FW de Klerk en die TV-debuut

pierre-massyn

Pierre Massyn. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

“Dis jou storie, Pierre. Vat vir Rusty en gaan doen die onderhoud.” Die nuusredakteur se opdrag was skerp en duidelik.

’n Skamele 19 maande vantevore stap ’n bebrilde jong Suidwester die nuuskantoor van SAUK TV-nuus in Henleystraat, Aucklandpark binne. Op 5 Desember 1977 om presies te wees. As jou jouself in 1977 op Kovsies in Bloemfontein in die nagraadse kommunikasiekundeklas onder die befaamde prof. DAS Herbst bevind het, sou jy geweet het van Kovsieland, die koerant wat ons onder Herold Verster – Vrystaatflank teen Willie-John McBride se Leeus in 1974 – se redakteurskap gestig het. En dis net daar waar die gogga gebyt het.

Ek kon met my rugbyhelde soos Wouter Hugo, wie se Vrystaatspan die All Blacks afgestof het en die Curriebeker gewen het, praat. En ’n duiselingwekkende gesprek voer met die teerste bloeiseltjie op die kampus, Huis Madelief se Karen Scholtz, joolkoningin en ster van Die Winter van 14 Julie. En toe dag ek by my sigselwers, daar moet wragtig erger maniere wees om jou daaglikse brood te verdien as om rugbyspelers en skoonheidskoninginne onder vier oë te spreek. Maar as jy begin as nuut aangestelde TV-verslaggewer in Johannesburg, is dit so goed of jy loop jou vas in ’n 10 000 volt-hoogspanningsdraad. Hulle het my in die diep kant ingegooi. Of liewer, ek het vrywillig in die diep kant ingespring.

’n Paar weke vantevore, met die voortvarendheid van ’n Kovsiestudent en die bravade van ’n deurtrapte lid van die UOVS se Kommunikasiekundevereniging, klop ek uit die bloute by die uitsaaisentrum aan. Ek is uitgetof in my eerstespanbaadjie sodat my voornemende werkgewers darem kan sien ek is ’n modelstudent. Ek val met die deur in die huis en verneem (diskreet) of ek as nuusverslaggewer daar kan inval. Ek is versigtig optimisties dat ek darem eersdaags ’n honneursgraad agter my naam kan skryf.

“Sit net so ’n oomblikkie mnr. Massyn, mnr. Hamman sal u nou net spreek.”

Mnr. Hamman was toe Kobus Hamman, TV-nuushoof. En so betree ek “Baas Hamman”, soos Freek Robinson hom genoem het, se weelderige kantoor met sy tweeduim-volvloertapyt en duur skilderye en gekerfde houtbeelde in die hogere verdiepings van Uitsaaihuis, van waar jy ’n skouspelagtige uitsig oor Johannesburg kon kry – bo-op die bult in ’n suidelike rigting was die Brixton-toring met sy imposante restaurant waar Geoff Wald my later ’n skakelpos sou aanbied. Aan die ander kant van daardie bult was die gedugte Brixton Moord en Roof-eenheid, onder die bevel van die gevreesde Staal Burger. En hier in “Baas Hamman” se ruim kantoor bevind ek my in die geselskap van Staal se broer, Sakkie Burger, senior nuusredakteur: Televisienuus. Dis toe mnr. Hamman en Sakkie en, die grootste vis by die SAUK, Jan van Zyl. Nie net almal swaargewigte by die nasionale uitsaaier nie, maar al drie boonop top-Broederbonders. En hulle staan my nou te woord.

“Jong man, besef jy met watter verantwoordelikheid gaan jou werk as TV-joernalis gepaard?” Ek moet mooi besef daar’s twee miljoen plus Suid-Afrikaners wat elke aand vasgenael voor die kassie sit om die nuus te kyk, laat mnr. Hamman my verstaan.

“En hoe sal jy te werk gaan as ons jou Soweto toe stuur en daar’s ’n oproerige skare in die Regina Mundi-kerk?” gooi Sakkie Burger ook sy stuiwer in die armbeurs. Hulle het my toe wel later Soweto toe gestuur waar ek so hittete deur ’n skare opstandiges bokveld toe gestuur is. Burger het sy vraag nie om dowe neute gevra nie, want pas die vorige jaar het Soweto gebrand en die jeug het gerebelleer en klipgegooi soos Suid-Afrika nog nooit vantevore beleef het nie.

“Kan jy op ’n gebalanseerde manier verslag doen, kêrel?” laat loop Jan van Zyl. Maar ek kon op my voete dink en verseker die grootbase van die Suid-Afrikaanse Uitsaaiwese dat ek my verslae met die grootste omsigtigheid sal lewer, want ek besef mos die belangrikheid van die verantwoordelike amp wat ek gaan beklee. En so by so, verseker ek die manne, ’n harder werker en meer lojale amptenaar as ek sal hulle nooit kry nie.

“Nou ja, mnr. Massyn, gaan daar na Jan Pretorius se kantoor en vul die nodige vorms in.” Die onderhoud was verby.

“Vasgeteken, Boetman?” korswel Jan van Zyl vir oulaas toe ek my na die hyser begewe. En so stel hulle my aan, op voorwaarde dat ek my honneursgraad behaal. Ek moes vinnig leer tussen gesoute nuusmanne. Hardebaarde soos Willem Thomson*, Johan Swiegers*, Fanus Venter*, Stefan Bothma+ en Piet en Lou van Niekerk – geen familie van mekaar nie. Op die bulletin-lessenaar sit ’n sekere Riaan Cruywagen so skuins regoor my. Skerpsinnig en goedversorgd. Ons geliefdste redakteur is Peet Botha*. Hy snuif en bied ons soms ’n knippie aan. Ons hamer ons stories uit op outydse blikmasjiene. Rekenaars het nog nie kop gewys nie. Selfone was nog ver in die toekoms. Ek léér. SAUK-styl.

En nou is ons in Oktober 1979 op pad Jan Smuts-lughawe toe. Soos alle TV nuus-kameramanne, kon Rusty van Druten die hel uit ’n Peugot 504 ry. En ons rý, want die eerste nuusbulletin is al sesuur. En TV-nuus se keertye is erger as saktyd by die koerant. En Rusty jaag. Ons mag nie laat wees nie. Rusty, wat kon toor met ’n lens. Ek gaan my notas deur: Sasol word geprivatiseer. Groot storie. Die grootste notering in die geskiedenis van die Johannesburgse effektebeurs. Onse Sasol, Suid-Afrika se olie-petrochemiese suksesverhaal wat ons beleerde landjie onafhanklik maak van olieboikotte en sanksies. Die publiek kan nou aandele in Sasol koop (Ek het tot vandag toe Sasol-aandele). En die man agter die storie is die minister van myne, energie en omgewingsbeplanning. En dis die man wat ek op Jan Smuts-lughawe moet gaan vastrap. ’n Scoop. Enige joernalis se droom.

Mikrofoon in die hand, vleg ek deur die malende menigtes in die aankomssaal. Rusty is kort op my hakke, kamera op die regterskouer. “Ek moet hier deur”, beduie ek aan die sekuriteitsman en mik vir die deur wat oopmaak na die aanloopbaan. En toe die Boeing van Kaapstad land, is ons op die aanloopbaan.

Ek het hom dadelik herken toe hy by die trapleer afklim. Middelmatige bou, hare aan’t yl word, reeds amper bles. Vasberade tred. Innemende persoonlikheid. Charismaties. Vriendelike gesig, amper simpatiek. Hy kyk jou reguit in die oë. ’n Leier in die ware sin van die woord as ek ooit een gesien het. FW de Klerk, een van die jong Turke in eerste minster PW Botha se kabinet. ’n Uitskieter wat later die wêreld sou skud en die Groot Krokodil self uit die kussings sou lig.  Hy is verlig en dinamies.

Ek peper hom met die vrae. Maar hy is koelkop en laat hom nie van stryk bring nie. Hy stel Sasol en Suid-Afrika se saak klinkklaar. Sasol is ’n wêreldleier en Suid-Afrika kan nie sonder hom klaarkom nie. Die onderneming moet meer stroombelyn gemaak word ten einde doeltreffender as brandstofverskaffer te word. En die privaat sektor moet help. Ten einde die Totale Aanslag te kan weerstaan, moet ons ons eie hulpbronne optimaal benut. Selfstandigheid is die wekroep. Sasol kry sy eie direksie en vrydenkende bestuurspan. Ek kon sweer iets ruik na ’n reaksie op Assault on Private Enterprise van A.D. Wasserman terwyl De Klerk my vrae antwoord. Dié boek het Suid-Afrika geskud en in 1977 verskyn.

“En waar en wanneer sal Jan Publiek kan begin aandele koop, mnr. De Kerk?” Seepglad verduidelik die welsprekende minister dat enigeen bloot by die Johannesburgse effektebeurs kan navraag doen en enige makelaar sal jou met graagte help. Die aandeel gaan immers onmiddellik genoteer word. Ons skakel oor na Engels, vir die Engelse bulletin.

What does this dramatic development mean for South Africa, Mr De Klerk?” Gemaklik verduidelik De Klerk dat Suid-Afrika Sasol nodig het en Sasol Suid-Afrika. Goeie antwoord. Enige man wat tegerlykertyd só oortuigend en oorredend kan wees, kan ’n idee aan ’n nasie verkoop – ’n idee met verreikende en onberekenbare gevolge. En so eindig my ontmoeting met die man wat Suid-Afrika se geskiedenis onherroeplik verander het .

FW de Klerk het die ANC ontban, Nelson Mandela vrygelaat en die Nobelprys vir Vrede gewen. Dis waarvoor die wêreld hom sal onthou. Maar daardie dag in Oktober 1979 was die eerste keer dat hy op televisie verskyn het. Ek het rede om FW de Klerk te onthou.

Selfs Sakkie Burger het gedink dit was ’n goeie onderhoud.

  •  Pierre Francois Massyn is ’n skrywer, avonturier en omgewingsaktivis van Suiderstrand. Hy is tans besig met sy tweede boek.

* Oorlede

+ Artes-wenner

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Kokkie ·

Jy is heeltemal reg, Manfred. Destyds was die woorde ‘wigte en teenwigte’, oftewel ‘checks and balances’ die man se gonswoord op elke vraag, bekommernis of grondige kritiek wat oor sy politieke rigting uitgespreek is. Kan iemand dalk onthou wanneer laas die kêrel daardie woorde in die openbaar gebruik het ? O ja, en wat het geword van die beloofde wigte en teenwigte geword noudat dit so nodig is ? Dan sou hy mos ook finaal teruggekeer het na die kiesers toe vir ‘n mandaat. Het ek daardie terugkoms dalk gemis ? Kan iemand vir my sê ? En les bes onthou ek die kêrel vir sy manewales op ‘n Griekse jag. Ja, dis die dinge waarvoor ék die man sal onthou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.