‘FroueVonds’: Net liefde kan ʼn verskil maak

Venessa Schoeman. (Foto: Verskaf.)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Venessa Schoeman, Finesse-tydskrif se redakteur en handelsmerkdirekteur by Carpe Diem Media, vertel in dié rubriek die belangrike rol wat liefde in vroue se daaglikse lewe speel.

Die sterkste wapen wat elke vrou in haar hart dra is liefde

Ek is nie ʼn aktivis nie. Ek is ook nie ʼn feminis nie. Ek staak nie en ek breek nie af nie. Ek hou nie van baklei nie en ek dink oorlog is sinneloos. Tog weet ek ook dat jy, wanneer jy vir niks staan nie, jy vir enigiets sal val.

Vandag staan vroue in ons land op die skouers van die vroue wat gebaklei het vir die reg om te werk, te stem en besighede te besit. Vir hierdie vroue haal ek my hoed af, want hulle het ons almal se vryheid gekoop. Soms teen ʼn duur prys, maar altyd met ʼn brandende passie om ʼn verskil te maak; om verandering teweeg te bring.

En dis ook my passie as vrou. Om ʼn verskil te maak. Nie deur hard te skreeu en ʼn groot bohaai te maak nie. Nie deur iets terug te verwag of bakhand te staan nie. Maar eerder om my verantwoordelikheid na te kom en in liefde uit te reik na ander.

Ek glo die sterkste wapen wat elke vrou in haar hart dra, is liefde. Met liefde kan ons soveel meer vermag as met vrees, of woede of haat. Vrees maak ons lam sodat ons niks kan of wil aanpak nie. Woede los ons met spyt en verwyt, en haat skeur ons weg van mekaar. Maar met liefde kan ons brûe bou, kan ons mekaar ondersteun en kan ons saam sterker wees.

Vir my is vrouwees liefde. Die sagte woord van ondersteuning wanneer iemand moedeloos is en hoop verloor het. Die stywe druk wanneer iemand se hart in stukke gebreek het. Die bord warm kos of die snoesige trui op ʼn koue winterdag en die motivering om in iemand te bly glo wanneer die wêreld daardie persoon afgeskryf het.

En nee, dit is nie noodwendig die honger kinders in Ethiopië of die armes in Indië na wie ek dink ons moet uitreik nie. Dis veel eerder die mense hier by ons. Óns mense. As elke vrou in Suid-Afrika vir haar eie kinders kan leer om God lief te hê en om haarself en haar naaste lief te hê, sal ons wêreld heeltemal anders lyk. As ons vir ons kinders kan leer om hulself en ander te respekteer en ander te behandel soos wat hulle self behandel wil word, glo ek sal ons vorentoe beweeg.

Dit begin nie sommer net iewers by iemand. Dit begin by élke vrou, in haar eie gesin en by die mense wat haar elke dag omring. Daardie mense wie God aan ons toevertrou het. Wat doen ons met daardie verantwoordelikheid? Wat sê ons elke dag vir hulle? Wat leer ons hulle? Hoe lééf ons? Hoe lyk dít wat hulle elke dag sien en glo en uiteindelik word?

Dis maklik om mooi woorde te sê, om lessies te leer en om mooi boodskappe te stuur op WhatsApp of sosiale media. Maar leef ons dit? Leef ons liefde? Elke dag? Is dit ʼn leefwyse? Want om elke dag in liefde te leef, is die grootste uitdaging vir vroue elke dag.

Vir my is vrouwees liefde. Want net liefde kan ʼn verskil maak.

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.