiek en elke vriendin vul ’n mens aan op ’n eiesoortige manier.

Ons deel konfidensiële gebeure met mekaar, ons vertel van nuwe waarhede wat ons ontdek het, ons weet dis veilig en dat die band van vertroulikheid nooit verbreek sal word nie. Vriendinne deel die lief én die leed met mekaar. Vriendinne ondersteun mekaar, bou mekaar op – dit maak nie saak wat die omstandighede is nie. Vriendinne – régte vriendinne – oordeel nie en gee mekaar altyd die voordeel van die twyfel, maar bied tog ’n gewaardeerde en volwasse perspektief op dinge wat spruit uit hul eie verwysingsraamwerk, geestelike groei en lewenservaring.

Elke keer as ek vir ’n uur of wat tee gedrink het saam met een van my vriendinne, is ek ’n gelukkiger, meer afgeronde mens. Elke keer as ons op dié manier ons vriendskapsbande versterk het, voel ek dat ek die wêreld kan oorwin!

Te veel, heeltemal te veel, van my dierbare vriendinne het reeds oorgestap, maar ek is dankbaar om te kan sê dat baie nog hier is. Almal woon nie in my onmiddellike omgewing nie, maar ons maak altyd plan om bymekaar uit te kom. As ek my lewe weer sou kon oor hê, sal ek elke vriendskap – vir hoe kort of hoe lank ook al – weer net só wou hê.

My vriendinne is almal mense wat dóén – vir hul eie mense, vir hulself en ook vir ander. Ons kan geduldig wag – soms vir maande – voordat ons by mekaar kan uitkom as ons te veel verpligtinge het. Ons groei saam, ons deel saam, en – baie belangrik – ons lag saam!

Ek salueer my vriendinne – hulle weet wie hulle is – want elkeen seën my lewe op ’n wonderlike unieke manier.

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.