Sakpas-idees vir Valentynsdag

Valentynsdag

Foto: Pixabay.com

Valentynsdag hoef nie ʼn duur storie te wees nie. Met ʼn bietjie kreatiwiteit kan jy dié spesiale dag sommer meer spesiaal maak. Maroela Media het aan ʼn paar idees gedink om jou te help met die beplanning van ʼn romantiese dog koste-effektiewe dag.

ʼn Skattejag vir jou skat

ʼn Mens kan baie doen met ʼn bietjie gom, papier en blinkertjies. Teken ʼn kaart wat jou geliefde na ʼn spesiale plek sal lei. Jy kan oulike leidrade vir elke punt uitdink, of selfs uitdagings wat hy of sy moet voltooi voordat die volgende punt bereik kan word. Dis opwindend en romanties, en jou kreatiwiteit en moeite sal baie waardeer word.

Fliekpiekniek in die tuin

Jy kort ʼn laken, projektor, ʼn matras of bank en stringliggies (fairy lights).

Verander jou agterplaas (of jou ouers se agterplaas) in jou eie persoonlike inry. Maak ʼn laken tussen twee bome vas sodat julle onder die sterre kan fliek kyk. Die stringliggies skep ʼn romantiese atmosfeer en iets te ete sal ook goed deug.

My liefde vir jou is soos die sterre in die hemelruim…

As jy nie lus is vir fliek-kyk nie, is sterre-kyk dalk reg in jou kraal. As jy skrikkerig is oor veiligheid in jou dorp, gaan lê sommer op jou grasperk of klim op jou huis se dak.

ʼn Foto spreek ʼn duisend woorde

ʼn Pragtige foto is altyd welkom, maar as jy mooi kan skilder of teken (of iemand ken wat kan), skilder of teken ʼn gunsteling-foto van jou en jou geliefde en sit dit in ʼn pragtige raam. Dis meer spesiaal as ʼn foto en sal julle liefde vir mekaar verewig.

Die korste pad na iemand se hart…

As ʼn restaurant jou ore van jou kop af gaan vra vir ʼn ordentlike maaltyd, sny sommer die middelman uit en kook self vir jou geliefde. Kyk gerus op Maroela Media se resepteblad vir idees – daar is ʼn verskeidenheid om van te kies en keur.

Wat geld nie kan koop nie

Maak koepons wat jou geliefde kan gebruik. Jy kan enige iets op die koepons skryf, byvoorbeeld 1 x soen, 3 x koffies, 5 x drukkies of 2 x masserings.

Musiek, musiek, musiek!

Maak ʼn musiek-album met liedjies wat presies sê hoe jy voel. Julle kan dit sommer saam luister om ʼn romantiese atmosfeer te skep en jou geliefde kan dit oor en oor luister ná Valentynsdag. Of nog beter, as jy ʼn instrument kan speel, doen die moeite om self ʼn liedjie te skryf. Jy kan dit saam met jou romantiese ete vir nagereg vir jou geliefde aanbied.

ʼn Blom vir my blom

Gaan loop ʼn draai in jou buurt en kyk of jou bure nie mooi blomme het nie. As jy so twee of drie blomme by elke buurman kan “leen”, gaan jy ʼn pragtige bos bymekaar kan kry. Moet net nie gevang word nie…

Hierdie is net ʼn paar idees, maar daar is soveel goed wat jy kan doen wat glad nie baie geld gaan kos nie. Solank dit met liefde gedoen word, sal jou geliefde dit waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.