‘FroueVonds’: Saam met voorreg kom aanspreeklikheid

Monique Steyn. Foto: Verskaf.

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én steunpilare in hul gemeenskappe te word. Die Afrikaanse sangeres Monique Steyn vertel in dié rubriek die belangrikheid van die rol wat vroue in vandag se samelewing speel. Monique is een van die FroueVonds se trotse ambassadeurs.

Vandag se vroue is vegters vir verandering

Wat beteken dit om vrou te wees… ? Net as ek dink die antwoord is ooglopend en vanselfsprekend, knoop my tong onmiddellik en begin ek met my gedagtes worstel. Ons vroue kom al ’n baie lang, strawwe pad.

Tientalle generasies voor ons se vroue moes ongelooflik hard baklei om vir ons die stem en geleenthede te bied wat ons vandag kan geniet om ’n bestendige plek in die gemeenskap te vestig. Tog het bewegings soos “#MeToo” onlangs eers die lig gesien en in Suid-Afrika het geweld teen vroue die laaste jaar nuushooftrekke oorheers. So, dames, dit lyk my ons het nog ’n paar myl om af te lê. In lande soos onder andere Saoedi-Arabië lewe vroue so te sê sonder enige mening van hul eie. Hulle mag nie bestuur, reis, werk sonder toestemming of enigsins hul huise alleen verlaat nie. Hierdie reëls is eers die afgelope jaar baie fyn aangepas.

Vryheid, mening, onafhanklikheid, gesag, invloed, geleerdheid, geleentheid en keuse is vir die res van ons so normaal soos asemhaal en ons dra dit met trots. Ons lewe volstoom!

Maar saam met voorreg, kom aanspreeklikheid. Die verantwoordelikheid om dit te koester, meedoënloos te beskerm en ’n ware voorbeeld te wees vir die volgende generasie “vrou”.

So, wat beteken “vrou wees” dan nou eintlik? Elkeen se ervaring is uniek, elkeen se mening en omstandighede verskil. Dit neem dalk ’n ander vorm aan soos ons groei. Tog is ons saam, inherent vrou. Hier is my weergawe.

Ek is, en was nog altyd, omring deur ongelooflike vroue. My ma was die voorbeeld van ’n ware dame, maar maak geen fout nie, sy kon ’n rot ’n myl ver ruik en het nie geduld gehad met onnodige nonsens nie. Sy het haar nooit laat oorrompel deur die probleem nie, maar haar eerder bemoei met die oplossing. Daar was ’n honger vir uitdaging en inligting wat ek beslis geërf het. Ek het nie kinders nie, maar deur my jonger sussie kon ek die absolute genot, trots en alomvattende liefde, wat net mammas ken, beleef. Ek sien hoe my vriendinne werskaf om die balans te vind tussen werk, huis en familie. Lees die handleiding? Daar bestaan nie so iets nie. Een woord wat vroue so reg deur die bank so mooi opsom, is dalk Engels, maar dit dra soveel gewig. Resilience (veerkragtigheid). Ons kyk die lewe vierkantig in die oë en weier eenvoudig om op te gee.

Vroue in vandag se tyd is vegters vir verandering en in ’n wêreld wat net in die laaste dekade teen die spoed van wit lig groei in onvoorspelbaarheid en uitdagings, is hierdie eienskap van kardinale belang. Ons moet ons dogters, wat eindeloos teen boelies beskerm moet word, leer hoe om dit te hanteer en semi-onbeskaamd in haar eie waarde en uniekheid te glo. Hulle moet die regte emosionele gereedskap bymekaar maak om die wêreld op professionele en persoonlike vlak met selfvertroue en oortuiging aan te pak. Ons moet mekaar ondersteun en bemagtig. Ek sien elke dag hoeveel vroue wat opreg saamspan kan vermag. Dit is bemagtigend op elke vlak.

Vroue besef vandag dat dit net so belangrik is om ander vroue te help om hul ambisies te verwesenlik as om hul eie doelwitte te bereik. Ons hoef dit nie alleen te doen nie. Eureka!

Ek kyk op en word geïnspireer deur vroue wat hul mening kan lug, maar ook weet hoe om geduldig en aandagtig te luister. Vroue wat hulself nie in ’n boksie plaas nie en diversiteit nie net erken nie, maar verwelkom. Ons kan so baie by mekaar leer.

Deur ons selfkritiek opsy te stoot, kan ons weer ons Godgegewe intuïsie gebruik. Ons is almal daarmee gebore en volgens my is dit ons waardevolste wapen. Iewers in jou ken jy al die antwoord voordat jy dit nog gaan soek het. Leer jouself weer vertrou.

Wees lief vir jouself en die onvervangbare mense om jou. As jy ’n beter weergawe van jouself wil word, moet jy weet wat jy werd is en die belangrikheid van waardevolle verhoudings koester. Aanvaar komplimente – ek weet dit is soms moeilik – en deel hulle uit asof dit verniet is. O wag, dit is! Ons lewe in ’n tyd waar jy volkome jouself kan wees. Wys wie jy is! Druk jou unieke stempel af, al is dit in jou mode, stylgevoel, kosvoorkeure, die tipe musiek waarna jy luister en alles wat jou individualiteit kan uitlig. Onthou die kind in jouself wat sorgeloos en sonder rede gedans en hardop gelag het.

Ongeag waar jy jou in die lewe bevind, wees trots op jou prestasies. Moenie jou lewensverhaal met ander mense sʼn vergelyk nie. Of jy ’n snelresies of ’n maraton verkies, weet dat jou pogings saak maak en dra dit met trots.

Verdedig jou standpunt en wees ferm. Veg vir wat reg is, maar sorg ook vir ’n oop gemoed. Enige vrou se skoenekas is seker haar trots, so maak seker jy loop so nou en dan in iemand anders se hakke ook. Jy mag dalk net die wêreld uit ’n ander oogpunt ervaar, meer simpatie toon en in haar vreugde kan deel sonder oordeel.

Ek is trots op wie ek is. Ek vier die feit dat ek lewe. Ek lewe nie in die verlede nie, dit is ’n absolute en totale mors van tyd. Ek probeer wel baie hard om lesse vinnig te leer en dit toe te pas en om myself in geheel lief te hê. Dit beteken dat ek ook my tekortkominge moet erken, dit vierkantig in die oë kyk en so eerder my sterkpunte laat skitter. Glo my, vir iemand wat baie druk op haarself sit en erg perfeksionisties kan wees, het dit tyd geneem. Baie tyd. Maar in die woorde van my musikale ikoon Eva Cassidy: Time is a healer.

Ek kan net dankie sê vir die Here se stem in my kop, Sy plek in my hart en die vroue met wie ek die voorreg het om hierdie aarde mee te deel. Julle hou aan om my te inspireer, te verras en my uit te daag. Die voorbeeld wat julle elke dag stel, lei en voorspel die voetspore wat ek wil agterlaat. En daar waar jy dalk net ’n paar enkelspore sien wat op mekaar volg, is waar ons saam gehuppel het.

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SomeOne ·

monique, net soos jou stem en voorkoms is jy ‘n aansporing vir ander mense, veral vroue, jys pragtig en ek hoop dat alles wat jy aanpak ‘n enorme sukses sal wees, ek glo die Here is met jou, sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.