[Foto’s] 12-jariges bou robot, ontwerp patente vir internasionale kompetisie

Die Fun-der-Splash-span saam met drie van die ouers se kinders (Foto: Maroela Media)

Die Fun-der-Splash-span saam met drie van die kinders se ouers (Foto: Maroela Media)

Vergeet van die televisie en rekenaarspeletjies! Fun-der-Splash, ʼn groep 12-jariges van Gauteng, neem binnekort vir die derde agtereenvolgende jaar aan die wêreldwye First Lego League Lego Robotics-kompetisie deel en benewens ʼn funksionele robot wat dié jongspan bou, het hulle as deel van die projek ook minstens twee oorspronklike patente ontwerp.

Minstens 60 ander lande neem jaarliks deel aan die kompetisie. Dié projek, wat die bou van ʼn funksionele Lego-robot behels, toets hoe die deelnemers as span saamwerk. Hierdie navorsingsprojek het ʼn globale tema en het die span verlede jaar tot op die drumpel van die finaal geneem.

“Selfs die manier waarop die spanlede met mekaar praat word streng beoordeel. Jy mag byvoorbeeld nie iemand in die rede val nie. Dit gaan ook oor hoe behulpsaam hulle teenoor ander deelnemers is en of hulle mense met respek behandel,” het Yolandé Kersop, ‘n ma van een van die deelnemers, gesê.

Die span is onder meer verlede jaar vereer vir hul ‘barmhartige professionaliteit’.

Spanlede van Fun-der-splash (Foto: Maroela Media)

Spanlede van Fun-der-splash (Foto: Maroela Media)

Elke span moet ‘n robot bou en elkeen kry ‘n bord met take wat die robot moet voltooi. Hy moet onder meer blokkies van een kant na ‘n ander kant skuif en trek- en stootaksies kan uitvoer, alles binne twee en ʼn half minute.

Die span het in 2014 die eerste plek met hul robot behaal.

“Vanjaar gaan ons wen! Ons het nou die dag ‘n besoek gedoen en gesien ‘n ander groep gebruik ‘n ouer programmeringsprogram as ons, dus hou ons duim vas,” het een van die jongspan geskerts.

“Ons wil al amper begin programmeer. Ons werk hard hieraan en hoop dit gaan op die ou end werk.”

Die laaste been van die kompetisie, ʼn navorsingsprojek, vereis dat spanlede ʼn probleem identifiseer en ʼn oplossing daarvoor vind. Vanjaar se tema is ‘Diere as bondgenote’. Die span het terapiehonde gekies.

Spanlede van Fun-der-splash (Foto: Maroela Media)

Spanlede van Fun-der-splash (Foto: Maroela Media)

“Ons het onder meer ʼn ouetehuis met terapiehonde besoek. Op een van die besoeke het ʼn terapiehond ʼn glipsie gehad en ons moes ʼn plan maak om dit op te los,” vertel nog ʼn spanlid.

Dié span het hul eie patent, ʼn ‘splash bag’, ontwerp. “Dié splash bag het ʼn sakkie met ʼn knippie wat aan die hond kan vashaak. In die sakkie is ʼn sponsie met ʼn geheime resep wat die glipsie kan opdroog. Wanneer dit opgevee is, is daar ook ʼn lappie om die laaste bietjie op te vee. Jy kan dit terughaak aan die hond tot jy weer naby ʼn asblik kom. Ander mense sal ook nie dink dis vreemd nie, want ons het dit mooi versier.”

Die spanlede moes vinnig met dié oplossings vorendag kom omdat hulle vinnig na die besoek moet aanbeweeg.

Benewens by die ouetehuis, kan dié splash bag ook op ander plekke handig wees.

“Terapiehonde word veral in howe gebruik en daar sal dié splash bag ook handig te pas kom. Terselfdertyd het ons agtergekom die hond mag dalk verveeld raak in die hof en nie noodwendig net daar wil lê nie en daarom was ons oplossing vir die probleem ʼn speelding.”

Maroela Media se Japie (Foto: Maroela Media)

Maroela Media se Japie (Foto: Maroela Media)

Al die elemente, onder meer die robot, die navorsing en die probleemoplossing en hoe hulle as span saamwerk, tel vir die finale berekening om die wenners te kies.

“Fun-der-splash is lekker, want ons leer om saam te werk, te deel, ons word bewus van probleme in ons omgewing en hoe om oplossings vir die probleme te kry,” het ʼn deelnemer opgemerk.

Die span neem op 12 November in Johannesburg teen ander streke deel. Die wenners dring deur na die SA’s, wat in die eerste week van Desember plaasvind en die nasionale wenners word genooi om oorsee deel te neem.

Vir meer inligting oor Fun-der-Splash, besoek hul Facebook-blad.

Stuur ook ʼn e-pos na [email protected].

Die Fun-der-Splash-span het Dinsdag Maroela Media se Japie, ons terapiehond, besoek om eerstehands te beleef watter verskil hy in die lewe van die joernaliste in die Maroela-kantoor maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie de Beer ·

Wow – 10 uit 10 aan die ouers vir hul motivering, ondersteuning en leiding – mag elkeen van hierdie pragtige kinders net sukses en voorpoed in die toekoms beleef. Voorwaar kinders om op trots te wees.

Toekoms ·

Hierdie kinders het n baie groot voorsprong in die lewe want hulle gaan nie bang wees vir innovasie en tegnologie in die toekoms nie, en hulle sal gereed wees vir wat voorle.

neelsie ·

Lekker om positiewe berigte te lees oor die jong mense.
Dit is wat n verskil maak in ander se lewens .
Alreeds op die pad na sukses.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.