Video: 11-jarige kraai koning by eerste Afrikaanse speletjieolimpiade

‘n Gelukbringer het reggestaan vir ‘n kiekie of twee saam met die deelnemers (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die Voortrekkermonument het Saterdag behoorlik gewemel van talle jong Afrikaanse bordspeletjiegeesdriftiges wat meegeding het as kampioene van die eerste Afrikaanse bordspeletjieolimpiade wat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) saam met die bordspeletjievervaardiger Spoetnik aangebied het.

Dit was die 11-jarige Maya van Schalkwyk van Irene, Centurion, wat uiteindelik die louere as die eerste Afrikaanse bordspeletjiekampioen behaal het.

Van Schalkwyk is ʼn tuisonderrigleerder en het meer as 50 deelnemers in die olimpiade uitgestof om te wen. Sy het met vier bordspeletjies, ʼn sertifikaat en ʼn toer deur die Voortrekkermonument as prys weggestap.

Die naaswenner was Arno de Beer, ʼn gr. 7-leerder aan die Laerskool Pretoria-Oos. Petrus van der Westhuyzen, ʼn gr. 8-leerder aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria het ʼn derde plek verower. Albei is met bordspeletjies onder die arm huis toe.

“Ons is baie opgewonde oor vandag. Daar is ʼn paar spanne van hoër- en laerskole wat ingeskryf het. Hulle speel verskillende bordspeletjies teen tyd,” het Andrie Steyn, eienares van Spoetnik, aan Maroela Media verduidelik.

Spoetnik het in 2015 sy deure geopen en “Boereplaas” bekend gestel. Die organisasie het in die afgelope paar jaar van krag tot krag gegaan en spog nou met talle speletjies op sy kerfstok.

“Boereplaas” leer kinders meer oor boerdery, ondernemingsgees, taalvaardighede en sosiale wisselwerking. Dit was ook die eerste speletjie wat deur die deelnemers geniet is.

“Tel jou woorde” is ʼn woordbouspeletjie van formaat, en André Steyn, verkoopsbestuurder van Spoetnik, het benadruk dat dié speletjie ʼn broodnodige deel van ʼn kind se opvoeding is, aangesien dit spel- en taalvaardighede oordra wat kinders nie andersins sou leer nie.

“TydToer” is ʼn spel wat jou geskiedkundige kennis uitdaag. “Jy sal verbaas wees hoe moeilik die speletjie is; dis ʼn lekker speletjie vir kinders én volwassenes,” het hy verduidelik.

“Patriot Troefkaarte” is ʼn prettige spel waar een deelnemer die kans staan om ʼn ander se kaarte te wen na gelang van wat daarop staan. Die een met die hoogste (of laagste) waarde word aan die wenner oorhandig, en die een wat die meeste kaarte in die hand aan die einde van die spel het, wen.

Spoetnik is verlede jaar deur die FAK vereer vir die bevordering van Afrikaanse bordspeletjies.

“Ons hoop ons kan dit ʼn jaarlikse aangeleentheid maak waarby hoër- en laerskole betrek word,” het hy gesê.

Kyk na ‘n video van die geleentheid hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.