Geld versus liefde

Ronel Jooste (Foto: Verskaf)

Deur Ronel Jooste

“As armoede by die voordeur instap, stap liefde by die agterdeur uit,” is ’n gesegde wat gereeld in ligte luim gebruik word.

Daar is diegene wat voel liefde oorwin alles in ’n verhouding en geld maak nie saak nie. Dan is daar ook diegene wat trou vir geld en voel liefde is minder belangrik om ’n verhouding te laat werk. Ideaal gesproke wil ons seker almal graag beide liefde en geld in ’n verhouding hê.

Die harde werklikheid is egter dat geld intense spanning in baie verhoudings veroorsaak. Dit geld vir sowel ’n tekort aan geld as ’n oorvloed daarvan. Selfs gedurende Februarie, ook bekend as die maand van die liefde, kan liefde nie altyd die druk wat deur geld veroorsaak word, oorkom nie. Geld het ’n direkte impak op verhoudings. Wat kan jy doen om die druk wat finansies in jou verhouding veroorsaak te verminder?

Vir diegene wat nie getroud is nie, is dit belangrik om ag te slaan op die huweliksvoorwaardes waarmee jy in die huwelik tree. Tydens die verlief-en-verlore-stadium glo almal hul huwelik gaan vir altyd hou, maar die hoë egskeidingsyfer bewys die teendeel. Jy wil nie jare later met ’n gebroke hart en boonop ’n swaar skuldlas sit omdat jy die verkeerde voorhuwelikse besluite rakende finansies geneem het nie. Hierdie is besluite wat jy met jou kop en nie met jou hart moet neem nie.

Praat openlik oor finansies en maak seker dat jy weet wat in mekaar se geldsake aangaan. Dit is iets waaroor julle moet praat nog voordat die verhouding te ernstig raak. In meeste verhoudings het die twee partye baie verskillende maniere van hoe hulle oor geld dink en hoe hulle dit bestee. Dit kan groot frustrasies veroorsaak by een of albei partye, veral soos wat die gesamentlike verantwoordelikhede binne ’n verhouding toeneem. Partye kan mekaar ook verwyt as een party voel hy of sy dra al die finansiële laste en die ander party dra nie genoeg by nie of is onverantwoordelik met die besteding van geld.

Die dood is ’n aaklige ervaring wat niemand graag in die oë wil kyk nie, maar dit is ongelukkig ’n  harde werklikheid. Dit gebeur dikwels dat die oorlewende eggenoot in chaos of groot geldnood gedompel word wanneer die ander eggenoot iets oorkom. Niemand wil nog met die las van finansiële druk of onkundigheid oor die ander se geldsake gekonfronteer word tydens ’n tydperk van verlies en rou nie. Daarom is dit noodsaaklik dat elke party wel ook aparte bankrekeninge het en dat daar behoorlik voorsiening gemaak word vir die oorlewende eggenoot asook enige afhanklike kinders, indien nodig. Dit is algemene gebruik dat die oorledene se bankrekening gevries word ná afsterwe en baie families sit in die knyp as hulle nie toegang tot fondse het nie.

Kom ook ooreen dat julle jul kinders positiewe beginsels oor geld sal leer. Goeie finansiële kennis en dissipline is die beste geskenk wat jy vir jou kinders kan gee. Kinders moet van ’n jong ouderdom af geleer word wat die waarde van geld is en dat geldsake met verantwoordelikheid bestuur moet word ongeag wat die finansiële status van die familie is. Stel finansiële doelwitte gesamentlik as gesin op. As almal weet waarheen julle op pad is en deel is van die reis, gaan min dinge in jul pad staan om jul finansiële doelwitte te bereik.

Mag jy liefde in oorvloed uitdeel en ontvang tydens die maand van die liefde. Mag jy ook enige struikelblokke wat deur geld veroorsaak word, te bowe kom deur openlik met jou geliefde(s) te gesels daaroor.

  • Ronel Jooste is ’n CA(SA), finansiële konsultant, spreker en outeur. Ronel en Solidariteit Helpende Hand pak vanjaar ’n veldtog aan wat Suid-Afrikaners help met begrotings en finansiële kundigheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Leon ·

Een van die Gucci broers se vrouens, het as volg gereageer toe sy gevra is, oor hoe sy voel dat haar man buite-egtelike verhoudings aanknoop.
“It is better to cry in Rolls Royce than be happy on bicycle”

Gemaskerde Sopbeen ·

My vrou het my getrou vir liefde…..die liefde vir geld!!

Boerseun ·

Hier in die 1930’s het my oupagrootjie deelgeneem aan ‘n debat in die Roggeveld waar die aanwesiges moes besluit of geld of liefde die belangrikste is. Geld het gewen!

JAN ·

Goeie artikel en pragtige projek Juffie. Dankie jong.
Feminisme is die moderne verskynsel : die vrouens versorg die mans!! Soos in Jeremia 31: 15 tot 22. Verstommende LAASTE skepping.
Eerder “vroulikheid” van die Maria’s van Jesus versus die boosardige Isebels van Baal kultus.
Ons volkie sal gered word is deur die vrouens. Emge volk gemeenskap se toekoms en welsyn is in die hande van die vroue.
Soos Joan Sutherland se hartstogtelike sang getuig met Casta Diva [ huis moeder] van Belinni .
Die femisme se reddingsdaad het by niemand anders as ons Engelse ! Emily Hobhouse begin met haar optrede teen Mason Milner.
Geweldige onderwerp. lees gerus eers verwysing.

Anton ·

Dis net soveel makliker om saam te bly as om amptelik te trou.
Kan enigiemand net een (nie twee nie, net een) praktiese voordeel van die huwelik bo saambly verskaf?

marco polo ·

Paspoort, Anton. Maar dan moet jy n buitelandse bokkie kry.

Nika ·

As saambly vir jou werk Anton dan is ek bly, maar n vrou wil trou, n vrou soek standvastigheid en sekuriteit. Ek voel jammer vir mense wat net saambly, want julle kan enige tyd net by die deur uitloop waar as jy getroud is, is dit n geveg nie om uitmekaar te gaan nie maar om te veg vir mekaar en bymekaar te bly, jy leer jou lewensmaat ken in elke aspek. Geld speel n groot rol want dis huur, kos, w&l, versekering, medies, klere, kinders, honde en baie ander uitgawes. Mens moet van die begin af in n verhouding eerlik wees met finansies en bepaal wie gaan wat beteaal met die inkomste. Die feit bly staan dat liefde vir geld is die wortel van alle kwaad, liefde oorwin alles en ek is eder gelukkig en ry n fiets as wat ek huil in Mercedes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.