Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Jhua-nine Wyrley-Birch, ’n joernalis by AfriForum, vertel in dié skrywe hoe sy haar vrouwees as “tussenin-geval” ervaar.
Vrouwees – ek leer nog elke dag!
Ek het onlangs die popprinses Britney Spears se treffer, “I’m Not A Girl, Not Yet A Woman”, oor die radio hoor speel en vir die eerste keer mooi na die lirieke geluister.
Hoewel party sal sê dat dit ’n cliché-popliedjie is (moenie maak asof jy nie ook elke woord daarvan ken nie), dink ek dat dit vir my as ’n 25-jarige ongetroude vrou die perfekte manier is om op te som hoe ek tans oor vrouwees voel.
Soms dink ek het ek het hierdie vrouweesding onder die knie, maar dit neem een gesprek met my baas, ma of ouer vriendinne om te besef dat vroue nóg meer dinamies en sterker is as wat ek gedink het.
Ek besef ook al hoe meer hoe moeilik dit soms is om ’n vrou te wees. Ja, ons regte en rolle het deur die tye verander en vroue is besig om die tradisionele narratief rakende vrouwees te verander. Maar vrouwees gaan oor meer as biologie of sosiale norme en ek het nog soveel om daaroor te leer.
As ek aan vrouwees dink, dink ek dikwels aan al die vroue wat sedert my kinderjare ’n indruk op my gehad het. Elkeen was op ’n ander tyd of plek in hul lewe, party getroud, party ongetroud. Party meer loopbaangedrewe, party wou meer op hul gesinne fokus. Elkeen het haar eie idees of perspektief oor vrouwees gehad, maar elkeen het my ’n ander deel van vrouwees gewys.
Ek het daarmee besef dat ek nog nie besluit het watter dele van vrouwees ek wil hê of wees nie.
Ek spot ook dikwels en sê dat ek nie daarvan hou as iemand my “meisiekind” noem nie (ek voel belastingbetalers mag nie meer meisiekind genoem word nie), maar tog bel ek steeds my ouma om seker te maak dat ek hoender langer as ’n dag in my yskas kan hou en my ma om te vra hoe mens ’n debietorder kanselleer.
Vrouwees beteken vir elkeen iets anders. Ons moet self besluit hoe en teen watter tempo ons dit wil aanpak en dié wat anders as ons kies, respekteer.
Wat ek wel al tot dusver oor vrouwees geleer het:
Eerstens, ongeag huwelikstatus, beroep en selfs ouderdom, is onbaatsugtigheid byna deel van ’n vrou se DNS. Vroue volg dikwels nie die “sit die suurstofmasker op jouself voor jy ander help”-praatjie nie. Hulle sal eerder ander eerste help en hulself tweede plaas.
Tweedens, die woord “vrou” moet ’n sinoniem vir multitasking wees. Een van my beste vriendinne het met haar doktorsgraad begin kort voor sy swanger geword het met haar eerste baba. Sy is getroud, werk ook voltyds én bestuur ’n kleiner besigheid in haar vrye tyd. Dít alles met ’n glimlag op haar gesig. (Ek eet soms Coco Pops vir aandete, het net ’n BA-graad en is trots as ek ’n plant vir langer as ’n week kan laat lewe.)
Laastens, vroue is die kwesbaarste, maar ook die sterkste wesens. Hulle laat net nie altyd toe dat mense hul kwesbaarheid sien nie. Hulle besef hulle moet sterk van liggaam en siel wees en dikwels harder werk om sukses te bereik.
Tog, met al die bepalings en voorwaardes, sal ek vrouwees vir niks verruil nie en ek haal my hoed af vir elke vrou, meisiekind of “tussenin-geval” – soos ek is – wat van dag tot dag haarself uitleef na die beste van haar vermoë.
- Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.