Geestesgesondheid: Die sleutelrol van oefening

geestesgesondheid-en-oefening

Foto: Verskaf.

Wêreld-geestesgesondheidsdag val in Oktober, en dié dag word gevier om bewusmaking te kweek dat daar wêreldwyd ’n geestesgesondheidsprobleem bestaan.

Luidens ’n verslag wat in 2014 in die Sunday Times geplaas is, sukkel ongeveer 17 miljoen Suid-Afrikaners met geestesgesondheid – waaronder dwelmmisbruik en depressie.

En, soos TimesLive berig, sal 75% van dié mense nooit gehelp word nie.

“Geestesgesondheid geniet nie die voorkeur wat dit verdien in Suid-Afrika nie. Daar is nog baie min navorsing daaroor gedoen, asook oor hoe dié probleem aangepak kan word,” sê Zane Wilson, direkteur van die Suid-Afrikaanse depressie-en-angs-stoornisgroep (Sadag).

Die navorsing wat wel bestaan, is weens farmaseutiese maatskappye wat ’n kitsoplossing in pilvorm belowe. Maar terwyl die hedendaagse samelewing die voordele van antidepressante besing, word ’n alternatiewe oplossing misgekyk: eenvoudige oefening.

Oefening stel endorfiene vry – natuurlike chemikalieë wat die “voel-goed”-gevoel in mense laat ontstaan. Die gevoel is vanselfsprekend nie permanent nie – so, as jy ’n dag se oefening misloop, sal jy heel waarskynlik weer in depressie verval.

Die kliniese sielkundige, James Blumenthal, beweer dat daar bewyse bestaan dat gereelde oefening depressie verlig.

Wat is die beste gedeelte van oefening? “Dit is natuurlik,” sê Ivana Buchanan, nasionale groepfiksheidsbestuurder van Zone Fitness.

“Of dit nou tydelike angs- en stresaanvalle is, of chemiese wanbalanse wat tot depressie en AGHS ly, mense vergeet dat oefening ’n wonderlike stresverligter is wat met herhaling langtermyn-geluk bevorder.”

Die wetenskap stem saam. ’n Verslag wat in 2006 deur die nasionale sentrum vir biotegnologie-inligting in Amerika uitgereik is, bevind dat “aërobiese oefening – waaronder draf, swem, fietsry, stap, tuinmaak en dans – angs en depressie verminder”.

’n Soortgelyke verslag in dieselfde publikasie stel die hipotese dat oefening ’n “afgeskeepte” oplossing in geestesgesondheidsorg is. Hoekom? Omdat die hoofstroom van die mediese bedryf dit nie erken as ’n doeltreffende kuur nie.

Die farmaseutiese bedryf in Amerika sorg vir groot besigheid en die verkoop van antidepressante het vanaf 1988 tot 2008 met 400% vermeerder.

Dit wil nie sê dat Amerikaners geheel en al die tou ingooi wanneer dit by oefening kom nie. Die Amerikaanse publikasie, The Atlantic, het die werk van Madhukar Trivedi, ’n professor in psigiatrie in Dallas, sorgvuldig aangeteken.

Wat is Trivedi se oplossing? Drie tot vyf oefensessies per week, 45-60 minute elk, en die pasiënt moet 50-85% van sy maksimum hartklop bereik.

“Mense sal nie die siekte en behandeling ligtelik opneem as hulle weet ’n antidepressant is nie op pad nie,” sê Trivedi.

Baie navorsers sê ook dat antidepressante glad nie werk nie – veral nie in ligte gevalle nie. ’n Studie wat in 2010 in The Journal of the American Medical Association geplaas is, stel voor dat antidepressante net so ondoeltreffend is soos plasebo’s wat gebruik word om ligte tot matige depressie in mense te behandel.

Die Suid-Afrikaanse farmaseutiese bedryf is wel baie kleiner as dié in Amerika, maar daar is ’n tendens wat ontstaan om oor-voorskriftelik met geestesgesondheidskwessies om te gaan. Soms kan ’n deeglike oefenprogram die oplossing wees!

Buchanan stem saam. “In Suid-Afrika is dit van sleutelbelang dat ons oefening moet bevorder as ’n gesonde byvoeging tot ’n gebalanseerde leefstyl.” En met meer as 100 000 lede, het sy eersterangs die voordele van ’n gereelde gimprogram in kliënte se lewe gesien.

“Oefening is ’n veilige, gesonde manier om jou algehele welstand te bevorder.”

  • Die artikel is nie ’n plaasvervanger vir ingeligte mediese raad nie. Raadpleeg altyd jou dokter voordat jy jou dieet verander of met ’n nuwe oefenprogram begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

roshama ·

Ek is die Mees Gelukkigste persoon vandat ek oefen! dit is nie altyd maklik nie en Jy moet Jouself bemoedig om aan te hou. Maar wat ek doen is wat ek kies wat vir my lekker is. Daar is Baie verskillende Maniere van oefening.
Kies wat vir jou Lekker gaan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.