Gegrens, gegrendel, gegrond

grense-heining-elektriese

Foto: Free-Photos/Pixabay.com

Die wipplank ry deesdae minder rof met my. En ek glo dit is omdat ek ʼn groot deurbraak gemaak het ʼn jaar gelede. Ek het die waarde van grense ontdek.

Grense kom in alle vorms voor. Almal het egter een ding in gemeen. Dit hou sekere goed binne die grense en dit hou sekere goed buite. ʼn Grens is ʼn duidelike skeidslyn tussen die binne en die buite.

Henry Cloud en John Townsend het oor die jare baie oor grense geskryf. Behalwe die skeidslyn tussen die binne- en buitewêreld op ʼn fisieke, emosionele en geestelike vlak, praat die skrywers veral ook oor die beginsel van eienaarskap neem van die binnewêreld. “We inhabit our own souls, and we are responsible for the things that make up ‘us’.”

My eie grense was vir baie lank hopeloos verwaarloos en in sommige gevalle totaal afwesig.

Die pyle van seermaakkommentaar wat ander mense na my kant toe skiet, het moeiteloos deur my swak mondering gevlieg en elke keer die teiken getref. Die pyle van “mislukking” of “nie goed genoeg nie”. Die “jy is sleg”-pyle.

En elke pyl wat my eiendom (my binnewêreld) getref het, het deel geword van my eiendom. My identiteit. Ek kon naderhand nie meer onderskei tussen wat ék graag in my binnewêreld wou hê en wat ander daar gesit het nie. Ek was heeltyd soekend na mense wat bereid was om positiewe “pyle” na my kant toe te skiet. Pyle van aanvaarding, ondersteuning, erkenning, komplimente en liefde. Die lyn tussen die binne en buite – dit wat deel is van my identiteit en wat nie – het só vervaag dat ek identiteitloos begin voel het. My waarde het afgehang van die pyle wat ingevlieg gekom het.

Olie op die vuur vir ʼn wipplankryer. ʼn Enkele pyl stuur jou reguit die donkerte in. En ʼn volgende een laat jou in ʼn vals euforie.

Ek is egter óók ʼn pylskieter. Ek kom ook agter dat ek dikwels my spreekwoordelike “buurman” se grense verswak of sommer net ignoreer. Wat ek as hulpvaardigheid sien, is eintlik inmengerig. Ek spring ongenooid in en help wanneer hulp nie gevra is nie. Ek ontneem ander van groei. Ek skiet sowaar ook ongevraagde pyle!

Klink dit bekend?

Waar begin mens om gesonde grense te stel? Hoe weet jy waar jou eie grenslyn is? En hoe hou mens daarby? Hoe grendel jy die openinge in die grense ? Hoe keer en keur jy die pyle wat na jou gevuur word? Wat laat jy in en waarvoor keer jy? En hoe maak jy dít wat binne die grense is, jou eie? Iets waarmee jy tevrede is? Want die één persoon van wie jy nooit kan wegkom nie; met wie jy altyd moet kan saamleef, is jý. Hoe baken jy jou stukkie grond af en hoe rig jy dit in?

Ek het nooit geweet hoe nie. Maar ʼn jaar gelede is ek in ʼn psigiatriese hospitaal tien dae lank gekonfronteer met my gebrek aan ʼn eie identiteit en grense en ek moes noodgedwonge toegee dat ek dikwels sélf die olie op die vuur gooi. Want ek het nie grense nie.

Plant die hoekpale

Wie is jy? Wie bepaal jou waarde? Waarin lê jou waarde? En wie gee ek inspraak oor die definisie van my waarde?

Dit is hoe jy jou eiendom, jou identiteit definieer. Dit is die vrae wat die hoekpale vorm van jou eiendom (jou identiteit) se grense.

Hoe bepaal en plant jy die hoekpale? Party mense dink net daaroor. Party mense teken ʼn prent. Ek skryf. Ek besluit om myself nuut te beskryf. ʼn Ek is-oefening. Ek sluit bewustelik die negatiewe pyle uit by my definisie. Ek mag net positiewe woorde gebruik. En die woorde wat ek kies om myself te beskryf, moet óf reeds waar wees óf iets wees wat ek graag van myself wíl dink. Ek mag nie skryf wat ek by ander hoor oor myself nie. Ek moet die positiewe dinge, wat ek van binne oor myself voel, skryf.

In wie lê my waarde en hoe word dit bepaal?

Die antwoord op hierdie vraag (vir myself) is meer geestelik en minder sielkundig.

Die Here het alles geskape en nádat hy die mens gemaak het, het hy na die skepping gekyk en gesê: “Dit is goed, baie goed.” Die Here het jou waarde bepaal die dag toe hy jou gemaak het. Hy het ook van jóú gesê: “Goed, baie goed.”

Maar toe wink die eie ek in die tuin. Die mens kies homself bo God. Hy haal as’t ware sy Godsbeeldbril af en sit ʼn mensbeeldbril op. Ek meen dit was waarskynlik die geboorte van die “selfbeeld”. En wat ʼn hartseer dag. Want wat was die mens se eerste emosies ná die sondeval? Die emosies wat vandag steeds die primêre negatiewe emosie is wat aan elke mens se selfbeeld kleef? Skaamte en skuldgevoel. Die mens is skaam, want hy het tekort geskiet in die tuin. En daaruit spruit skuldgevoel.

Gaan kyk bietjie wat die primêre gevoelens is wat jou laat slegvoel. Die kans is goed dat dit een of albei van dié twee s-woorde gaan wees. Die geheim van jou hoekpale is om te besef dat nie jy of die wêreld jou waarde bepaal nie. Jy het waarde, want die Here het jou waardig gemaak. En selfs nadat ons dit weggegooi het, het ons dit weer teruggekry in Jesus. Die grense van jou identiteit is dus eintlik deur God self geplant. Jy moet dit net respekteer en sterker maak. Dan kan geen mens se pyl wat vir jou sê jy is sleg of waardeloos jou raakskiet nie. Maak egter seker jy stel ook vir JOUSELF ʼn duidelike grens. Want die grootste pyle skiet jy dikwels op jouself af. Hou op fout soek met jouself. Sit die Godsbeeldbril terug.

Luister na Sy opdrag aan jou in Matteus 22:37-40: “Jesus antwoord hom: ’Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod.’ En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê SOOS JOUSELF’.”

Nou kan die lyne tussen die pale getrek word. Die mure gebou word. Reguit of geboë, dalk met ʼn oop stukkie vir ʼn deur of ʼn venster. Net hier en daar. Iets wat jy kan oopmaak vir dinge wat jy graag wil innooi en deel maak van jou identiteit. Maar ook ʼn deur. Waar jy dinge, wat nie meer deel moet vorm van wie jy is nie, kan uitskop na buite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cornelle ·

Pragtige stuk skryfwerk en baie ware stof tot nadenke. Dankie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.