‘Gesoek: ’n Man vir ons ma – doen nou aansoek!’

Tanya Griessel. (Foto: Verskaf)

Dit het eintlik alles as ʼn grap op die familie se WhatsApp-groep begin toe Tanya Griessel (50) van Klerksdorp, Noordwes, se skoonseun gesê het hy soek “ʼn skoonpa” wat saam met hom kan braai.

Hoewel John van der Westhuizen se skoonma se hande vir niks verkeerd staan nie, het hy en sy vrou, Bonita, saam met haar twee susters en dié se mans besluit die tyd het aangebreek om daadwerklik ʼn man vir hul ma te soek.

Só vertel Bonita (30) in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Ons is ʼn familie wat lief is vir braai en dit is hoe ons baie van ons tyd saam deurbring. John het ʼn grap gemaak en gesê hy soek ook ʼn skoonpa wat saam met hom kan braai.”

Dié grap het toe so ver gegaan dat Bonita en haar susters, Twanay van Wyk (22) en Chantell Pohl (34), uiteindelik ʼn aansoekvorm opgestel het vir hubare mans wat moontlik die perfekte pasmaat vir hul ma kan wees.

“Aan die begin het ons allerhande snaakse goed op die vorm gehad, want dit was sommer net tong in die kies en ons het lekker gelag daaroor. Later het ons besef ons is tog eintlik in ons harte ernstig daaroor om iemand te vind wat my ma vir ʼn slag op die hande kan dra, en het ons ʼn bietjie ernstiger gefokus op die kriteria,” vertel Bonita.

Die aansoekvorm vra al die belangrike inligting, soos naam en van, ouderdom en beroep. Dan is daar ook dieper vrae. “Was jy voorheen getroud? Indien ja, wat is die rede waarom jy nie meer getroud is nie?” lui die vorm.

“Dit is vir ons uiters belangrik dat ʼn man op hul ouderdom selfstandig en onafhanklik moet wees, net soos wat my ma is. Ek het al baie gesien dit is waarom sy sukkel om iemand te kry – sy is so sterk en onafhanklik dat baie mans dit nie kan aanvaar nie,” verduidelik Bonita.

“Sy is jonk van gees en absoluut dinamies met ʼn kreatiewe brein wat haar kinders en kleinkinders onder alle omstandighede eerste stel. Die man wat die perfekte pasmaat vir my ma gaan wees, gaan homself nie hierdeur laat intimideer nie.”

Volgens Bonita dink vreemdelinge gereeld Tanya is een van die susters wanneer hulle saam kuier. “Sy is ʼn vriendin vir ons en is altyd daar vir ons. Ons drie susters het in haar voetspore gelewe en sy het vir ons gewys wat is reg en verkeerd.

‘n Paar van die susters se versoeke in die aansoekvorm.

“My ma is altyd net ʼn oproep ver en is iemand met wie jy kan gesels en dinge deel. Ons is baie oop met mekaar en is deel van ʼn lojale, baie gehegte familie. Sy is nooit te oud vir enige uitdaging nie, sy weet hoe om te lag en grappe te hanteer. Dit is net lekker om saam met haar te wees,” sê Bonita oor Tanya, hoof van ʼn onafhanklike laerskool op Klerksdorp.

Bonita is die eienaar van dié skool terwyl John die Mike’s Kitchen-restaurante op Klerksdorp, Potchefstroom en Rustenburg besit. Daarom skerts hulle in die aansoekvorm dat aansoekers ʼn moontlike voordeel kan trek uit gratis restaurantetes en skoolfonds.

“Ons is ʼn tong-in-die‑kies‑, happy go lucky‑familie en die man wat by my ma pas, gaan daarvan hou om tyd saam met ons deur te bring,” sê Bonita.

Sy vertel ook dat Tanya ʼn bobaasbraaier is. “My ma is al vir so lank onafhanklik en kan self ʼn kaggel maak en ʼn vuur aansteek. Ons wil net hê die persoon in haar lewe moet vir ʼn slag vir haar kan sê om agteroor te sit sodat hy vir haar kan braai, want dit is waar alles begin het. Sy stel haar hele lewe lank ander mense eerste en ons voel dit is iets wat sy verdien, dit is haar kans op geluk.”

Klik hier om die volledige aansoekvorm te sien.

Voetnota: Maroela Media is nie op enige wyse betrokke by enige aspekte van hierdie inisiatief nie. Die familie hanteer alle keuring, kommunikasie en ander aspekte, sonder enige insette van Maroela Media. Navrae kan ook direk aan die familie gerig word. Die familie se e-pos‑adres is by navraag aan Maroela Media beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Renier

Kan Tanya braaibroodjies maak?

Chris

Mooi antie. Hoop sy kry gou iemand, of iemand kry haar gou.

Hendrik Marthinus

Pragtige Vrou
Jy Kan self n man kry, nie nodig om desperaat te wees nie
Skryf Dan liewer vir die volgende boer op boer soek n vrou

SkotePetoors

Ek dink nie dit is ‘n goeie idee om haar so te adverteer nie.
Julle maak haar weerbaar vir skurke.
Daar is baie onopregte mans en skurke daarbuite wat op haar gaan prooi.

ES

Ek dink dis ‘n oulike idee! Soos dit vir my klink is sy ‘n baie selfstandige vrou wat sal kan besluit of die man wat sy ontmoet, werklik ‘n goeie pasmaat sal wees.

Om jou droom maat te ontmoet is dalk net ‘n briefie of klik van ‘n muis weg.

Ek het my vrou ontmoet op sosiale media 7 jaar terug en ons is al 3 jaar getroud!