Geestelike fiksheid

rotsklim-klim

Foto: Fancycrave/Unsplash.com

Heb. 12:1: “Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê.”

Die Bybel maak dikwels van ’n sportmetafoor gebruik om geestelike waarhede vir ons duidelik te maak – soos in die Skrifgedeelte hierbo. Tydens die Romeinse bewind was die mense behoorlik sportmal – geensins anders as ons samelewing vandag nie.

Om ons geestelike reis met God te verduidelik, gebruik die outeur die beeld van ’n sportstadium met atlete wat meeding.

Behalwe dat ’n atleet fiks en geoefen moet wees, sal so ’n persoon hom/haar nie belas met onnodige klere of enigiets wat hom/haar kan belemmer om die wedloop te wen nie.

In ons teksgedeelte vandag, moedig die Hebreër-skrywer ons aan om van alles wat ons geestelike verrigting en spoed kan belemmer, ontslae te raak. Hy verwys na “die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry.”

Ek en jy is ten diepste bewus van dié dinge in ons lewe wat ons die meeste kniehalter en aan bande lê in ons verhouding met die Here. As iets my verhouding met die Here belemmer, kan dit ten diepste as ‘n sonde beskou word. Baiekeer het ons nie eers ‘n teksvers of vermaning nodig om te besef dat iets verkeerd is nie, ons het net daardie innerlike aanvoeling in ons gewete en die oortuiging van die Heilige Gees dat ons die Here mishaag.

In 1 Kor. 9:24-25 sê Paulus: “Onthou, daar hardloop baie atlete op die baan, maar net een ontvang die prys. Hardloop só dat julle die prys sal ontvang. Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit om ’n prys te wen wat heel gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir ’n ewige prys.”

Waarom sou Paulus ons maan tot geestelike selfdissipline en -fiksheid? Fiksheid hou verband met ’n paar dinge. Dit beteken gewoonlik dat mens beter voel, dat jy sterker is, dat jy gesonder is en groter weerstand teen siektes het en dat jou lewenskwaliteit verhoog word.

In die sportwêreld sal jy dit nooit tot die wenpodium maak as jy nie fiks is nie. Paulus sê: “Hardloop só dat julle die prys sal ontvang.” (1 Kor. 9:24)

In die weermag behoort jy ook fiks te wees, want in oorlogsituasies kan jou fiksheid die verskil tussen wen en verloor, lewe en dood beteken.

Meeste van hierdie fisieke voordele van fiksheid is eweneens toepaslik op ons geestelike lewens. Jy is geestelik gesonder en sterker en word nie so maklik deur elke aanslag en teëspoed ondergekry nie. Natuurlik is jy ’n groter bedreiging vir die Bose en hy sal probeer om jou teen te gaan en aan te val, maar jy sal groter en groter oorwinnings behaal en ’n groter impak maak vir God se koninkryk.

Soms is die lewe ’n oorlogsterrein waar ons ware vyand nie vlees en bloed is nie, maar die duiwel en sy bose trawante. Dis in sulke tye wanneer jou geestelike fiksheid deurslaggewend kan wees.

Gebed:

“Here, help my om van dié dinge ontslae te raak wat my in die wedloop en stryd van die lewe aan bande lê. Amen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

OWO ·

Jesus maak melding van oorlog in sy profetiese rede in die Evangelies.Vergelyk Matteus 24:6,Markus 13:7 en Lukas 21:9. Lees die profetiese rede as geheel.

Conrad ·

Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.

SNEL ·

God wil beslis nie hê ons moet hande gevou sit as iemand op ons afstorm nie. Prediker 3:8 sê daar is tyd vir oorlog en tyd vir vrede. Romeine 12:18 As dit MOONTLIK is, so VER AS wat dit van jou afhang, leef in vrede met alle mense (dis nie altyd moontlik om in vrede te lewe nie) . Ons moet nie net soek vir moeilikheid nie, maar hande gevou sit, beslis nie. So moet mens oor ernstige goed bid en vas en so leiding kry by die Here, om net op te spring en jou eie ding te doen het die Israeliete sleg tweede laat kom. Jy moet oppas vir al die vrae in jou gedagtes Conrad, jy het meer vrae as antwoorde, so sien ek in ander kommentaar van jou . Dis waar Satan ons aanval, ons gedagtes. Hy wil hê ons moet twyfel in God. Ons dien God, nie omdat dinge uitgewerk het soos ons gebid het nie, nie oor wat Hy doen en omdat ons Hom verstaan nie, ons dien Hom beslis nie vir Sy hand nie, ons dien Hom slegs omdat Hy God is en waardig is om aanbid te word en omdat Hy ons eerste liefgehad het toe ons nog sondig en verlore was. Daar is geen ander hulp, redding behalwe by Hom nie. Sit daai horde vrae hok, vertrou op die Almagtige God, lê dinge wat jy nie verstaan nie voor Sy voete, op die regte tyd breek die antwoorde deur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.