Gert Johan Coetzee gee beurse vir mode-entoesiaste

Laasjaar se beurshouer, Prudence, en Gert Johan Coetzee (Foto: Shaw Media)

Laasjaar se beurshouer, Prudence, en Gert Johan Coetzee (Foto: Shaw Media)

Drie studente staan vanjaar die kans om danksy Gert Johan Coetzee ʼn beurs vir modeontwerp of modekommunikasie aan die Northwest School of Design in Klerksdorp te ontvang. Aansoeke vir dié beurse word nog ingewag tot 15 Augustus.

Dié jong Afrikaanse ontwerper, wat reeds die afgelope ses jaar een student die geleentheid gee om met die  GJC Modeontwerpbeurs te studeer, brei vanjaar die beursprogram uit deur ʼn tweede beurs toe te ken vir Modekommunikasie en -Aankope. En danksy ʼn uitdaging aan sy sakekennisse om ook in opvoeding te belê, het die boetiek Luminance aan boord gekom en nog ʼn Modekommunikasie en –Aankope beurs bygevoeg.

Dié drie beurse, wat poog om jong modestudente die geleentheid te gee om te leer en praktiese ervaring op te doen, is gesamentlik meer as R500 000 werd.

Coetzee se mode-ontwerpbeurse word reeds vir ses jaar by die Northwest School of Design toegeken waar hy self studeer het.

Die ontwerper sê die beurs in Modekommunikasie en -aankope is veral gemik op studente wat meer belangstel in die sake-afdeling van die modebedryf.

“Die bedryf is baie dinamies en daar is regtig baie geleenthede, en dit is hoekom ek die beurs vir ʼn meer sakegerigte kwalifikasie byvoeg,” verduidelik Coetzee.

“Dit bly moeilik om ʼn voet in die deur te kry. My beursprogram is daarop gemik om die lesse wat ek reeds geleer het, deur te gee en deure oop te maak vir jongmense wat die talent het en vasberade is om ʼn sukses daarvan te maak.”

Coetzee sê ook die privaat sektor het ʼn verantwoordelikheid om in die volgende generasie se opvoeding te belê

“Hierdie driejaar-kwalifikasie leer studente die sakekant van die bedryf: van modejoernalistiek, bemarking en tendensvoorspelling, tot aankope, die bestuur van modefunksies en aanlyn verkope.”

Albei GJC-beurse sluit mentorskap deur Coetzee in, en ʼn internskap by sy ateljee waar die studente alle besigheidsaspekte leer ken. Die student aan wie die Luminance-beurs toegeken word, sal ʼn soortgelyke geleentheid hê om by Luminance ʼn internskap te voltooi.

Coetzee is ook baie uitgesproke oor sy ideale beurskandidate. “Jy sal net suksesvol wees as jy ʼn aangebore mode-instink het en geweldig passievol is daaroor. Ek is op die uitkyk vir studente wat direk gefokus is op mode soos wat ek op hulle ouderdom was. Hulle moet toegewyde, hardwerkende en gedrewe jongmense wees wat nie bang is vir lang ure en strawwe uitdagings nie.”

Beurskandidate kry elkeen ʼn naaimasjien by Bernina, en al die klas- en boekegeld word ook gedek.

Die Luminance-kandidaat kry ook ʼn skootrekenaar en die mode-ontwerpstudent ʼn omkapmasjien van Bernina.

Albei kursusse gee studente die geleentheid om agterna in te skryf vir ʼn lisensiaatskap, die hoogste internasionale modekwalifikasie in Suid-Afrika.

Prudence Kau, wat verlede jaar met die beurs studeer het, werk tans voltyds by Coetzee se ateljee met ʼn vierdejaar-beurs geborg deur nog een van Coetzee se sakevennote, Brutal Fruit.

“Prudence werk tans aan haar eerste versameling vir Brutal Fruit en dis vir my ʼn voorreg om ʼn jong ontwikkelende ster te help mentor,” het hy bygevoeg.

Beursaansoeke sluit 15 Augustus. Vir besonderhede oor hoe om aansoek te doen vir al drie beurse, besoek die Northwest School of Design-webwerf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.