Geloftedag: Om anders te sien

geloftedag

Geloftedag by die Voortrekkermonument, 2007 Foto: www.gideonvanzyl.co.za

In Deuteronomium 1 ontmoet ons die bejaarde Moses en Israel in die woestynvlakte, oos van die Jordaan. Die bejaarde Moses is 120 jaar oud. In Deuteronomium is hy besig met sy afskeidstoespraak. Hy blaai terug in die verlede om vir Israel te herinner aan die woestynpad wat God met hulle gestap het.

Moses herinner hulle daaraan hoe hulle pa’s, ma’s, oupas en oumas 40 jaar gelede ook op die drumpel van Kanaän gekamp het.

Hulle was onseker en bang. Op hulle aandrang het Moses 12 spioene gekies om die beloofde land te gaan verken.

Die 12 spioene het teruggekom met wonderlike nuus. “Die Here ons God gee vir ons ’n goeie land.” Hulle het swaar gedra aan die vrugte van die land. Die enigste probleem was die Enakiete. Die reuse. Boonop woon hulle in groot stede en skuil agter sterk mure.

Israel se moed was gebreek.

Op moedverloor se vlakte wou hulle hulle nie laat oortuig toe Moses hulle verseker: “Moenie bang wees nie. Moenie skrik nie. Die Here gaan voor julle uit. Hy sal vir julle veg.”

Toe die beslissende oomblik aanbreek waar hulle hulle toekoms, hulle lewe, hulle kinders in die hande van die Here moet plaas, toe deins hulle terug … met katastrofiese gevolge:

  • Die woestynreis wat net 40 weke moes duur, word 40 jaar.
  • ’n Hele geslag moes sterf.
  • Ook Moses sou die beloofde land nie sien nie.

Laat ons nie te vinnig oordeel nie. Ek het tog simpatie met Israel. Ons voel dikwels ook maar klein en swak, weerloos en onvoorbereid om die toekoms in besit te neem. Ons kom ook te staan voor reuse-uitdagings wat groter en sterker as ons is. Ons “reuse” verskyn in ander, ewe vreesaanjaende gedaantes:

  • Ons voel aan ons lyf hoe armoede ons land oorrompel.
  • Ons is bekommerd oor die finansiële krisis wat voorspel word wanneer ons land ’n rommelstatus-gradering kry.
  • Ons mense buig onder spanning en werksdruk.
  • Misdaadsyfers skets ʼn somber prent – ons huise word omsingel en ons veiligheid bedreig.
  • Voorspoed word verwoes deur korrupsie.
  • Ons sien die geweld wat ons opleidings- en opvoedingsinstellings verlam.
  • Dalk is daar gesondheidsprobleme wat jou lewe bedreig.

Dit gebeur so maklik dat ons geloof op moedverloor se vlakte beland.

  • Ons geloof word pap en futloos, sonder toekomshoop.
  • Ons onttrek ons in veilige privaat ruimtes omdat ons naïef dink die reuse sal ons nie daar oorweldig nie.
  • Of ons dink met ’n wag-en-sien-houding van volstruispolitiek die reuse sal net verdwyn.
  • Of, nog erger, ons word soos Israel reuse-klakouse wat eerder die woestyn verkies as om teen die reuse op te staan.

Kan jy jou voorstel hoe onseker Josua op die woetynvlakte oos van die Jordaan moes voel toe Israel ná 40 jaar weer op die drumpel van Kanaän kamp?

  • Moses, die Godsman met sy vaste geloof, die persoonlike vriend van die Here, die ordeskepper, die bouer van ’n volk, is dood.
  • Ná 40 jaar is dieselfde reuse steeds daar.
  • Die stede is steeds groot en die mure hoog.
  • Israel is steeds woestynreisigers wat moet veg teen groter en sterker volke.
  • Al waarborg op sukses wat hy het, is die belofte van die Here: “Moenie bang wees nie. Ek is by jou.”

Maar Josua het gekies om die Here te glo. Hy het gekies om die Here op sy woord te neem.

Geloof beteken allermins dat Josua blind is vir die werklikheid, die reuse-bedreigings, die feitlik onmoontlike taak op hande. Dit beteken ook nie dat Josua ’n geloofsaktivis is wat blindelings en onvoorbereid Kanaän gaan binnestorm nie.

Geloof beteken om anders te sien. Om agter die sigbare werklikheid wat ons bedreig, die onsigbare helder te kan sien. Om agter die reuse, God raak te sien.

Daar kom tye wanneer ’n mens, gesin, gemeenskap en land voor ’n beslissende oomblik te staan kom:

  • Oomblikke wat ’n moeilike geloofskeuse eis.
  • Oomblikke waar ons moet kies tussen die sigbare en onsigbare; tussen die werklikheid van reuse of die beloftes van die Here.
  • Oomblikke waar ons besef ons geloofskeuse bepaal nie net ons toekoms nie, maar veral ons kinders se toekoms.
  • Dit is in dié beslissende oomblikke dat ons besef watter groot verantwoordelikheid op ouers se skouers rus.

Geloof wat anders sien, gee ons die onderskeidingsvermoë om in hierdie beslissende oomblikke die regte geloofskeuse te maak.

Ons vier oor die hele land Geloftedag. Die Groot Trek is ook ’n woestyn-en-intogverhaal. Dit is veral die verhaal van geloof wat anders sien.

Met die verfilming van die Groot Trek 175-dokumentêr vir kykNET, het ons die laaste aand in die Bloedrivier-walaer gekamp. Ons moes die aand die Gelofte verfilm. Teen sonsondergang het ons presies gedoen wat ek my voorstel die ou Voortrekkers ook gedoen het. Ons het geëet, skottelgoed gewas en daarna na die middel van die walaer gestap om die Gelofte te verfilm.

Die aand was koud en donker. Die maan het agter die wolke verdwyn. Op daardie oomblik was dit so donker dat jy nie jou hand voor jou oë kon sien nie. Dit was so pikdonker dat dit selfs onmoontlik was om die wit 4×4-voertuie op die rand van die walaer te sien. Amper soos die aand van 15 Desember 1838.

Uit historiese bronne weet ons die reuse-Zoeloeleër, die magtigste en doeltreffendste leër in Afrika, was besig om die walaer te omsingel.

FA Venter beskryf dit treffend. Hoe daardie handjievol mans gedink het aan hulle gesinne wat iewers anderkant ’n duisend heuwels in die donker wag. Vasgekeer in laers. As hulle sou misluk in hulle reusetaak sou daar geen keer gewees het aan die tragedie wat sou volg nie. Die uitkoms van die Groot Trek was op die spel. Die lewe van hulle vroue en kinders was op die spel. Vrees het soos die digte, koue mis wat die walaer toevou, hulle harte omklem.

Ek kan my voorstel hoe hulle op daardie donker aand van 15 Desember teruggedink het aan die bloedjaar van 1838. ’n Jaar wat met soveel toekomshoop en drome begin het en so tragies geëindig het.

  • November 1837 het hulle op die rand van die Drakensberg gestaan met die asemrowende uitsig oor die Amfiteater, waar “songloed en glorie”, in die woorde van Eitemal, “die berge oor hulle fronsende voorhoof streel, waar ruisende wind oor die vlaktes met grassaad kerjakker en speel”. Piet Retief het geskryf dit is die mooiste land in Afrika. Die Voortrekkers was ontroer en bly. Hulle het tuis gekom. Op die rand van die berg het hulle spontaan “Prys die Heer met blye galme” gesing.
  • Skaars drie maande later word Piet Retief en sy 12-jarige seun, saam met 70 van die toonaangewende familie- en gesinshoofde, op die wreedste denkbare wyse vermoor.
  • Dit word ’n jaar van groot verliese. Die Groot Moord vind plaas met 49 massagrafte langs die Bloukransrivier en Moordspruit. Dit is die eerste en enigste keer in Suid-Afrika se geskiedenis waar 185 kinders in een nag vermoor is. Die verlies van leiers.
  • Dit word ’n jaar van angs en onsekerheid. Angs by Veglaer. Angs oor krimpende getalle soos mense drupsgewys wegtrek. Angs oor hulle toekoms.

Teen Desember 1838 was die Voortrekkers ’n getraumatiseerde gemeenskap wat op die mespunt van ’n beslissende oomblik te staan gekom het.

Die Gelofte gaan nie oor mag en krag, oorwinning of nederlaag, swart of wit nie, of om die Here vir jou saak in te span nie. Daardie donker, koue aand in die walaer op Bloedrivier terwyl ons die Gelofte moes verfilm, het ek verstaan dat:

  • as jy in ’n beslissende oomblik in jou lewe te staan kom;
  • gestroop van enige selfversekerdheid en hoogmoed;
  • waar eie antwoorde stil word en planne opdroog, terwyl reuse jou omsingel;
  • as daar geen ander hulp en geen uitkoms in sig is nie en vlug nie meer ’n opsie is nie;
  • as jy nie met sekerheid kan sê of jy môre die son sal sien opkom nie;

kyk ’n gelowige op en bely sy of haar afhanklikheid voor God.

Die Gelofte is ’n belydenis van afhanklikheid van mense wat gekies het om deur geloof anders te sien. Die Gelofte is ’n keuse vir hoop op die Here alleen.

Dit is ’n getuienis van mense wat klein geword het, voor ’n groot Here. Wat bely: Hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde. Dit is geloofstaal wat die onsigbare sien. Dit is vertroue wat in ’n krisis vrees oorwin en rustigheid bring. Dit is afhanklikheid wat toekomshoop skep.

Gelowiges het altyd ’n keuse. ’n Keuse om anders te kyk. Om God te sien. Om Hom op sy woord te neem wanneer Hy sê: Moenie bang wees nie. Ek is by jou.

God het immers sy belofte om by ons te wees, self waar gemaak toe Hy eeue later in Kanaän mens geword het. Toe sy Seun by ons kom woon het. Toe hy deur sy Gees in ons kom woon het. Hy is Immanuel. God met ons.

Wanneer ons vanuit God se perspektief na ons reuse kyk, sal ons vind dat groot reuse klein word, dat sterk stede swak word, dat God vir ons en ons kinders met die oorvloed van hierdie land sal sorg. Dit het Hy beloof. Sy woord is genoeg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

bendons ·

Dankie vir die ware woorde.
Uit geloof en aanbidding het ons voorouers ons die voorbeeld gestel. Ons moet die lesse geleer nie vergeet.
Ek bid vir verlossing van ons Afrikaner volk uit geloof in ons God. Hy sal ons help om op te staan uit geloof met alle regverdigheid die juk waaronder ons tans is af te skop en waardig op te staan en weer ons eens magtige nasie te kan wees. Dit moet ons doen vir ons kinders en hul kinders ons nageslag.
O Vader in die Hemel hoog ek bid vandag vir U verlossing van ons Volk om weer deur U genade vry te kan wees van alles wat in ons geboorte land verkeerd is.
Heilig is U Naam.
Vrede op aarde vir almal.
U koma is naby en ek sien U alreeds kom om ons te verlos.
Amen

IemandAnders ·

Dit is interesant dat dat die Israeliete gedink het God gee vir hulle ‘n land. ‘n land wat duidelik alreeds bewoon was. Al wat hul moes doen was om na ‘n eerste mislukte inval na 40 jaar weer probeer. Daar waar hul vandag nog land van die Palistinieers wegvat heers daar bloedvergieting en hul vind geen rus en vrede nie. Ek kan nie help om te wonder of God eintlik nie die land vir hul wou gee nie.

IemandAnders ·

En moet nou asseblief nie die verwyder net omdat almal nie saam my stem nie. Maroela media is tog ‘n geselsplek waar ons Afrikaners met mekaar idees kan uitruil.

Merkur ·

IemandAnders, is jy seker, dat die land waarvan jy praat, reeds deur Palestyne bewoon was?

Iemand Anders ·

Merkur, ek het simpatie met nomadiese volke wat rondswerf en nerens meer heen het om te gaan nie. Hul is sonder ‘n huis. In daardie sin het ek simpatie met die Israliete. Ook omdat die antieke Israliete gevang is sa slawe en weggeneem is uit hul plek van herkoms. Daar is natuurlik ook honderde jare gelede mense wat “convert” het na Judaisme toe. Mense van Oos Europa. Toe die moderne “Israel” geskep is na die 2 Wereld oorloe is daar baie van daardie mense wat ook Israel as hul tuiste aangeneem het. Terwyl hul wel eintlik van Oos Europese afkoms is. Die 1947 – 1949 oorlog het juis ontstaan toe die nuwe bewoners van Israel besluit het om die vasgetelde grense te ignoreer en hul gebied verder te vergroot. Hul het die mense wat toe in daardie gebiede gewoon het se huise en plase gevat. In daardie sin het ons Afrikaners dalk ook iets in gemeen met die Palastineers. Ons huise en plase is ook nie meer veilig nie. Miskien is die wil van God nie dat ons dinge by mekaar moet afvat nie. Miskien as God vir ons dinge belowe is omdat Hy wil he ons moet dit met mekaar deel. Elke keer wanneer mense voel dat hul geregtig is tot iets wat iemand anders ook gebruik is daar bloedvergieting. Jesus het gekom om vrede te maak. Ons moet ook vrede maak. Die Israeliete en die Palastyne moet ook vrede maak.

John ·

So eintlik jok die Bybel? Miskien moet die hele geskiedenis van die Joodse volk bestudeer word voor ‘n stelling oor die wel en wee van die Jode gemaak word, maar belangriker as dit, die Bybel self. Ons moet ook onthou, vandag staan binne die nuwe bedeling van die Nuwe Testament en met baie Jode, veral in Israel wat Christus misken, maar ook nie die vorige bedeling te wette onderhou nie… selfs ateiste is, maar tog beskerming van Bo verwag? ‘n Ander saak is, die grondgebied wat aan die Jode deur die Hemelvader beloof is. Dit is in die Ou Testament uitgestippel. As jy van jou grond afgedryf word en jy kan na jare terugkeer, maar vreemdes het welwetende van jou eienaarskap, gedeeltes beset en presies op die plek waar jou geloof se antieke tempels gestaan het, hul moskee gaan oprig, is jou eindom nou hul eiendom? Die huidige sg Palestyne kom uit vele lande wat op die welsyn uit Europa en elders ‘n bestaan maak.

Iemand Anders ·

Liewe John, lees gougou weer die teks daar bo. Jy sal sien dat daar gepraat word van die reuse wat in Kanaan gewoon het. Dus, was die land bewoon. Die Bybel jok nie, dit staan daar geskryf in die Bybel. Het jy dit dalk mis gelees?

Renè Erwee ·

Baie dankie, Danie Langner – as dit ons innige verlange en doel is om die dag te vier soos in die laaste deel verwoord – dan is ons besig om terug te keer na God toe, in totale afhanklikheid. Mag alle Christene in ons land hierdie openbaring beleef.

Jan Jooste ·

Uitstekende boodskap Danie. Soos René bid, bid ek ook na aanleiding van jou boodskap dat die antwoord op Afrikaner Quo Vadis sal wees Afrikaner Immanuel. God met ons. Voorspoed.

Jan ·

Imand Anders as jy verder die Bybel lees sal jy sien dat God ook vir die Isrealiete gese het om sy gebooie te onderhou wat hulle nie gedoen het nie. Daarom is die beloofde land telkens van hulle ontneem. Inverband met die vorige bewoners van Palestina , God besluit wie bly waar nie mense nie.

John ·

Wie Jode was, wou word, wie is en nie is nie, is deur baie navorsers probeer uitpluis, sonder sukses. Ons het net die Here se Woord waarin sy opdragte en beloftes vervat is. Of ons nou daarvan hou of nie, ons het nie die oppergesag op die aarde of in die Hemele nie. Daar is ‘n derde party teenwoordig, die Bose, wat selfs ‘vrede’ en liefde tot sy voordeel aanwend en die Hemelvader se wil/wette aan ons voorhou as wreed/verkeerd teenoor ons die ‘goeie’ mensdom wat altyd dit wat reg en goed is wil doen. Is daar regtig mense wat glo dat as Jerusalem aan die Palestyne (‘n mengelmoes volke) wat Jode en Christene verag, gegee word, vrede op aarde sal toesak. Die grenslyne wat die Engelse voor 1948 opgetrek het, kom nie ooreen met die’ in die OT nie. Is die Britte dan verhewe bo die Here wat die aarde gemaak het? Lees Openbaring/Daniel in die OT/die Kruistogte en die Joodse diaspora en oor die duisende oorloe wat al gewoed het. Vrede? En waarheen moet die Afrikaners se rubberbootjies roei nadat al die wil-he-ers ‘ge-please’ is? Wie se wil geld in SA?

Izzy ·

Dankie vir ‘n pragtige boodskap vol geloof en hoop. Ek kan net soos Josua se, “Ek en my huis, ons sal die Here dien”. Ons sal van die Here se genade getuig ( van Sy Verlossing by Bloedrivier) asook hoe Hy ons elke dag dra in Sy genade.

James ·

Wat het plaasgevind by Bloedrivier ? Klink nie te goed nie.

James ·

Wat ek gehoor het,die mense moes toe kyk hoe daar beeste in gejaag en op die brons ossewaens geklim is en dat daar later ń bees geslag sou word as ritueel,daarom my vraag wat het gebeur die 16de by Bloedrivier

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.