100 wonderlike jare vir Hoërskool Klerksdorp

Hoërskool Klerksdorp, ʼn enkelmediumskool in Noordwes, vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar. (Foto: KHS Klerksdorp/Facebook)

In ʼn jaar wat buitengewone uitdagings voor onderwysers, leerders en ouers se deure gelê het, is dit verblydend om te sien dat skole steeds planne beraam om mylpale te vier.

Hoërskool Klerksdorp, ʼn enkelmediumskool in Noordwes wat vanjaar sy 100ste bestaansjaar vier, is een van die skole wat nie toegelaat het dat die Covid-19-pandemie sy gees demp nie.

“Die skool is op ruïnes en op ʼn manier ook op swaarkry gebou, maar dit het nie gekeer dat die skool groei nie. Ja, ons kry nou swaar, maar dit is ongelooflik om te sien hoe onuitblusbaar die kinders se gees is,” sê oudhoof Japie van Rooyen.

Hoërskool Klerksdorp is op die ou Konsentrasiekampterrein in die middedorp gebou en is op 21 Augustus 1921 amptelik geopen. Dié mylpaal is vroeër vandeesweek op ʼn veilige manier by die skool saam met omliggende skole, koek en ʼn kleurfees gevier.

Volgens Van Rooyen is een van die redes waarom die skool so suksesvol is te danke aan ʼn samehorigheidsgevoel. Hy getuig ook van ʼn ouergemeenskap wat die skool op ʼn onbaatsugtige wyse dien en sonder wie die skool met moeite sou voortbou.

“Hierdie eenheidsgevoel word geskep deur ʼn gedeelde waardesisteem en wedersydse respek,” sê Van Rooyen. “Afgesien van die respek wat onderwysers vir mekaar en vir die leerders het, is dit ook wonderlik om die sterk onderwyser-ouer-verhouding te ervaar.”

Van Rooyen tree in Februarie, ná 41 jaar by Hoërskool Klerksdorp, af. Hy onthou toe hy destyds as jong man ná sy tyd in die weermag by die skool begin het en regdeur sy loopbaan deur dinamiese mense gevorm is.

Hoogtepunte

Om hoogtepunte van vier dekades in een gesprek uit te sonder, is om die minste te sê onmoontlik. Van Rooyen deel wel ʼn paar gedagtes oor sy tydperk by die skool.

Hoërskool Klerksdorp se 100ste bestaansjaar is vroeër vandeesweek op ʼn veilige manier by die skool saam met omliggende skole, koek en ʼn kleurfees gevier. (Foto: Verskaf)

“Sukses is alledaagse dinge wat in die oomblik gevier word. Hoogtepunte wat vir my blywend is, is om glimlagte op kinders se gesigte te sit, om saam met positiewe en entoesiastiese personeel te werk en om te sien hoe oudleerders van die skool uitgaan en hul gemeenskappe dien.”

Die skool het ʼn stewige oes opgelewer wanneer ʼn mens na die sukses van oudleerders kyk. Tim du Plessis, Willie Esterhuizen, prof. Jacques Faul en Pieter Jansen van Vuren het almal hier matriek behaal.

Van Rooyen se boodskap aan Hoërskool Klerksdorp vir die toekoms is dat die skoolgemeenskap voortdurend en aanhoudend met passie sal voortbou aan die nalatenskap van die skool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.