Gewone taal vir verbruikers

kontrak

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Verbruikersorganisasies waarsku verbruikers dikwels om niks te teken as hulle dit nie gelees het nie en navorsing het al bewys dat baie verbruikers nie die ooreenkomste of kontrakte wat hulle teken, lees of verstaan nie. Kontrakte bevat baie keer regstaal wat verbruikers nie verstaan nie, maar verbruikers is ook te skaam om te vra vir ʼn verduideliking. Ina Opperman verduidelik hoe die Wet op Verbruikersbeskerming verbruikers se reg op inligting in gewone en verstaanbare taal beskerm.

Verbruikers waarsku mekaar gewoonlik oor die ‘fynskrif’ in kontrakte, wat beteken ʼn mens moet oppas vir voorwaardes wat met jou regte as verbruiker inmeng. Fynskrif is egter nie meer toelaatbaar nie en regsterme wat net regslui kan verstaan ook nie.

Die reg tot inligting is een van verbruikers se basiese regte en baie verbruikersklagtes kan voorkom word as verbruikers die regte inligting het voordat hulle ʼn keuse maak.

Deel D van die Wet beskerm verbruikers se reg op blootlegging en inligting en artikel 22 beskerm hul reg op inligting in gewone en verstaanbare taal. Artikel 22 bepaal dat iemand wat ’n kennisgewing, dokument of visuele voorstelling aan ’n verbruiker voorlê, voorsien of vertoon, dit moet doen in die voorgeskrewe vorm en in gewone taal.

Wat is gewone taal?

Die Wet beskryf gewone taal as taalgebruik wat mense, met gemiddelde geletterdheidsvaardighede en minimale ondervinding as verbruiker van die betrokke goedere of dienste, sonder inspanning kan verstaan met inagneming van die samehang, omvattendheid en konsekwentheid van die dokument, sowel as die uitleg, vorm en styl, woordeskat, gebruik en sinstruktuur. Dit sluit ook die gebruik van illustrasies, voorbeelde, opskrifte of ander hulpmiddels in.

Verbruikers se reg tot gewone en verstaanbare taal sluit ook in dat die inligting aan hulle verduidelik moet word in hul moedertaal indien die inligting byvoorbeeld net in Engels beskikbaar is. Maatskappye moet met jou kommunikeer op ʼn manier wat jy verstaan.

Waarom is gewone taal belangrik?

Die uitdruklike doel van die Wet is om te verseker dat verbruikers billik behandel word. Die gewone taal-vereiste is daarop gerig om die billikheid van die proses te bevorder, sodat verbruikers hul eie belange kan beskerm wanneer hulle goedere of dienste by maatskappye koop.

Deursigtigheid is ʼn belangrike aspek van ʼn billike prosedure. Die klem op sekere terme, die grootte van die letters en die struktuur van die kontrak moet daarop gerig wees om verbruikers genoeg tyd te gee om na te dink oor wat in die kontrak staan en wat die implikasies daarvan is.

Wat beteken dit vir verbruikers?

Geen inligting wat aan verbruikers verskaf word mag dinge so wyd omskryf dat dit op verskeie maniere verstaan of geïnterpreteer kan ​​word nie. Die Wet bepaal dan ook as daar enige twyfel oor die betekenis van woorde of voorwaardes is, kom die voordeel van die twyfel die verbruiker toe.

Is dit net van toepassing op kontrakte?

Artikel 22 is van toepassing op alle inligting wat aan verbruikers verskaf word, soos produkinligting, produkhandleidings en kontrakte. Advertensies en bemarking is ook ingesluit en mag daarom nie enige onduidelikheid vir die verbruiker skep nie. Maatskappye mag nie oordryf nie en inligting moet maklik verstaanbaar, billik en eerlik wees.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake wanneer hulle meen hul reg om inligting in gewone en verstaanbare taal te kry, word misken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gevang ·

My vrou (oorlede) is deur Quality Vacation Club gevang dat sy nie lidmaatskap kon kanselleer. Nou lê hulle agter my bloed alhoewel hulle met haar ‘n kontrak gehad het. Ons was op huweliksvoorwaarde getroud. Nou skielik wil hulle die kontrak hê. Hulle kan blertus-mertus vlieg. Vf+ werk egter tans aan hierdie gedoente. Baie dankie aan julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.