Gesoek: Is jy ‘Fiela se kind’?

Shaleen Surtie-Richards as Fiela (Foto: Verskaf)

Shaleen Surtie-Richards as Fiela (Foto: Verskaf)

Dalene Matthee se gewilde boek Fiela se kind, wat ewe suksesvol was as die gelyknamige fliek van 1988, kry binnekort weer gestalte as verhoogproduksie.

Lefra Produksies, wat dié produksie vir die derde keer na die verhoog bring, is nou op soek na ʼn Benjamin/Lukas wat teenoor Fiela, wat weer deur Shaleen Surtie-Richards vertolk word, te speel.

Frans Swart, regisseur en vervaardiger van Fiela se kind, sê hy is opgewonde om weer dié storie te vertel. “Vorige kere was die teaterproduksies baie gewild en vir weke uitverkoop. As ʼn mens ʼn goeie storie het, is dit soveel makliker om ʼn sukses daarvan te maak op die verhoog. Ons is veral opgewonde oor dié produksie se premiѐre vanjaar op die Woordfees in Stellenbosch. Dit gaan ook te sien wees op die Oppiwater Kunstefees,” vertel hy.

Dit is vanjaar presies 30 jaar gelede wat Surtie-Richards die rol van Fiela vertolk het. “Ná al die jare sien ek vreeslik uit om weer die karakter van Fiela te speel en kan nie wag om weer op die verhoog te kom met hierdie lekker rol nie,” sê sy.

Meer as 150 seuns het reeds die oudisie vir die rol van Benjamin/Lukas afgelê. “Ons het egter nog nie die presiese Benjamin/Lukas gevind nie. Al die seuns wat ons reeds gesien het, het wonderlike talent, maar die outjie wat hierdie rol kry, moet sekere kwaliteite hê. Ek weet dat daar êrens in Suid-Afrika nog die perfekte Benjamin/Lukas skuil. Ons sal weet as dit die regte een is.”

Die perfekte seun is tussen 10 en 14 jaar oud. “Benjamin is ʼn plaasseun wat vir Fiela die volstruise aanjaag en lekker kattekwaad aanvang. Hy sal eerder met sy selfgemaakte houtskuitjie op die dam speel as om die volstruise op te pas. Benjamin ervaar dan erge trauma, want hy word summier van sy “Ma” af weggevat en onder haglike omstandighede in die bos gegooi en skielik moet hy Lukas van Rooyen wees. Juis daarom kyk ons na ʼn seun wat ook daardie innerlike vertolking kan bied.”

Oudisies vir die volgende rolle word gedoen:

  • Benjamin (kind), ʼn wit seun, 10 tot 14 jaar. Fiela se vondelingkind. Seun van Barta en Elias
  • Nina (kind), ʼn wit dogter, 10 tot 14 jaar. Dogter van Barta en Elias.
  • Lange / magistraat / skoonmaker by hof / boswagter / Martiens: Lang, skralerige man, 40 tot 50 jaar
  • Willem (Kristoffel), ʼn wit seun, 14 tot 18 jaar.  Seun van Barta en Elias.
  • Dawid (Tollie), ʼn bruin seun, 14 tot 18 jaar.  Seun van Fiela en Selling.
  • Emma (Kitty), bruin dogter, 14 tot 18 jaar.  Dogter van Fiela se Selling.

Indien jy belangstel, kan jy jou CV en ʼn onlangse foto per e-pos na [email protected] stuur. Die sluitingsdatum vir oudisies is 8 Februarie om 13:00.  Vir meer inligting, skakel gerus vir Charl Senekal by 011 815 3000 of stuur e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.