‘FroueVonds’: Verbreek die kettings van stereotipes

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, AfriForum se adjunk- uitvoerende hoof van internasionale skakeling. )Foto: Reint Dykema)

Solidariteit Helpende Hand het onlangs ʼn baanbrekerinisiatief die FroueVonds bekendgestel waardeur die organisasie meisies en vroue deur verskeie projekte wil bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word.

Alana Bailey, ’n Suid-Afrikaanse skrywer, historiese navorser en adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum en Kraal Uitgewers, vertel in dié rubriek wat dit vir haar beteken om ’n vrou te wees.

Leef jou roeping, ongeag stereotipering

Vandag wil ek my ouers, oupa en ouma bedank wat my sonder stereotipes grootgemaak het. As enigste kind het ek bietjie van alles gedoen toe ek klein was. Ek het saam met my ma en ouma naaldwerk gedoen en saam met my pa en oupa duiwehokke gebou. Voor ek nog skool toe is, kon ek koffie en tee maak, want my ma het geglo ek moet weet hoe om kookwater veilig te hanteer. Ek kon spykers reg inslaan, want my oupa het gesê as ek leer hoe, gaan my duimnaels waarskynlik nooit blougeslaan raak nie. Ma en Oupa was beide reg. Wel, meestal.

Hiermee saam het die selfvertroue gekom dat ek enigiets kan leer doen. Van ganse pluk tot abseil, kook vir tagtig mense op ’n kampstofie tot boekrakke bou, van rympies opsê by die dorp se eisteddfod tot skripsie skryf oor die argumente in Johan Huizinga se Homo Ludens ‒ ek het sommige goed met meer sukses as ander probeer doen, sommige met meer plesier as ander. Ná die abseilervaring het die reël uit Die Stem, “waar die kranse antwoord gee”, vir my nuwe betekenis gekry …

Nietemin, om ’n kind te leer om nie by stereotipes te hou nie, maar self sy of haar sterkpunte te ontdek en dit onbevrees uit te leef, is seker een van die grootste gawes wat ’n mens aan ’n kind kan gee.

Daarom word ek kwaad vir ’n wêreld waar dogtertjies steeds van studiegeleenthede weggehou word, of sekere werkgeleenthede net vir sekere geslagte geoormerk word. Met ’n ma wat maande lank ná ʼn beroerte en hartversaking in hospitale was, het ek geleer dat die beste versorgers nie noodwendig vroulike verpleegsters is nie en die beste dokters nie noodwendig mans nie.

Tog is dit stereotipering wat ons steeds beleef – ek sien pas weer in ’n kinderboekie dat die dokter ’n oom is en die verpleegster ’n tannie. Ek het al beleef (regtig ja, minder as ’n dekade gelede) dat beide vlieëniers op ’n vlug van Bloemfontein na Johannesburg vroue was en een van die manlike passasiers (om hierdie rede) gevra het om op ’n ander vlug geplaas te word.

Vanselfsprekend het ons die vlug oorleef – ek weet nie wat met hom gebeur het nie. Is ek ’n skuim-om-die-mond, fanatiese vroueregte-strydende Amasone of Valkyrie? Nee, ek is net iemand wat dit vir mense wil moontlik maak om hul roeping uit te leef daar waar hulle liefde, aanleg en talente lê, sonder om deur kleinlike mense teruggehou te word met voorbehoude oor wat ’n man of vrou “behoort te doen” of te wees.

Baie van die krisisse in ons land word veroorsaak deurdat die meeste kinders in huise met net een volwassene (wat nie noodwendig ’n ouer is nie) grootword, of soms selfs geen meerderjarige nie. Misdaad, dwelms en bendes trek hierdie kinders aan, omdat dit ’n soort identiteit of doel aan hulle bied. Ons jeug het dringend behoefte aan stabiele gesinsomstandighede met ouers wat hul rolmodelle kan wees en wat ten nouste by hul opvoeding betrokke is, aan hulle onvoorwaardelike liefde, ’n gesonde identiteitsbeeld en sekuriteit kan bied.

As vrou, maar ook as mens, hoop ek dat ons al meer vangnette kan skep wat hierdie kinders kan help om hul eie waarde te leer waardeer, hul identiteit te leer ken en hul sterkpunte te ontdek.

Solidariteit Helpende Hand doen dit reeds vir meisies met, onder meer, kosblikkies, skooltasse en studiebeurse waar geen diskriminasie op grond van geslag geskied nie, asook (veral nou) die projekte van die FroueVonds.

Ons leef nie in ’n volmaakte wêreld nie, en juis daarom moet ons wat as kinders die voorreg van geborgenheid gehad het en die genade van ’n volhoubare bestaan ken, verseker dat daar aan kinders wat sonder keuse in slegte omstandighede beland, ’n realistiese kans gebied word om daaruit te ontsnap. Soms het ’n meisie- of seunskind unieke uitdagings, daarom is ek opgewonde oor die FroueVonds wat hierdie eiesoortige probleme kragdadig vir meisies aanpak, maar hulle nie as minderwaardig behandel nie. Dié projekte verseker dat hulle as volwaardige lede van die gemeenskap die toekoms met hoop tegemoet kan stap.

Daar is dus geen beter manier waaraan ek kan dink om vrouwees te vier, as om hierdie projekte te ondersteun nie.

En Manne, julle is net so welkom om deel te neem!

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marie ·

Ek gaan nou n klip in die bos gooi wat miskien vir baie vrouens gaan voel soos verraad teenoor hulle. Dit is nie, slegs iets om oor na te dink. My vraag aan alle vroue is die volgende: dink julle nie dat al die geslagsgedrewe optogte, besware en die sg. “vrouekaart” juis ons stand in die gemeeenskap verswak nie? Ons wil wel gelyke regte, salarisse, behandeling he, maar ons verwys na onsself as weerloos, broos en asof ons ekstra goed behandel moet word in die samelewing. Ons begin sulke idiotiese hutstekengroepe soos #menaretrash#. Ons veroorsaak in sig selwers miskien die gedrag wat dan teenoor ons getoon word deur mans. My persoonlike ondervinding was dat respek verdien moet word. Die “vrouekaart” werk net soos swart bemagtiging nl. mense verloor respek vir jou. Daar is natuurlik ernstige gevalle van huishoudelike geweld en misbruik, gebruik die korrekte instansies om jou te help en moenie die slagoffer bly nie, gaan weg uit die toksiese verhouding. Baie vrouens se selfbeeld is so laag dat hulle aanbly in die verhouding en selfs glo dat dit hulle skuld is. As afsluiting, daar is baie miljoene mense wat ordentlik is, hulle is die goeie voorbeeld vir al die ander, vrouens of mans. Ter afsluiting: wees paraat, doen n selfverdedigingskursus, kry n wapen en oefen gereeld, vermy gevaarlike situasies.

Therese van Schalkwyk ·

Die vertelling oor die manlike passasier is skreeusnaaks! :-)
Kan hom nie régtig kwalik neem nie, maar dalk vlieg hy nou al lustig saam.

Bemagtiging en ondersteuning aan mense in slegte omstandighede is noodsaaklik.
Mag FroueVonds van krag tot krag gaan.

Weet ook presies wat Marie (hierbo) bedoel.
Die wêreldwye neiging om ‘n vroue-kwota ten alle koste op elke gebied van toepassing te maak, raak werklik ietwat verleentheidswekkend … by die gebrek aan ‘n beter woord.

John ·

Nee wat, my eerste opmerking is dadelik verwyder omdat dit ‘n ander standpunt huldig. Dit is die mans wat onder erge druk is en weens hul depressie en magteloosheid soms hulself te buite gaan… soos te veel drink. Vroue, ook wit vroue, het na die politieke swaai en wit mans afgedank is, beheer in huise oorgeneem as die broodwinners en septerswaaiers. Swart vroue doen selfs nou swaar kaliber werk wat eintlik deur fisies sterk mans gedoen behoort te word. Bogenoemde prekie is gewigtige outydse woman libber talk… Wat wil die skrywer aan Afrikanervroue sè wat hulle nie reeds weet en kan doen nie. Die meeste vroue kan spykers inkap en weet ook goed hoe om hul mans se doodskiste eiehandig toe te spyker en die sesvoet-na-onder te grawe. AfriForum kry binnekort ‘n nuwe baas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.