Gerekende genealoog nou deel van FAK-familie

Isabel Groesbeek spoor al langer as 30 jaar familielyne na. Sy is nou die hoof van die FAK genealogiese navorsingslessenaar. Foto: Verskaf.

Die sluiting van genealogiese navorsingsinstansies soos die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika (GISA) in 2018 en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se afdeling genealogie in 1997 het ’n groot leemte gelaat met betrekking tot ’n amptelike instansie wat ondersteuning vir genealogiese navorsing bied.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het daarom besluit om vanjaar ’n nuwe genealogiese navorsingslessenaar in Pretoria vir hul lede, maar ook vir die wyer publiek, te vestig.

Isabel Groesbeek, ʼn bekende genealoog wat al langer as 30 jaar familielyne naspoor, is nou deel van die FAK-familie. Sy sal aan die hoof van dié navorsingslessenaar staan.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sien die organisasie genealogie as ’n belangrike sleutel om die historiese geheueverlies onder kinders te ondersoek. Deur genealogie weet elkeen in die gesin waar hy vandaan kom en dit gee talle raakpunte om ook met kinders te gesels oor die konteks waarin hulle ouers of grootouers geleef het.

“Afrikaners is een van die min volke ter wêreld wat ’n volledige genealogie het en rekords strek terug tot die 17de eeu. Die FAK het ervaar daar is opnuut belangstelling onder gesinne en families in wie ons is en waar ons vandaan kom. Udolpho, die FAK se kultuurplaas naby Parys, is veral gewild vir familiesaamtrekke. Daar is ’n toename in besprekings deur families, wat duidelik dui op ’n groot behoefte,” aldus Langner.

Volgens Groesbeek is genealogiese navorsing wêreldwyd een van die belangstellings of stokperdjies wat jaarliks groei.

“Die soort navorsing in Suid-Afrika is tans aangewese op enkele professionele navorsers, vrywilligers in die vakvereniging, die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika en biblioteek- en argiefdienste verspreid oor die land.

“Die internetdata skep gevaar dat belangstellendes net data klakkeloos naskryf, sonder raadpleging van primêre bronne en die FAK-genealogielessenaar kan ’n bydrae lewer om lede van die publiek meer bewus te maak en ondersteuning te bied vir die wetenskaplike navorsingsmetodiek en bewaring van kultuurerfenis,” verduidelik Groesbeek.

Isabel wys ‘n voorbeeld van die soort navorsing wat sy doen. Foto: Verskaf.

Sy sê genealogie, letterlik die verkryging van kennis van ’n familie, is vir haar ’n absolute passie.

“Ek weet elke individu is belangrik en waar hy of sy in die familie inpas, is lank vooruit bestem. Die meeste mense wil weet van watter stamlande hulle kom. Hulle wil weet wie in die familie het met wie getrou en wie hulle is. Die samestelling van al daardie gene. Genealogie maak vir jou die wêreld oop. Elke individu het ’n plek waar hulle inpas. Jy gaan dít dan in jou navorsing ontdek en waar jy inpas en wie jy eintlik is.”

Groesbeek sal onder meer genealogiese konsultasies reël en genealogiese werkswinkels, soos die “Van waar Gehasi?”-beginnerwerkswinkels vir genealogiese navorsing en lesings aanbied. Sy sal potensiële genealoë mentor, genealogie-navorsersregisters opstel en byhou, persoonlike en skriftelike navrae hanteer, ’n genealogie-databasis van FAK-lede se voorouers met behulp van ’n doelgeskryfde genealogieprogram opbou en genealogie as wetenskap en tydverdryf deur gesprekke, optredes, uitstallings, ’n genealogiefees en skryf van artikels, bemark.

‘n Voorbeeld van Isabel Groesbeek se eie kwartierstaat, wat alle direkte biologiese voorouers lys. Foto: Verskaf.

Terminologie:

Stamboom of stamlyn is direkte voorouers in manlike lyn met fokus op dieselfde familienaam tot by stamvader (eerste persoon met familienaam in land)

Stamregister bogenoemde met broers en susters van persoon in direkte lyn

Kwartierstaat – voorouerstaat = somtotaal van alle stamlyne = alle direkte biologiese voorouers. Kwartierstaat begin by individu, ouers, vier (kwarte) grootouers en verder tot sover ’n navorser familie kan naspeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

netMYopinie ·

Wow. Dis netjies. Ek sou nie omgee om só n kwartierstaat te besit nie.

Simone ·

Enigeen kan dit doen. Gaan kyk op die Genealogiese Genootskap van Suid Afrika se webwerf: http://www.genza.org.za vir die naaste tak aan jou en klop aan vir hulp. Hulle sal jou met graagte wys hoe.

Hunnybee ·

Ek wens dat die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika nie hul deure moes sluit nie. Dis so hartseer.

Simone ·

Die hele GISA biblioteek het verskuif na die Wellingtom kampus van CPUT en kan nog enige tyd besoek word. Die navorsings werk gaan ook steeds voort en publikasies word nou hanteer deur die Genealogiese Genootskap van Suid Afrika.

Manie ·

Baie geluk Isabel. Dankie vir al die werk en toewyding wat jy oor so baie jare al ingesit het. Sterkte vir die uitdagings vir elke dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.