Glo jy in toeval?

pierre-massyn-toeval-das-herbst

Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Dit is Februarie 1973. Ek is pas terug ná ’n jaar in die vloot, waarvan ek ses maande op die fregat, SAS President Kruger, die trots van Suid-Afrika se seevaart, gedien het. Ek stap grootoog en bebrild die kommunikasiekundeklas op die Kovsie-kampus binne.

Maar laat ek eers vertel van my ses maande op die SAS President Kruger. Gedurende dié tyd speel ek rugby vir my skip teen die Lorraine, ʼn besoekende oorlogskip van Frankryk. Ons skrumskakel is Jurg Wessels, wat ek in 1998 weer op die Suidpunt sou raakloop ná ons saam in 1972 op die SAS President Kruger gedien het. Die Kruger sink op 18 Februarie 1982, byna tien jaar nadat ek en Jurg opvarendes op Suid-Afrika se vlagskip was. Altesaam 16 bemanningslede is daardie dag saam met hul skip ʼn ewige watergraf in.

Merkwaardig genoeg, is ek op daardie presiese tydstip besig om in ’n kamp op Walvisbaai vir volk en vaderland te sweet.

Toevallig?

Dit voorlopig daar gelaat. Ons lektor in die kommunikasiekundeklas van 1973 was ’n deurtrapte Nat[1], hoogs intelligent, begaafd en bekwaam, en met ’n afsku vir Kommunisme. Sy naam was dr. Daniël Herbst, maar almal het hom op sy volle name se voorletters (DAS) geken.

DAS was ’n deurwinterde joernalis wat sy tande by Die Transvaler geslyp het. ’n Man uit een stuk. ʼn Broederbonder en ’n patriotiese Suid-Afrikaner, maar ook iemand met wie jy nie moes mors nie. Terloops, hy was die stigter en hoof van die Departement Kommunikasiekunde aan die Universiteit van die Vrystaat – baanbrekerswerk.

Ons verhouding het mettertyd gegroei, veral nadat ek by die SAUK begin werk het.

“Wil jy iets vir Suid-Afrika doen?” vra hy my eendag oor middagete in Johannesburg waar hy vir die Suider-Afrikaanse Vryheidstigting saam met Red Metrowich gewerk het, net voor die Inligtingskandaal Suid-Afrika geskud het – min of meer dieselfde tyd toe hulle my gestuur het om ’n storie met Eschel Rhoodie by die RAU te dek.

Ek luister na wat DAS in gedagte het. Hy brei uit. Die Amstels is yskoud. Hy kén sielkundige oorlogvoering en verduidelik verder. Hy was woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) en majoor in die intelligensie-afdeling. Hy sê ek moet gaan nadink oor sy voorstel. Ek het.

Op varsity het DAS ons geleer van die mag van die media, internalisering van konsepte, enkodering, dekodering, kondisionering, indoktrinering, die vorming van menings en ideologieë, propaganda, Joseph Goebbels se dinge, en baie meer. DAS het wyd gelees en sy kennis was diepgaande. Een van die talle boeke in sy biblioteek was Die Verbasende Bram Fischer deur Gerhard Ludi en Blaar Grobbelaar.

My en DAS se paaie het geskei toe ek eers Pretoria toe en daarna terug Suidwes toe is, na my geboorteland, waar ek my vrou, Tisha – ook per “toeval” – op die Windhoek-skou ontmoet het. Jare later sien ek DAS weer op TV waar Freek Robinson ’n ietwat onsmaaklike onderhoud met hom voer. Nie weer daarna nie.

Dr. DAS se dood het my geruk. As ek ’n mentor moes gehad het, sou dit hy wees – al was ek nie ’n Broederbonder nie. Berekenend en beredeneerd, dit was hy. Altyd rasioneel, nugter-denkend, nooit emosioneel nie.

Om terug te kom na al die “toevallighede” in my storie: Suid-Afrika het 53 miljoen mense, stellig meer as jy die ongeregistreerde onwettige immigrante bytel. Nou wat is die kans dat jy iemand se spoor 40 jaar later weer kan optel uit sowat 50 miljoen mense, dit jare ná sy dood, dekades nadat jy hom laas gesien het of met hom kontak gehad het? Daar was destyds seker nie meer as 40 van ons verwilderde nuwelinge in daardie klas van 1973 nie – wiskundig gesproke, seker om en by 0.005% van die bevolking. Of minder, dalk 1 uit 50 miljoen…

pierre-massyn-toeval-boek

Foto: Verskaf.

So gebeur dit dat my vriendin Christelle Faul van Fiksie en Fantasie op Bredasdorp vir my ’n boek opspoor, soos sy dikwels doen. Op Donderdag 5 Mei 2016 koop ek vir my Die verbasende Bram Fischer.

Toe ek die boek oopmaak, spring daar ’n naam uit: D.A.S. Herbst. Geskryf in sy eie onmiskenbare handskrif. Met die datum Julie 1967. Dit is om van hoendervleis te kry.

DAS het in die hele boek net een woord onderstreep, op bladsy 35: umKhonto weSizwe. Is dit moontlik dat hy van anderkant die graf vir my ’n boodskap probeer stuur? Of is dit suiwer ’n aanduiding van die aspek waarop sy groot intellek op daardie oomblik gefokus was?

Hoe dit ook al sy, die kringloop is voltooi. Watter groot “toeval” dat die persoon by wie Christelle die boek gekry het, op sy beurt weer die boek by DAS Herbst gekry het. En dat die boek weer by my beland, dekades ná DAS se dood, en 46 jaar nadat ons paadjies in 1973 vir die eerste keer gekruis het toe ek ’n rou eerstejaar was.

Serendipity. Gelukkige toeval.

  • Pierre Massyn is ’n navorser, amateur-historikus en kommentator.

Voetnota:

[1] Nat: lid van die Nasionale Party, afgekort van dié party se Hollandse naam: Nationale Partij),

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Hannah ·

“Toeval is GOD se manier om anoniem te bly” ALBERT EINSTEIN

OWO ·

Goeie skrywe.Lees gerus Amore Bekker se saamgestelde boek van Tjailatyd.Toe-Val-Lig.

Alet ·

Netjiese stuk skryfwerk. Maak mens sommer opgewonde wanneer jy besef daar is nog mense daar buite wat ons taal so goed kan gebruik soos die man.

Saartjie ·

Beste Pierre, dankie vir hierdie skrywe. Ek het heel lekker daaraan gelees, maar dit moeilik gevind om die merkwaardigheid van die ‘toevalle’ raak te sien.

‘n Mens kan beslis nie al die inwoners in Suid-Afrika in aanmerking neem om die vlak van merkwaardigheid te bepaal wanneer jy ‘n ‘toeval’ bespreek wat twee persone uit ‘n klein bevolkingsgroep raak nie. Die groep word nog kleiner wanneer jy in aanmerking neem dat albei persone gegradueerdes was. En dan die mees belangrike aspek – die boek waarom hierdie toeval wentel, handel oor ‘n onderwerp waarin net ‘n paar honderd mense uit genoemde groepe sou belangstel.

Dat jou ontdekking roerend was, betwyfel ek nie. Ek kan aan ‘n hele paar mentors dink – onderwysers sowel as lektore – wie se handtekening voorin ‘n boek my tot trane sal dwing.

Vertel nog, asseblief
Groete

Charles ·

Baie dankie vir ‘n wonderlike en interessante stukkie werk!

Frans C ·

Toeval of lukraak is iets wat nie deur mense voorspel kan word nie,maar nie iets wat buite
die die wete van ons Skepper val nie,want in die Bybel is geskrywe :Mat 10 29-30
“29“Wat dink julle sal iemand vir ’n mossie wil betaal? ’n Paar sent miskien, of hoe? Al is hulle vir ons so min werd, gee God tog baie vir hulle om. Kyk net hoe sorg Hy vir hulle. Nou nog ’n vraag: Wat dink julle, vir wie gee God die meeste om, vir mossies of vir julle? Ek hoef eintlik nie eens hierop te antwoord nie: 30God gee natuurlik duisend maal meer vir julle om. Van kop tot tone is julle vir Hom belangrik”.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.