‘FroueVonds’: Wees die verskil wat jy wil maak

Esna Colyn is die uitvoerende hoof van Imbalie Beauty en Placècol. Foto: Verskaf.

Solidariteit Helpende Hand het ʼn baanbrekerinisiatief, die FroueVonds, bekendgestel waardeur die organisasie meisies en vroue deur verskeie projekte wil bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word.

Esna Colyn, uitvoerende hoof van Imbalie Beauty en Placècol, vertel in dié rubriek hoe om ’n verskil in die samelewing te maak. Deur die FroueVonds lei haar instellings behoeftige vroue op om skoonheidskundiges te word.

Van ’n lelike klein ruspe tot in ’n pragtige skoenlapper…

Die waarheid vir my as ’n vrou is om dikwels baie alleen en weerloos te voel in ’n groot en wye wêreld waar dit my hartsbegeerte is om ’n verskil te maak en ’n nalatenskap te laat… maar wat beteken dit? Om ’n verskil te maak en om ’n nalatenskap te laat, is regtig diep en die waarheid is dat baie vroue nie kans sien hiervoor nie omdat die kans op mislukking so groot is. Een van die grootste waarhede vir my, waar my lewe werklik verander het, is die dag toe ek begin het om na myself deur God, my Skepper, se oë te kyk.

Om ’n verskil te maak, verskil hemelsbreed van die huidige milieu van ons samelewing waar almal se lewens perfek op sosiale media voorkom. Om vrou te wees, is om diep te grawe in jou eie menswees en om dit suksesvol reg te kry om deur ’n proses van transformasie te gaan – van ’n lelike klein ruspe tot in ’n pragtige en mooi skoenlapper.

Die proses hou nooit op nie en God se tydsberekening is perfek gedurende elke periode van ons lewe, al voel dit nie so gedurende elke seisoen nie. Dit is ’n proses waar ons harte verander teenoor mense rondom ons en slegs wanneer ons harte werklik verander, is ons reg om as ’n vrou na die volgende seisoen in ons lewe aan te beweeg.

Ons harte moet verander teenoor mense rondom ons, omdat God so lief vir die wêreld is. Indien ons as vrou vasgevang bly in ons eie klein wêreldjie, gaan ons dit nie regkry om ’n verskil te maak en ’n nalatenskap te laat nie. Ons moet nuwe wyn word in nuwe wynsakke. Dit beteken dat ons bereid sal  moet wees om te werk aan onsself en deur ’n fermentasieproses te gaan. Die fermentasieproses is regtig nie ’n aangename proses nie en dit voel dikwels of die foltering nooit gaan ophou nie.

Wat dit vir my as vrou beteken, is om jou eie pad te vind en om jou eie uniekheid uit te leef. My een liewe vriendin het gesê dat ons elkeen se lewe ’n baie mooi tapisserie is. Ja, die steke agter die prentjie lyk onnet, maar voor is God, wat die einde van die begin ken, besig om ’n baie spesiale prent van ons elkeen se lewens te maak. Jy as ’n vrou moet dit met jou hart, siel en verstand glo.

As vrou, weet ek vandag dit is in die kleinste goed in die lewe waarin ware geluk skuil en hoe God dikwels met ons praat: dowe en blinde mense wat Hy oor ons pad stuur, ’n glimlag van ’n babatjie, twee veldmuise wat oor die gras hardloop, ’n voëltjie wat bad, ’n lekker bord kos en ’n dankbare hart.

Vir my beteken vrouwees ’n oop hart, ’n oop hand en ’n oop huis, met die diepe besef dat elke dag ’n geskenk van God is.

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bertie ·

Liewe Esna,
JY is darem maar beautiful – met net so beautiful hart ook! :)
Wat ‘n wonderlike idee en geleentheid IS dit nie! – Sterkte hiermee, ek glo jy gaan baie terugvoer kry en baie suksesvol wees. Omdat ek jou persoonlik ken, kan ek alle jong dames verseker dat jy ALLES met passie èn voluit doen.

hendrik ·

Ek se ook sy is baie mooi en met hope styl daarby. Duidelik n Afrikaanse vrou.

John ·

…. en het die geagte beeldskone sakevrou kinders… en ‘n… man? Waar is hulle en waar ‘n woordjie van dalk vir hul ondersteuning. Oy!

Ja swaer ·

Kan iemand asb die naam verduidelik frouevonds. Ek verstaan die vonds deel (iets wat mens vind) maar wat beteken froue? Kan dit nie maar net Vrouefonds wees nie of het dit niks met n fonds te make nie? MM ?

Sune van Heerden ·

Dagsê Ja swaer,
In die paragraaf onderaan die artikel word daar verduidelik dat “FroueVonds” doelbewus verkeerd gespel word om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.