Gee jy om?

Foto: Tommie Milacci

Omgee beteken om te gee: empatie, simpatie, meelewing, noodverligting en tyd. In ons samelewing het omgee die werk geword van die kerk, maatskaplike werkers en welsynsorganisasies. Omgee het werk geword, waar dit in die verlede deel was van die gemeenskap, ja, selfs die familiekring. Ouetehuise, byvoorbeeld, is in sekere kulture ʼn totaal vreemde konsep. Om vir ouer mense om te gee word gesien as iets wat families – selfs die uitgebreide familie – as hul eie taak aanvaar het.

Maar omgee is nou uitgeskuif na ʼn taak wat ander moet volvoer. Maatskaplike werkers, predikante, die dienaars van die gemeenskap, moet die omgee nie net verwoord nie, maar ook prakties uitvoer. Hierdie verskuiwing van denkwyse is ongelukkig die grondslag van ons huidige samelewing se omgee, verduidelik Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos.

Om iets te gee – al is dit net ʼn uur van jou tyd, of die deel van jou vaardigheid, is eintlik nie veel gevra nie. Amper almal van ons kan iewers ʼn uur afknyp – en dit so aanwend dat ons na ander uitreik en iets gee. Daar is oumas wat brei en hekel, boekhouers en ander kundiges wat weet hoe om te bemark en geld te werf, om toe te sien na menslike hulpbronne wat kan help, sopkombuishande, gee van artikels vir herverkoop, gee van geldelike skenkings, en dan natuurlik die gee van empatie, oftewel meelewing.

As jy omgee vir ander, sal hul probleme, hul sukkelende werklikhede, jou aan die hart gryp. Dit sal beteken jy wil iets doen, al is dit dan net om jou arms om so iemand te vou om haar te bemoedig, of ʼn appel vir die een wat by die verkeerslig wag vir ʼn ietsie wat sy lewe ʼn titseltjie makliker sal maak.

“Omgee is nie net vir ‘Mandeladag’ nie. Dis vir elke dag vir elkeen van ons ʼn ingesteldheid wat sê ons kan so ʼn klein bietjie van onsself aan ander gee. As maatskaplike diensorganisasie is ons ingestel op diens met deernis. Elke happie hulp is ook ʼn happie hoop vir die persoon wat gehelp word – en ons maatskaplike werkers is ingestel daarop om mense se lewe positief te help verander, ʼn diens wat help om harde werklikhede te versag,” verduidelik Van der Merwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.