Gebruik sosialemedia-bemarking vir jou klein besigheid


klipkouers fotoJacques gesels met Anesia Darne oor Chicory Cheese Cafe, haar deli in Darling, 75 km buite Kaapstad. Sy verduidelik hoe sy van sosialemedia-bemarking gebruik maak om die restaurant te bevorder en waarom die ligging van jou restaurant so belangrik is

1. Vertel ons ʼn bietjie meer oor jouself

Ek woon in Darling, so 75 km uit Kaapstad. Ek is getroud met my beste vriend en ons het ʼn dogtertjie. Ons woon in ʼn fantastiese dorpie waar kinders nog met hulle fietse in die strate kan rondry en ek het ʼn klein restaurant-onderneming wat belowend groei.

2. Waarom het jy hierdie soort besigheid en bedryf aangepak?

Ek is mal daaroor as mense lekker kan kuier en gesels, en veral om kos te maak. So, ek hou daarvan om nuwe goed te maak en dit vir mense te gee om te beproef. Hulle is mal daaroor en dit is my beloning.

3. Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Die grootste ding op die oomblik is Facebook en TripAdvisor. Omdat ons ʼn restaurant is, gebruik die meeste mense maar TripAdvisor, en word of mouth (persoonlike aanbeveling).

4. TripAdvisor is nie ʼn diens nie, nè? Jy kan dit nie manipuleer nie, dit gaan net oor die aanbevelings, of hoe?

Jy kan eintlik jou eie blad bestuur. Dis baie goed as jy ʼn beoordeling kry en mense plaas ʼn kommentaar oor jou besigheid. Dan kan jy terugvoering gee, al is dit nou goeie of slegte kommentaar. Ek dink mense is mal daaroor om te gaan lees wat ander oor jou besigheid sê voor hulle soontoe gaan.

5. Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusver gemaak het?

Toe ek met die besigheid begin het, het ek gedink ek gaan net koffie en koek verkoop. Ek het dit egter later geskuif en ek sien nou dat dit die beste skuif ooit was. So, ek sal sê my grootste fout was dat ek op die verkeerde plek my besigheid begin het. As ek dit van die begin af op die regte plek gevestig het, sou dit baie vinniger gegroei het.

6. Waarom het jy dan in die begin daai oorspronklike plek gekies?

Daar was geen ander plek in Darling gewees nie en al die beskikbare plekke in die hoofstraat was reeds gevat. Toe die geleentheid dus opduik en daar plek in die hoofstraat oopgaan, moes ek dit dadelik aangryp.

7. Wat is jou grootste swakheid?

Ek kan nie stilsit nie en is altyd besig. Ek sal graag net wil sit en niks doen vir ʼn slag, maar ek kan nie. Ek het grootgeword om op Saterdae te werk. Daar was altyd iets om te doen op die erf of in die huis, so ek het nooit geweet wat dit is om stil te sit en niks te doen nie.

8. Watter gewoonte sou jy graag wou hê?

Werkgewys – as dit begin besig raak en ek raak gespanne, is dit vir my baie moeilik om te glimlag. Mense kan dadelik op my gesig sien as ek gespanne is.

9. Sonder watter sagteware kan jy nie klaarkom nie?

Excell, Facebook, en TripAdvisor vir my besigheid.  Persoonlik sal ek sê iTunes – ek is mal oor musiek.

10. Is musiek vir julle belangrik in die restaurant?

Ja, dit is baie belangrik. Jy moet baie verskillende musiek speel vir ʼn groot verskeidenheid mense.

11. Watter boek sal jy aanbeveel as ʼn moet-lees?

Marco Pierre White se The devil in the kitchen. Hy is van Engeland af en nou een van die beste sjefs in die land.

12. Watter persoon is vir jou ʼn inspirasie en hoekom?

My man is tans my grootste rolmodel. Hy tik my baie op die vingers en sê ek moet dink voor ek praat. Ek bewonder die manier waarop hy ons dogtertjie hanteer. Hy is die beste pa – ek wil graag soos hy wees.

13. Wat is jou gunsteling-aanhaling?

“Laat die voetjies hang” – jy hou nie daarvan om te veel te doen nie. Dis vir my so ’n mooi sêding.

14. Met alles wat jy nou weet en as jy môre oor kan begin, watse soort besigheid

sou dit wees?

Ek dink ek sou glad nie in die kosbedryf gegaan het nie. Ek is baie goed in wiskunde – ek sou dalk ʼn boekhouer gewees het.

15. Hoe kan die klipkouers met jou kontak maak?

Facebook: Chicory Cheese Cafe en webwerf: http://www.chicorycheese.co.za

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.