11-jarige red tweelingboetie se lewe

Neill Visser (links), Luke en Carl de Montille (Foto: Verskaf)

ʼn 11-jarige seun van Johannesburg is vandeesweek deur Netcare vir sy “heldedaad” vereer nadat hy die lewe van sy tweelingboetie gered het.

Luke Bridle, ʼn laerskoolleerder aan die Polly Shorts-seunskool in Weltevreden Park, het dié toekenning ontvang nadat hy in September vanjaar voorkom het dat sy boetie, wat gestremd is en aan epilepsie ly, in ʼn bad water verdrink.

Shandré, die seuns se ma, vertel ʼn oppasser was besig om David te bad toe die voorval plaasgevind het.

“Sy het vir ʼn oomblik die badkamer verlaat om ʼn handdoek te gaan haal toe David ʼn epileptiese aanval gekry het,” sê sy. “My man was nie tuis nie en ek was op die pad – my hart het byna gaan staan toe ek die oproep ontvang het. David se hele liggaam was tydens die aanval onder water en hy kon verdrink het as Luke hom nie gehelp nie.”

Volgens Shandré het Luke onmiddellik in die bad gespring om sy broer se kop uit die water te haal. “Ons kinderoppasser [het die rumoer gehoor] en ook in die badkamer ingestorm terwyl Luke David se kop bo die water gehou het. Hulle het gesukkel om hom uit te bad te tel, en Luke het toe die badprop uitgetrek sodat die water kon uitloop. Toe hy uit die bad is, het hulle hom oor die oppasser se knieg laat lê sodat die water uit sy longe kon dreineer en Luke het hom op die rug geslaan sodat niks water agterbly nie.”

Shandré sê Luke het toe die noodknoppie gedruk om die veiligheidsmaatskappy na die perseel te ontbied en haar daarna gebel. Shandré het ʼn kursus in noodhulp-opleiding voltooi en het oor die telefoon aan Luke verduidelik watter stappe hy moet volg om te verseker dat daar nie water in David se longe agterbly nie.

Neill Visser, Brian, Shandré, David, Luke en Carl de Montille (Foto: Verskaf)

“Luke het deur die hele voorval koelkop gebly en seker gemaak dat sy boetie asemhaal. Hy het hom ook heeltyd gerusgestel deur te sê dat die nooddienste op pad is,” sê sy.

Adrian King, ʼn Netcare911-paramedikus, sê hy was “ongelooflik beïndruk” met die manier waarop Luke die voorval hanteer het.

“Toe die nooddienste op die toneel aankom, het Luke sy broer in die regte posisie gehou en deurentyd gemonitor dat hy bly asemhaal. Hy het alles gedoen wat nodig was in dié situasie – iets wat merkwaardig is vir ʼn kind van sy ouderdom,” sê hy.

King sê Luke het na sy boetie bly omsien selfs terwyl die paramedici besig was met hul behandeling. “Ons kon sien hy was baie bekommerd. Hy het heeltyd gevra of sy broer oukei is. Hy het konstant gesê: ‘Het julle nagegaan dat hy nog asemhaal?’ Hulle het ʼn nou band en dit was mooi om te sien.”

David is in die Netcare Olivedale-hospitaal opgeneem en het ten volle herstel.

“Ons het daarom besluit om dié heldedaad-toekenning aan Luke te oorhandig omdat hy ʼn voorbeeld is van hoe belangrik dit is om tydens ʼn noodsituasie koelkop te bly en rasioneel te dink,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

MERAAI ·

Pragtige storie,Luke ons almal is so trots op jou… liefies en strekte vir Boeta.

Helena ·

Wat ‘n mooi storie om te lees, dis nou wat jy noem ware broederskap.

Luke ek weet sommer jou boetie is baie trots op jou.

Barend ·

Hoekom is die oppasser nie ook op die foto nie? Sy het tog ook gehelp om David se lewe te red.

Blommie ·

Ek stem saam dat (indien moontlik) moet die oppasser ook vermeld word. Nogtans baie mooi dat sy boetie geweet het wat om te dien. Sterkte aan almal

Justice ·

Dit is nou `n uitstekende voorbeeld van iemand wat onder druk koelkop op sy voete kan dink – welgedaan Luke!

Susan ·

Sou oppasser afgedank het as sy vir my gewerk het. Nalaatig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.