10 maklike idees vir Valentynsdag

Indien jy vergeet het: Dit is môre Valentynsdag! Probeer gerus een van dié opsies om vanjaar se mees romantiese dag stresloos te laat verloop.

  1. Bly by die huis

Vermy dié jaar die oorvol restaurante en maak ʼn romantiese ete by die huis. ʼn Piekniek in julle tuin kan ewe lekker wees as om na ʼn deftige restaurant te gaan.

  1. Leer meer oor kultuur

Gaan besoek ʼn museum of ʼn kunsgalery. Dit kan interessant wees om jou maat se interpretasie van kuns te hoor. Daaruit kan jy leer deur watter oë jou maat die wêreld sien.

  1. Ontspan

Maak ʼn afspraak by ʼn spa om behoorlik te ontspan saam met jou maat. Bespreek ʼn massering waar julle albei in dieselfde kamer is – só kan julle rustig gesels terwyl julle ontspan. Om dit ekstra spesiaal te maak, vra die spa om ʼn bottel vonkelwyn by julle pakket in te sluit.

  1. Maak liefdeskoeponne

Maak ʼn paar koeponne wat jou maat die hele dag lank kan opeis. Die koeponne kan enigiets van ʼn rugkrap tot ʼn warm koppie koffie óf die maak van sy/haar gunstelingresep insluit.

  1. Los die werk

Maak ʼn plan dat jy en jou man albei op Valentynsdag verlof insit. Wanneer die kinders by die skool is, kan julle ʼn koffiewinkel gaan opsoek en tyd daar vertoef. Om dit nóg beter te maak, reël ʼn kinderoppasser vir die aand en geniet die hele dag lank gehaltetyd saam.

  1. Dink terug

Dink bietjie terug na toe julle ʼn jong paartjie was. Stof die trou-album af en blaai daardeur, of kyk weer ʼn keer na julle trouvideo en onthou al die goeie tye.

  1. Word aktief

Gaan doen ʼn staproete met ʼn piekniek aan die einde daarvan, of bespreek ʼn ysskaats-sessie by jou naaste ysskaatsbaan. Indien jy iets rustigers, maar tog aktief, wil doen, neem jou maat na die kegelbaan, julle kan daar sommer iets eet en drink ook.

  1. Gaan fliek

Wanneer laas het julle ʼn behoorlike fliek-ondervinding gehad? Trek gemaklik aan, koop springmielies, ʼn koeldrank, sjokolade en enige ander soetgoed waarvoor julle lus is. Sit terug en geniet die fliek!

  1. Verras mekaar

Gaan verras jou maat deur hom/haar ná werk op te laai en vir ʼn drankie te neem. Dit sal julle tyd gee om alleen te wees voordat julle by die huis kom.

  1. Kry ʼn tema

Stel ʼn tema vir die aand vas. Dit is ʼn goeie manier om iets nuuts te beproef. Probeer gerus ʼn Meksikaanse, Italiaanse of Asiatiese tema. Julle kan kos voorberei volgens dié tema, én julle kan volgens die tema aantrek en musiek luister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.