‘FroueVonds’: My reis na ’n mooier ek

Susan Coetzer, ’n Afrikaanse akteur, vryskutjoernalis, kunstenaar en skrywer, vertel in dié rubriek wat vrouwees vir haar beteken. Foto: Verskaf.

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Susan Coetzer, ’n Afrikaanse akteur, vryskutjoernalis, kunstenaar en skrywer, vertel in dié rubriek wat vrouwees vir haar beteken.

Jy is genoeg vriendin!

Wanneer ek terugkyk na my lewensreis deur al die verskillende seisoene sover, sien ek ’n pad vol groei en goddelike genade tot hier waar ek myself vandag ’n blymoedige, geliefde en hoogs geseënde vrou kan noem.

Maar dit was nie altyd so nie. Ek het vir baie jare glad nie van myself gehou nie. Vrouwees was vir my moeilik. Ek het ander mooi suksesvolle meisies wat ligvoet deur die lewe kon trippel, beny. Was daar ’n resep? Of was hulle net met ’n groot goue poedinglepel in die hand gebore – bestem om wenners te wees. Was ek weens my agtergrond en omstandighede, gebrandmerk om as sukkelaar deur die lewe te worstel? Sou ek altyd met die agterste speen tevrede moes wees – met die krummels op die skinkbord? Die stert wat hang, nie die kop wat lei nie…

Ek het as student koponderstebo, oorgewig en swaarmoedig in lang swart monderings voortgeploeter met ’n baie lae selfbeeld, sonder enige selfvertroue om my mond oop te maak en ’n inset te lewer. Vandag, baie mane later, is ek ’n uitbundige vrou – ’n geseënde spreker, skrywer, skilder en aktrise wat nie skroom om haar unieke persoonlikheid, humor, gawes, talente en die pad van ontwikkeling in emosionele intelligensie en geloof met oorgawe met ander vroue te deel nie.

My potensiaal, besef ek in hind sight was altyd daar. Ek moes net van rigting verander om dit te ontdek en te ontgin… ’n nuwe pad vind na waar Sy seën reeds op my gewag het.

Negatiewe denke en my beperkte visie oor myself en my gawes het my jare lank gesaboteer. Ek het myself as minderwaardig, lelik en onbevoeg ge-label. Ingekoop op hierdie somber prentjie. My fokus was jare lank op die muur van emosionele gestremdhede, onsekerhede, beperkinge en tekortkominge – als wat my groei beperk het. Ek was gedurig besig om myself te vergelyk met ander begaafde vroue – diep oortuig van my agterstand en nie goed genoeg wees nie, in vergelyking met die pasaangeërs.

Indien jy identifiseer met hierdie gevoel van te min wees as vrou, wil ek graag vir jou hoop bring terwyl jy hier lees. Jy is genoeg, vriendin! Jy kwalifiseer met vlieënde vaandels! Daar is reeds lank voor jou geboorte wonderlike goddelike sade in jou geplant. Sade wat bestem is vir groot en mooi dinge op jou lewensreis.

Maar ek en jy het elk ’n verantwoordelikheid. Ons moet hierdie sade met latente vrug wat ons ontvang het, natlei met sagte water wat groei bewerkstellig. Ons kan bly staar na die slegte dinge of fokus op die te min. Of ons kan vandag nog ’n wilsbesluit neem en die goeie tussen die rommel uitsnuffel en met ’n nuwe lewensingesteldheid treetjie vir treetjie na daardie Rivier van seën beweeg.

’n Goeie besluit wat ek geneem het, was om die woord “uitdaging” in my woordeskat te vervang met “avontuur” – dit klink net soveel lekkerder en energise my sommer.

“Ek is op ’n lewensreis vol avontuur, pret, leerervarings en het geleenthede om ’n positiewe verskil te maak. Wat ’n voorreg!”

Ek dink deesdae heeltemal anders oor myself en die lewe. Ek sien myself as die nederige regopkop wat lei en bemoedig, en nie meer as die arme slepende hangstert nie. Ek beskou myself as ’n oorwinnaar, nie ’n slagoffer nie. Ek het ’n nuwe label wat my omskryf. Ek is ’n geliefde vrou, nie ’n minderwaardige uitgeworpene nie. Maar vir my om te kon transformeer, het ek gevind, vra wel toewyding, gehoorsaamheid en volgehoue inoefening by die Meester.

Ek kan vandag sê ek geniet dit om vrou te wees. Ek is uitgelate daaroor. Ek staan soggens met vrolikheid op en sien uit na my dag vol avontuur. Ons vroue is geskep om oral op die markpleine van die lewe die sagter, mooier deel van Sy skepping te verteenwoordig – the finishing touch te wees op Sy meesterwerk.  Of jy nou verlief, verloof, getroud, geskei of enkellopend is.

Op my reis na ’n mooier ek, moes ek koebaai sê vir my ou dieet van negatiewe energierowende gedagtes van selfbejammering, skuldverplasing, veroordeling onvergewensgesindheid, bitsigheid, woede, wrokke, bitterheid, pyn en afguns. Ná ’n lang tog oor baie berge het ek oor my ou selfbejammerende, selfbehepte, swaarmoedige, kleinsielige self gekom. My fokus het verskuif na die magtige Rivier.

My fokus is op dankbaarheid. Ek is ’n geseënde vrou, ma, skoonma, ouma, vriendin, en kunstenaarsiel. En die kersie daarop: ek is die geliefde dogter van die Allerhoogste. Ek het gekliek dat ek genoeg is – so eienaardig en andersoortig as wat ek is. Sy genade is genoeg. Ek is geliefd.

Hierdie wete het my hart diep aangeraak en my gesindheid verander.

Vrouwees beteken vir my vandag nuwe dinge. Om sonnig en blymoedig te wees. Sterk, maar ook sag. Selfversorgend met gesonde grense. Standvastig, maar ook plooibaar. Meelewend en empaties. Liefdevol en genadig. Om my sussies nie te vertrap nie, maar om Sy son op elke uiteenlopende vrou te laat skyn en haar aan te moedig om die beste weergawe van haarself te word. Tot eer van Sy naam!

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yolandi ·

Net wat ek moes lees vandag… Baie dankie
Susan, jy is ‘n pragtige mens!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.