100 jaar oue ouma met nog baie woema

Anna Maria Martiz. Foto: Verskaf

Anna Maria Martiz. Foto: Verskaf

ʼn Ouma van Pretoria het onlangs haar 100ste verjaardag met styl gevier en bewys dat ouer mense steeds woema kan hê.

Anna Maria Maritz, wat in 1916 gebore is, woon tans in Queenswood in Pretoria en vermaak telkens haar drie kinders, 12 kleinkinders en 14 agterkleinkinders met nostalgiese stories oor tye wat lank verby is.

“Sy het my nou die dag vertel van die vloed in Weenen in KwaZulu-Natal. Sy het by ʼn vriendin gekuier. Die vloed was so erg dat verskeie mense dood is. Sy het vertel haar ma, pa en haar suster het op die huis se dak gesit omdat alles onder water was,” het haar kleindogter, Michelle Scholtz, aan Maroela Media vertel.

Haar 100ste verjaardag is onlangs by Blos Café in Pretoria gevier. “Daar was 101 gaste en sy het selfs ʼn toespraak gemaak en almal bedank wat daar was.”

Scholtz sê hoewel haar ouma soms bietjie krakerig en seer is, loop sy steeds die gange in die ouetehuis op en af sonder ʼn loopraam.

Oor hedendaagse se musiek het sy egter nie te veel te sê nie. “Ek dink nie sy weet wie iemand soos Lady Gaga is nie en ek dink ook nie sy sal baie beïndruk wees met haar keuse van kleredrag nie,” het sy geskerts. “Sy is maar ʼn klassieke dame wat nog altyd van klassieke musiek hou.”

Hoewel die familie ver van mekaar woon – party in Kanada en Wallis – is hulle steeds aktief betrokke in haar lewe. “Sy kuier meeste naweke by my ma of my tannie omdat hulle naby aan haar woon. Maar ons almal probeer haar so gereeld moontlik sien of bel.”

Sy skryf ook gereeld en maak handgemaakte geskenkies vir haar kleinkinders. “Sy het verlede jaar ʼn kombers vir my kind gebrei. Sy skryf ook graag stories van alles wat sy onthou in haar dagboek.”

Dié ouma het nog sommer baie woema, sê Michelle. “Sommige dae is natuurlik beter as ander. Maar sy is aktief en baie gesond. Ons hoop sy word nog jare vir ons gespaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.