13 sal kan hoor danksy Mandeladag-projek

'n Peuter wat 'n kogleêre inplanting gekry het (Foto: Tabercil/Wikipedia)

‘n Peuter wat ‘n kogleêre inplanting gekry het (Foto: Tabercil/Wikipedia)

Die Stigting vir kinders met gehoorverlies in Suid-Afrika gaan as deel van dié organisasie se Mandeladag-projek 13 mense, onder wie kinders en volwassenes, se operasies vir kogleêre inplantings betaal.

Die organisasie werk die afgelope paar jaar nou saam met die Eduplex-kleuterskool in Queenswood, Pretoria, wat kinders met gehoorverlies van mindergegoede gemeenskappe die geleentheid gee om dié skool by te woon en sodoende spesiaal geakkommodeer te word.

Mandeladag word jaarliks gehou met die boodskap dat elke individu die mag het om die wêreld te verander of ʼn verskil aan iemand anders se lewe te maak. Die veldtog vra mense om 67 minute aan liefdadigheid toe te wy vir die 27 jaar wat oudpres. Mandela in die tronk deurgebring het.

Ses kinders en sewe volwassenes gaan tussen Julie en November vanjaar die “lewensveranderende” operasie ondergaan.

Erika Basson, bestuurder vir die stigting, het gesê die stigting verbind hom daartoe om mense met gehoorverlies se lewensgehalte te verbeter. “Kinders wat byna heeltemal doof is, baat niks by gehoorapparate nie. Die enigste opsie vir die mense is die kogleêre inplantings wat hulle dan weer van ʼn gehaltelewe verseker. Dit is egter baie duur en mediese fondse betaal nie daarvoor nie, en dit is waarom die stigting betrokke raak,” het sy gesê.

Basson sê ook die ses kinders wat die operasie ondergaan, staan die kans om voortaan “normale” lewens te lei. “Hoe vroeër ʼn kind weer kan hoor, hoe groter is sy kans om sy taal- en spraakvermoëns te ontwikkel. Die kinders kan dan ingesluit word by ʼn hoofstroomskool en ʼn normale lewe lei.”

Die stigting het al meer as 100 sulke inplantings gefinansier en meer as 150 beurse aan minderbevoorregtes toegeken.

Vir meer inligting, of om betrokke te raak, besoek die stigting se webwerf en Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

M A ·

Kogleêre inplantings is puik maar byna onbeskostigbaar duur. Die eksterne proseseerder alleen het 2 jaar gelede R120000 gekos. Om die interne deel in te plant is n ure lange operasie en is ook vrek duur. Ek is so bly iemand skenk hierdie kans. Maroela, kan ons dalk meer hoor wanneer dié mense “aangeskakel” word, asseblief?

Yolandi ·

Dit is so lekker om iets positief in die nuus te lees. Mediese fondse is ook baie duur en dis jammer dat hul nie daarvoor betaal nie. Ek is dankbaar vir die mense wat vandag iets gee of doen om die lewe vir iemand anders beter te maak. Wens ons kon dit baie meer doen.

antjie ·

Kogleere inplantings is duur ja…maar glo my dit kan die wereld se verskil maak…. ek het een …en ek kan werk, op die telefoon en selfoon hoor…en n magdom nuwe klanke ens hoor…danksy n inplanting en ek is nie een oomblik spyt oor my prosessor nie

antjie ·

Ek het een ….ook as geskenk gekry….glo my dit maak die wereld se verskil. Uiteindelik kan ek hoor, werk en gesels op selfoon ens. Ek is dankbaar vir elkeen wat ook een gaan kry. Dit is ongelooflik amazing…om te kan hoor

Leon Pit ·

Dis is n wonderwerk van God af. My Vrou is so te sê doof gebore. Vir die 25 jr wat ek haar ken kon sy net gedeeltelik hoor en goed lippe taal kon sy lees, en toe een dag was haar gehoor net weg,sy het n koglea inplanting gekry en daar sit ek met n nuwe vrou wat geluide hoor wat vir haar nooit beskore was nie. Dis n nuwe begin vir elk een wat doof was om wee te kan hoor.

Philip ·

Ek is al sedert ek 15 jaar oud is totaal Doof en vandag trots op my status as Doofblinde,ek is tot enigiets instaat en meer as persone wat horend is.
Ek wens dieselfde betrokkenheid kan beweek word tot ‘n Nasionale Ontwikkelings Sentrum vir Doofblinde persone,hul familie en versorgers.Ek as Doofblinde persoon sal dan ook myself verbind tot die verbetering van lewens gehalte van Doofblinde persone.(Vlgens Stats SA is daar 920 000 persone wat binne die vlakke van doofblindheid is in SA.
Daar is baie werk wat gedoen moet word.Raak betrokke en maak die [email protected]

Susan ·

Regtig, MM, julle moet darem die berigte proeflees. Mandela was nie 67 jaar in die tronk nie! Nietemin, is hierdie die wonderlikste ding ooit! Vir daai mensies om te kan hoor, is meer as ‘n wonderwerk!! Knap gedaan! Sal ook graag wil weet wanneer hulle aangeskakel word! Dis ‘n grootse dag!

Landi Slatter ·

Dagsê Susan,

Dankie vir jou terugvoer! Ons vra om verskoning vir dié growwe fout en wysig die berig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.