Gebrande hout nog bruikbaar, meen kenners

Gebrande-bome-by-Jonkershoek

Dennebome wat bosbrande oorleef kan nog vir meubels, vloerplanke en heinings gebruik word. Foto: Verskaf.

ʼn Simposium oor boskultuur en die bestuur van droëlandwoude is in Maart op Stellenbosch gehou, waartydens die bruikbaarheid van gebrande bome bespreek is.

Volgens prof. Martina Meincken van die Departement Bos- en Houtkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), moet bome se skade eers bepaal word. “Vanuit ’n ekonomiese en veiligheidsoogpunt maak dit sin om eers vas te stel tot watter mate plantasiebome hitteskade opgedoen het voordat besluit word hoe om die hout verder te gebruik. Nie alle dennebome wat sulke bosbrande oorleef, is meer geskik vir onder meer dakkappe nie. Dit kan egter nog vir onder meer meubels, vloerplanke, heinings, houtpulp en vuurmaakhout ingespan word.”

ʼn Reeks eksperimente is deur Meincken se studiegroep uitgevoer om Suid-Afrikaanse dennebome se weerstand teen hitte te toets. Dié eksperimente, wat deur die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika gefinansier word, het gekyk na die maksimum temperatuur wat dennebome kan deurstaan voordat dit só beskadig word dat dit geen nut meer het nie. ʼn Tegniek word ook ontwikkel om die temperature tydens bosbrande te bepaal. Min inligting is beskikbaar oor die spesifieke temperature waarteen hierdie veranderinge in houtgehalte begin intree, en of alle boomspesies dieselfde beïnvloed word of nie.

Meincken meen ook dat die plaaslike saagmeulbedryf gebrande bome óf afkeur (teen groot finansiële verlies) óf as gesonde hout hanteer.

“In laasgenoemde geval loop mens altyd die risiko dat jy probleme kan optel weens ʼn verandering in die houtgehalte,” verduidelik Meincken. Danksy vorige navorsing het sy reeds vasgestel dat hoë temperature tydens bosbrande veranderinge teweegbring in die chemiese, fisiese en meganiese eienskappe van hout.

Een van Meincken se studente het ook die belangrikheid van bome se bas bepaal. Volgens dr. Benedict Odhiambon se navorsing is die bome meer hittebestand as die bas dikker is, en as die gapings en krakies in die boom nouer is. “As die bas egter lank genoeg blootgestel word aan ʼn besonder warm vuur, sal die temperatuur van die hout aan die binnekant ook styg en dus begin verswak,” verduidelik Meincken.

Tydens eksperimente is dennehout getoets wat temperature van tussen 150 en 350 grade Celsius deurstaan het ( ʼn tipiese toestand tydens ʼn bosbrand). Dié toets het getoon dat gebrande dennehout wat selfs net matige hitteskade ly, anders reageer as “normale” hout en dus anders verwerk behoort te word.

Die hout begin veral merkbaar agteruitgaan teen temperature hoër as 250 grade Celsius. Dit word swakker en kan makliker breek as dit gewig of druk moet hanteer. Die hout se digtheid en die dikte van die selwande word ook minder hoe warmer die temperature waaraan dit blootgestel word. Om die prosesse wat plaasvind beter te verstaan, is noukeurige ondersoekmetodes soos vastetoestand-kernmagnetieseresonans-spektroskopie (KMR) en rekenaartomografie (RT) ingespan.

“Ons bevindinge wys dat hout wat aan temperature bo 250 grade Celsius blootgestel is, nie meer geskik is vir strukturele gebruik nie,” sêMeincken. “Dit voldoen eenvoudig nie meer aan die minimum sterktestandaarde nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae