Glo jy nog in wonderwerke?

‘n Inwoner van Oekraïne bid vir vrede (Argieffoto: Daniel Leal, AFP)

Die mens moet nooit dink dat oorlog, hoe “noodsaaklik” of goed-gemotiveerd ook al, nié ʼn misdaad is nie.

Kolskoot, Ernest Hemingway.

Derduisende beangste mense vlug op die oomblik voor die opmars van die “Rooi Gevaar”, soos ons die Russe, hier aan die suidpunt van Afrika, destyds tydens daardie smeulende dae van die Koue Oorlog genoem het. Die term het in onbruik verval na die val van die Sowjetunie, maar ons sien nou weer rooi al is pres. Wladimir Poetin se troepe in olyfgroen Oekraïne ingestoot.

Die wêreld steier nog na Covid-19 en nou moet ons skielik sin maak van iets ondenkbaar hier in die 21ste eeu; iets wat nie een van ons waarskynlik gedink het in ons tyd sou gebeur nie. Een magsbehepte man wat die wêreldorde kil en berekend probeer omverwerp.

Tamar Braxton sing in “Love and War”:

Somebody said every day was gon’ be sunny skies

Only Marvin Gaye and lingerie

I guess somebody lied

Terwyl ons almal met ons dagtake voortgaan, inkopies doen, oproepe maak, aanlyn vergaderings hou, of om ʼn braaivleisvuur sit, is talle mense, skaars 8 800 km met ʼn vliegtuig weg, byna oornag in ellende gedompel.

ʼn Foto flits oor ʼn internasionale televisiekanaal van ʼn Oekraïense ma wat haar sterwende sesjarige seuntjie teen haar bors vashou. Een van die talle afgryslike stories wat die afgelope week of wat die inhoud op elke denkbare digitale skerm dikteer.

Mense betoog reg oor die wêreld, selfs in Rusland; finansiële sanksies word ingestel; Oekraïne begin drupsgewys militêre hulp kry; vredesamesprekings vind plaas, maar misluk en so duur Poetin se aanslag voort.

(Argieffoto: Joseph Eid/AFP)

Die Russiese president se eweknie in Oekraïne verras die wêreld met sy weerstandigheid. Met nie drie jaar in die tuig nie, staan Wolodimir Zelenski nie ʼn duit terug vir die deurwinterde Poetin nie. Dié voormalige akteur word “dapper” genoem omdat hy nie net bakhand staan vir die Weste se hulp nie. “Nee,” sê Zelenski aan Joe Biden wat aanbied om met ontruimings te help. “I need ammunition, not a ride.”

Poetin het nog nooit ʼn oorlog verloor nie – sy troepe was die laaste twee dekades seëvierend in Tsjetsjnië, Georgië, Sirië en Krimea. Ontleders voorspel in die stadium Oekraïne gaan waarskynlik nog ʼn kepie op sy kerfstok wees. Sekerlik as daardie rooi kernwapenknoppie gedruk word.

John Steinbeck het gesê oorlog is ʼn simptoom van die mens se mislukking as ʼn denkende dier. Prof. Brian Ferguson, die bekende Amerikaanse antropoloog, verskil. Hy sê daar bestaan geen wetenskaplike bewyse dat dit in die menslike vesel (DNS) vasgelê is om wapens op te neem en kollektief dood te maak nie. Ferguson, wat spesialiseer in navorsing oor die oorsprong van oorloë oor dekades, glo selfs die totale uitwissing van oorlog is ʼn besliste moontlikheid. “Indien meer mense voorkomend sou begin optree, is die uiteindelike uitwissing van oorlog ʼn definitiewe teoretiese moontlikheid.”

Dit is early days, soos die Engelsman sal sê en enigiets kan nog gebeur.

Ek verkies om te glo ʼn wonderwerk kan steeds plaasvind.

Dink maar aan daardie sokkerwedstryd tussen die Duitse en Engelse soldate op Kersdag 1914. Toe die gewere in die loopgrawe laat sak is en jong mans vir ʼn paar uur van die hel om hulle vergeet het.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marthinus W ·

Sonder om pedanties te wees: dis Krim, nie Krimea nie.

So van die dapper Zelenski gepraat (hy openbaar meer dapperheid as Porosjenko): hoeveel mense het nie reeds onder sy hand en Petro Porosjenko se hand gesterf nie? Waar is Oekraine se opposisieleier? Onder huisarres, al vir n jaar. Is dit nie ondemokraties nie? En die vorige prez? Was onlangs ook gearresteer. (Poetin het aan hom asiel gebied). En word die mense in die Donbas nog steeds as “terroriste” en “untermensch” geklassifiseer? Beslis, dis waarom hulle vermoor word.

FM ·

Ek hou hiervan

“die mens se mislukking as ‘n denkende dier”

‘n dier is onvoorspelbaar

“Ek verkies om te glo ‘n wonderwerk kan steeds plaasvind”

Baie dankie Lizma.

Delia ·

Die mens is van nature n sondige wese. Wetenskaplikes sal dit nie vind in ons DNA. Want alles kan nie wetenskaplik verklaar word nie.
Die liefde vir geld en mag is die probleem.
Dis waaroor oorloë gaan. Die groot menere wat opdragte gee voel niks vir almal wat daaronder ly nie. Om van PTSD en trauma jare daarna nie eers te praat.
Mans wat opdragte kry en in die proses word duisende onskuldiges wat net n normale lewe wil lei so getraumatiseer. En onder die vaandel van wat????
Dieselfde vir ons eie bosoorlog van jare terug.
Mag en liefde vir geld en beheer.
Mag God ons genadig wees.

Sarie ·

Ten minste is Maroele eerlik. Daardie foto is n argief foto.

Karlahari ·

30 jaar terug as jy Rusland ondersteun het was jy links en n liberaal.
Nou volgens westerse pers is jy “VER REGS” as jy vir Putin ondersteun…..
Hoe ironies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.