Geweld raak die samelewing in sy geheel

seun-huil

Foto: Kat J/Unsplash.com

Geweld is ʼn betreurenswaardige gegewe in ons samelewing, volgens Elmo Pienaar, direkteur van Coram Deo pastorale- en narratieweterapiesentrum in die ooste van Pretoria.

“Geweld gebeur orals, in alle ouderdomsgroepe, geslagte, en kultuurgroepe en is nie beperk tot spesifieke sosiaal maatskaplike groepe nie. Terwyl daar tans lig gewerp word deur ʼn nasionale fokus op geweld teen vroue en kinders, is dit so dat lig ʼn skadukant het wat ons nie sien nie. Ons moet onthou dat mans ook binne die gesinsraamwerk slagoffers van geweld kan wees. Dit sluit, onder meer, emosionele, fisiese, en seksuele geweld in.

“Die voorkomssyfer van mans wat deur hul vroue aangerand word, toon internasionaal ʼn merkbare styging. Hierdie groep is geneig om te swyg. Op internasionale vlak is daar ʼn skreiende kontras tussen die geslagte betreffende die hulp wat aan hulle gebied word soos in die vorm van toevlugsoorde.

“Die onderliggende faktore wat tot gesinsgeweld bydra, is legio. Dit kan dalk meer algemeen in sekere kultuurgroepe voorkom te wyte aan hoe mans en vroue in die samelewing gesosialiseer word. Dan moet daar ook gekyk word na die bestaande diskoerse in verskillende spesifieke omstandighede soos in ʼn egskeiding waar mans en vroue albei op verskillende maniere aan geweld in die gesin deelneem.

Daar kan nie veralgemeen word nie.

“Elke persoon wat hier by ons aankom wat ʼn slagoffer van gesinsgeweld is, se oorhoofse diskoerse word in ag geneem. Byvoorbeeld: in ʼn patriargale samelewing soos ons Afrikaanse mense s’n, is die pa in die verlede beskou as die hoof van die huis. Meermale neem dit egter die vorm aan van “baas.” In die verlede was daar min vroue en kinders wat ʼn pa sou teengaan. Maar, met sosiale veranderings wat plaasgevind het, veral met ma’s wat ook loopbane het, is hierdie diskoers nie meer iets wat net blindelings aanvaar word nie. Nogtans speel die nadraai daarvan steeds ʼn rol.”

Dit is maar een van die diskoerse wat ʼn bydraende faktor tot geweld kan wees, volgens Pienaar. Hy beklemtoon dat hul terapie daarop toegespits is om aan weerloses hul stem terug te gee daar waar samelewingsdiskoerse mense tot stilswye boelie.

“ʼn Persoon wat sy stem terugkry, wat voel hy word gehoor, herwin sy eienaarskap van menswees. Ons voer letterlik duisende gesprekke elke jaar wat hierop fokus. Baie hiervan het ʼn element van geweld. Daar is boeliery, emosionele afknouing en baie ander vorme van geweld wat op mense se lewens inspeel – ons sien dit elke dag.”

Pienaar wys daarop dat die teenoorgestelde van geweld konneksie is.

“Geweld ontneem ʼn persoon sy menswaardigheid, terwyl konneksie dit aan hom teruggee. Ons kom met narratiewe terapie by die persoon se storie uit, en help die persoon om (weer) eienaarskap te ontwikkel om met groter moed hul storielyn te kan verander.”

Hy verduidelik dat geweld alle lede van ʼn gesin raak: nie net die slagoffer en geweldenaar nie.

“Ons het verlede week weer in die media gelees van ʼn familiemoord… almal word geraak, ook die groter gemeenskap. Kinders het ʼn spanpoging nodig om gesonde gebalanseerde volwassenes te kan word,” sê hy.

  • Coram Deo hanteer jaarliks duisende stories van mense, oud en jonk, wat hul lewenservaringe positief wil pak deur die aanleer van die vaardighede wat hul benodig. Besoek www.coramdeo.co.za vir meer inligting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Ek dink ·

Ons is n stukkende land en n stukkende wereld. “Ek” het te groot geword en daar is geen plek of liefde vir ons naaste nie. En God? Hy bestaan nie eens vir die meeste mense nie. Sonder Hom verdor ons, ons vernietig onsself, maar ons hou aan dink ons is in beheer. Net Hy kan ons red en heel maak.

MTSteyn ·

Miskien van die punt af, maar sover my kennis strek word ‘Here’ in die Nuwe Testament in eenvoudige Afrikaans vertaal as ‘baas’. Jesus Christus is Baas van die ware volgeling se lewe.

Voordat Hy my Vriend kan wees, moet Hy eers my Baas wees. Meeste christene hou nie van hierdie idee nie, want dit rym nie met die gedeeltes wat hulle in die Bybel lees of Sondae in die Kerk hoor nie, maar Jesus Christus is die Baas van sy volgelinge; ek voer Sy opdragte uit en loop agter Hom aan. Soos ‘n goeie Baas, is Sy opdragte moeilik en druis meeste in teen my (sondige) natuur.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.