14-jarige vereer ná hy pa help tydens rooftog

Neilen van der Merwe en Dayne Olsen het Matthew Booysen se sertifikaat aan hom oorhandig. (Foto: Verskaf)

Die brawe 14-jarige Matthew Booysen wat sy gewonde pa gehelp het selfs toe gewapende inbrekers hom gedreig het, is onlangs vereer met ʼn Netcare 911-sertifikaat vir sy heldedaad op dié betrokke dag.

Neilen van der Merwe en Dayne Olsen, paramedici by Netcare 911, het vir Booysen met die toekenning vereer by sy huis in Mulbarton, suid van Johannesburg. Volgens die paramedici wou Netcare 911 die jong man “vereer vir sy braafheid en omdat hy kop gehou het tydens die traumatiese ondervinding”.

Matthew se ma, Samantha Booysen, het gesê sy is dankbaar dat haar seun die erkenning kry wat hy verdien.

Ondanks die feit dat Matthew moes toekyk hoe sy pa geskiet word, sélf ʼn skoot moes ontduik én die aanvallers moes konfronteer, het hy steeds sy pa, Benny, gehelp en hom by die hospitaal gekry.

Benny het op 3 Oktober die skuifdeur van hul huis probeer sluit om indringers uit hul huis uit te hou, maar hulle het Benny eers in sy linker- en toe in sy regterskouer te skiet.

Matthew het alles gehoor en probeer skuiling soek en dit is duidelik aan een van die gate in die muur dat die indringers ook na hom geskiet het, maar gemis het.

“Toe Matthew agterkom dat sy pa geskiet is, het hy die mans gekonfronteer en hulle gesmeek om op te hou skiet. Die mans het aangedring om te weet waar die gesin se waardevolle items is en het aangehou om die huis te plunder. Matthew het hom nie daaraan gesteur nie, maar het sy pa gehelp deur handdoeke op sy pa se wonde vas te druk,” het Netcare 911 in ʼn verklaring gesê.

Daarna het Matthew sy pa tot by hul motor gehelp sodat hy hom hospitaal toe kon neem. Matthew kan nog nie bestuur nie en het met die motor in die motorhuis vasgery. Matthew het toe sy pa uit die motor en na hul kompleks se hek gehelp en daar begin skree om hulp.

“Veiligheidspersoneel het hulle te hulp gesnel en sy pa na die hospitaal geneem, waar sy toestand gestabiliseer is,” lui die verklaring.

Van der Merwe het gesê hulle was verbaas deur Booysen se braafheid tydens die voorval, veral omdat hy nog so jonk is en daarom wou hulle die toekenning aan hom gee.

“Matthew se braafheid en kalmte gedurende die voorval was ongelooflik vir my en my man, en ons is verskriklik trots op hom. Hy het nie ʼn idee gehad dat hy dié toekenning gaan ontvang nie, maar hy was so opgewonde dat hy dit die volgende dag saam skool toe geneem het om vir sy skoolhoof te gaan wys,” het sy ma gesê.

Benny is op 14 Oktober uit die hospitaal en sterk tans by die huis aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elize C ·

Trots op jou Boeta! As jy ouer was, het ek gesê: gee daai man ‘n Bells! :-) Jy verdien die toekenning.

Kyk met nuwe oe na Veertien Jariges ·

Absoluut Uitstekend & Dankie dat hy beloon word vir sy daad!! Goeie plan om my dogter van selfde ouderdom dalk die vakansie te leer motorbestuur en wapens te hanteer, uit die ervaring wat gedeel word is dit weereens duidelik ons moet opgewase word om ons self te verdedig maak nie saak hoe oud ons is nie..het heeltyd gedink sy is te jonk maar ek is vandag verkeerdelik bewys!!

leser ·

sterkte benny
dankie matthew, goed gedoen
dankie netcare vir julle om matthew te vereer
matthew ek hoop jou ouers kan jou so gou moontlik leer bestuur

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.