‘FroueVonds’: Tokkel jou hartsnaar, laat die brein rus

Annie Coetzee. Foto: Verskaf.

Solidariteit Helpende Hand het ʼn baanbrekerinisiatief, die FroueVonds, bekendgestel waardeur die organisasie meisies en vroue deur verskeie projekte wil bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word.

Annie Coetzee is ’n professionele openbare spreker, skrywer en korporatiewe afrigter op die gebied van menslike bemagtiging. Haar belangstelling in holistiese welstand en kreatiewe energie in die werkplek het ’n onmisbare rol vir haar geskep, veral in die bemagtiging van vroue in ’n spannende wersomgewing.

Jy, jou HART en jou lewe!

Dit is ’n wonderlike voorreg om te kan skryf oor die rol en waarde van jou hart in vandag se haastige bestaan. Al kan ons nooit die wonder en krag van ’n flink en gesonde brein onderskat nie, wys talle studies dat miljoene mense wat gereeld breinkrag toepas, steeds knak onder die druk van ’n stresvolle en té besige lewe. Ons brein het beperkings, veral wanneer ons so besig is dat ons glad nie in pas met ons hart lewe nie.

Dekades van breinstudies en miljoene voorbeelde van mense wat net op breinkrag staatgemaak het, is steeds in hospitale, steeds in gebroke verhoudings en openbaar steeds gedrag wat roep na wysheid!

’n Té besige brein maak die hart stil. ’n Té vol brein maak dat ons nie hoor wat ons hart ons wil vertel omtrent ons verhoudings, gesondheid, sake by die werk, en baie meer nie.

My lewe bestaan omtrent net uit navorsing. ’n Onlangse studie oor menslike ontwikkeling, wat ook gesondheid insluit, dui daarop dat die hoofrede waarom mense nie werklik verander nadat hulle boeke lees, seminare bywoon of persoonlike leiding kry nie, is omdat hulle nie daagliks vir ten minste 20 minute mediteer nie. Ek verwys na stilword sonder dat jou foon naby jou is.

Ek het die saak verder ondersoek en talle mense uitgevra oor hoe hulle stiltetyd daagliks skep. Ek het ook hope vraelyste uitgedeel om te kan bepaal waarom daar dan soveel geld bestee word aan ontwikkeling, maar steeds so min positiewe uitslae om ons merkbaar is.

Ek het ook my eie tydbestuur versigtig begin monitor en myself begin vra: Skep ék spesiale tyd elke dag om stil te word? Is ék bereid om my selfoon, rekenaar en ander aandagaftrekkers af te skakel, sodat ek net kan wéés – en hopelik ook my God kan hoor praat? Dít bly ’n uitdaging waarmee ek elke dag lewe en werk.

Hierdie stilwees-oomblikke hou vele wondere in. Ek verwys slegs na drie van die heel beste voordele wat dit vir jou, jou lyf en jou lewe inhou:

  • Jy hoor jou hart se klop en raak bewus van die energie in en om jou;
  • Jy raak bewus van ’n ritme in jou lewe wat balans aanspoor;
  • Jy hoor hoe God saggies met jou praat.

Só gaan jy meer bewus raak van hoe jy alles wat met jou gebeur, hanteer – asook wie en wat jy in jou hart bewaar. En teen hierdie tyd weet ons dat wat ons in ons hart bewaar, ons hele lewe beïnvloed.

Skrywers, navorsers, mediese kundiges en terapeute gebruik dikwels nie dieselfde terme wanneer hulle oor die “hart” van menswees gesels nie. Nietemin kom baie studies en leeswerk ooreen en is daar genoeg stof om te glo dat ons hart baie te doen het met ons gees. Hier is ’n goeie voorbeeld: Wanneer ons hoop dat iets gaan gebeur, is dit ’n geestelike kapasiteit. Hoop het nie veel met ons brein te doen nie.

Dit is tog belangrik om te weet van akkurate inligting oor die fisieke hart.

  • Van al die organe wat ons besit, is ons hart die sterkste;
  • Wanneer ons in ’n situasie is wat ons ontstel, (of bly maak) is ons hart die eerste orgaan wat dadelik op die situasie en omgewing reageer. (Wanneer jy, byvoorbeeld, in die motor is en skreeuende sirenes en remme agter jou hoor, is jou hart die eerste orgaan wat reageer en hewig begin bons)
  • Alles wat jy liggaamlik wil organiseer, begin in jou hart.

Hier is een van baie voorbeelde: Wanneer jy voorberei vir ’n staptoer, is dit jou hart wat die hele liggaam se energie saamsnoer en organiseer, in samewerking met die brein, om jou liggaam in staat te stel om die toer aan te durf. Ja, positiewe denke speel ’n groot rol, maar positiewe gevoelens speel ’n belangriker rol.

’n Wonderlike gedagte om hierdie rubriek mee af te sluit is dit: Jou hart weet en erken dat dit jou brein en liggaam nodig het. In teenstelling met die brein en liggaam wat telkens probeer om sonder die hart (fisiek en geestelik) deur die lewe te reis, is jou hart eerlik en eerder ’n partner seeker as wat dit alleen en afgesonder in jou lewe ’n regmatige plek wil hê.

Begin nou met die volgende klein takie en moenie verbaas wees as jy reeds binne die eerste week meer ontspanne gaan wees en groter liggaamlike gesondheid en energie gaan geniet nie: Teken in jou dagboek slegs vyf minute per dag aan wanneer jy glad nie deur jou brein gelei gaan word nie. Dus, sit ontspanne en haal diep asem – moenie probeer dink nie – raak net bewus van jou asemhaling en die energie wat deur jou liggaam vloei. Doen letterlik niks. Hou gerus ’n dagboek of skoon bladsy naby jou, en wanneer hierdie vyf minute verby is en jy voel jy wil iets neerskryf, doen dit dan. Stadig maar seker gaan jy jou hart se taal begin verstaan.

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charmaine ·

Baie goeie artikel ek gaan beslis dit probeer om niks te doen vir 5 minute.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.